Disleksie: Lê die kognitiewe boustene vas

Boy reading 2

Foto verskaf aan Maroela Media

Goeiedag Susan

Ek het jou rubriek oor disleksie gelees. Ek benodig jou hulp, asseblief. Ek is nou al twee keer ingeroep skool toe oor my seun se vordering. Hy is nege en in graad 3. Hy het nog nie ʼn jaar herhaal nie. Ek het hom wel ʼn jaar later skool toe gestuur weens die feit dat hulle my ander twee seuns teruggehou het in graad 2, omdat hulle volgens die skool te jonk was vir die volgende graad.

Die onderwyseres sê daar is ʼn moontlikheid dat hy sy graad sal moet herhaal weens sy swak vordering. Sy sê ook hy sukkel om te lees, hy konsentreer net kort rukkies, sy handskrif is lelik en sy moet aanhoudend vir hom sê om sy werk te doen. Hy draai ook van sy letters om, soos b en d, p en q, en wanneer hy lees, klank hy eers van die woorde voor hy die woord uitspreek.

Hy het twee assesseringstake byna leeg ingehandig. Die onderwyseres vermoed dis omrede daar leesstukke in was. Sy sê hy kan lees, maar hy sukkel en verstaan nie mooi wat hy lees nie en dan kry hy te skaam om vir haar te sê hy verstaan nie. Hulle skryf elke Vrydag Afrikaanse en Engelse speltoetse en hy kry byna volpunte, so die onderwyseres sê hy ken sy werk. Hulle stel voor dat hy medikasie neem.

Ek wil hom nie graag Ritalin of sulke soort medikasie laat neem nie weens die newe-effekte en die feit dat hy asma het. Ek sal jou raad opreg waardeer.

Groete
Lorraine

Goeiedag Lorraine

Sukkel met lees, omkerings van b en d, p en q, swak leesbegrip en ʼn swak handskrif is alles tipiese simptome van disleksie.

Disleksie word dikwels as baie verwarrend en frustrerend beleef. Die kind kan hoogs intelligent wees en vakinhoud ten volle verstaan, maar vanweë die probleem nie in staat wees om toetse en eksamens te slaag, of take te voltooi nie. Gevoelens van mislukking, nutteloosheid en depressie is algemeen. Die onvermoë om te kan presteer kan ook intense angs veroorsaak, wat kan lei tot onttrekking aan leersituasies, of oorkompensasie op ander gebiede.

Gelukkig is daar hoop vir disleksie, as ons verstaan dat leer ʼn stap-vir-stap-proses is. Kinders moet eers sekere vaardighede aanleer, voor dit vir hulle moontlik is om daaropvolgende, meer ingewikkelde vaardighede te bemeester.

Ons het in die vierde deel van hierdie reeks rubrieke oor disleksie gekyk na die rol wat taal, konsentrasie, visuele en ouditiewe prosessering, en visuele geheue in lees en spel speel. Gaan lees dit gerus weer, want sonder twyfel sukkel jou seun met visuele prosessering, veral ruimtelike oriëntering (omkerings van b en d, p en q).

In die vyfde en laaste rubriek ondersoek ons ouditiewe, reeks-, ikoniese, korttermyn-, langtermyn- en werkende geheue, sowel as logiese denke.

Meer oor geheue

  • Ouditiewe geheue veronderstel die vermoë om inligting wat mondeling aangebied word te prosesseer, te stoor en te kan weergee.

Volgens Cindi Ringoen, ʼn Amerikaanse kundige op die gebied van breinontwikkeling, is ʼn swak ouditiewe korttermyngeheue dikwels die oorsaak van ʼn kind se onvermoë om met die klankmetode te leer lees.

“Die klankmetode is ʼn ouditiewe sisteem, en as daar tekortkominge in ouditiewe korttermyngeheue is, sal dit die kind verhinder om met die klankmetode te leer lees,” sê Ringoen.

  • Reeksgeheue verwys na die herroep van items in ʼn spesifieke volgorde. In reekse soos die dae van die week, maande van die jaar, ʼn telefoonnommer, die alfabet en in tel is die volgorde van die elemente van kardinale belang.

Aangesien elke woord uit letters in ʼn spesifieke volgorde bestaan, is reeksgeheue ongetwyfeld belangrik in die leesproses. Om te kan lees, moet ʼn mens die letters in volgorde waarneem, en ook onthou watter woord deur daardie lettervolgorde verteenwoordig word. Deur bloot die volgorde van die letters in name te verander, kan dit mane of amen word.

Baie leerders met leesprobleme het ʼn swak reeksgeheue. ʼn Studie, gepubliseer in die Journal of General Psychology (2012), het 33 dislektiese kinders en 33 normale lesers van dieselfde ouderdom met mekaar vergelyk en bevind dat die dislektiese groep se visuele en ouditiewe reeksgeheue beduidend swak was.

Nog ʼn studie, gepubliseer in die Archives of Clinical Neuropsychology (1999), het 24 persone met ouditiewe disleksie en 21 met visuele disleksie vergelyk met ʼn kontrolegroep van 90 deelnemers. ʼn Swak ouditiewe reeksgeheue was waarneembaar in persone met ouditiewe sowel as visuele disleksie.

  • Indien ʼn skrifreël vir ʼn breukdeel van ʼn sekonde voor jou geflits word, sal al die letters wat jy vir ’n kort oomblik daarna visualiseer, jou ikoniese geheue voorstel. Jou ikoniese geheue, saam met jou vermoë om te diskrimineer tussen voor- en agtergrond, bepaal jou oogspan. Oogspan is die aantal letters wat jy in ʼn oogopslag kan inneem.

ʼn Persoon wat lees se oë beweeg nie aaneenlopend met die teksreël nie, maar voer eerder ʼn reeks vinnige bewegings uit. Die Franse woord “saccade” wat “ruk” beteken, word gebruik om hierdie afwisselende fiksasies van die oë te beskryf. Hoe meer gereeld die oë moet fikseer (stop), hoe stadiger is die leesspoed. Regressies vind plaas wanneer die oë links moet beweeg om weer te kyk na woorde wat reeds gedek was.

ʼn Dislektiese persoon of swak leser sal geneig wees om meer dikwels te pouseer vir fiksasies, en die duur van elke fiksasie is gewoonlik ook langer as by die normale leser. Die dislektiese persoon is ook geneig tot meer regressies as ander lesers.

Die ontwikkeling van ʼn persoon se ikoniese geheue sal sy oogspan aansienlik verbreed.

  • Terwyl die meeste studies op die gebied van disleksie op korttermyngeheue fokus, naamlik op die vermoë om ʼn klein hoeveelheid toeganklike inligting vir ʼn kort periode in die geheue te stoor, het navorsing bewys dat persone met disleksie ook sukkel met langtermyngeheue.

ʼn Studie wat in 2010 in Dyslexia gepubliseer is, is gedoen deur 60 dislektiese kinders se prestasie op verbale en visueel-ruimtelike vlak te vergelyk met 65 normale lesers van dieselfde ouderdom. Die resultate van hierdie studie het daarop gedui dat die dislektiese kinders ʼn gebrek het aan kapasiteit ten opsigte van langtermyngeheue.

Lorraine, ʼn kind wat volpunte of byna volpunte vir speltoetse op ʼn Vrydag kry, net om dieselfde woorde ʼn week later verkeerd te spel, het tipies ʼn swak langtermyngeheue. Klink dit na jóú seun?

  • Werkende geheue dui op die vermoë om verskeie feite of gedagtes tydelik in die geheue te hou terwyl ʼn probleem opgelos word, of terwyl ʼn taak uitgevoer word. ʼn Mens gebruik byvoorbeeld hierdie werkplek in jou brein wanneer jy getalle moet optel sonder die hulp van pen en papier of ʼn sakrekenaar.

ʼn Navorsingstudie, gelei deur sielkundige Merav Ahissar, het 52 musikante bestudeer waarvan 24 dislekties was; die ander 28 was nie. Albei groepe was onderwerp aan ʼn verskeidenheid ouditiewe toetse. Alhoewel albei groepe ewe goed presteer het met die ouditiewepersepsietoetse, het die musikante wat dislekties is heelwat swakker gevaar in toetse wat ouditiewe werkende geheue getoets het.

ʼn Ander belangrike en konsekwente bevinding is dat probleme op die gebied van werkende geheue veroorsaak dat kinders sukkel om te begryp wat hulle lees. Lees is ʼn ingewikkelde vaardigheid wat die gelyktydige aktivering van verskeie prosesse in die brein vereis.

Logiese denke

Logiese denke is die proses van redenering wat ons gebruik om tot ʼn gevolgtrekking te kom. Probleme en situasies waarby logiese denke betrokke is, vereis struktuur, verbande tussen feite en aaneenskakeling van redenasies wat “sin” maak.

Logiese denke gee lesers die vermoë om afleidings te maak, wat vereis dat ons dit wat ons weet, gebruik om te probeer bepaal wat ons nie weet nie, of om “tussen-die-lyne” te lees. Lesers wat afleidings kan maak, gebruik leidrade uit die teks asook hulle eie ervarings om hulle te help ontsyfer wat nie direk gesê word nie. Logiese denke speel dus ook ʼn vername rol in leesbegrip.

Om af te sluit

Die brein is plasties. Dit kán verander en ontwikkel. Disleksie word dus nie veroorsaak deur ʼn permanente probleem in die brein nie, maar deur die boustene, naamlik taal, konsentrasie, prosessering, geheue en logiese denke wat lees en spel voorafgaan, wat nog nie ontwikkel en vasgelê is nie.

Lorraine, sonder toepassing beteken die aanleer van hierdie boustene natuurlik niks. Daarom moet ʼn kind óók geleer word om te lees en spel, nadat hy hierdie kognitiewe boustene bemeester het.

Groete
Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:
Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ‘n skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:
Susan du Plessis is ʼn opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde- en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webwerf met meer as 510 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gina ·

More, my kind het presies dieselfde probleem, Ritilin is def n no no. Oor die algemeen het my kind uitbarstings gehad en is alewig huilerig gewees. Ek het my DR geraad pleeg en hy het Concerta voor geskryf en ek is nie een dag spyt hy gebruik dit nie. Disleksie is onlangs bevestig en ek wil graag vir hom help met die lees en skryf maar weet nie waarom te begin nie. As enige iemand vir mykan email vir info sal ek dit waardeur. [email protected]. Baie dankie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.