Disleksie: Tree vir tree deur die leerproses

Foto: dreamstime.com

Foto: dreamstime.com

Goeiemôre Susan

Ek was so bly om op die artikel oor disleksie af te kom. My seun is nou in graad 1 en sukkel baie om te lees en skryf en veral om te klank. Ons het sy oë laat toets omdat ons gedink het dit kan die probleem wees, maar dit is nie.

Hy doen sy wiskunde 100 persent en is mal daaroor. Maar as dit kom by lees, raak hy so kwaad vir homself omdat hy sê hy kan dit nie doen nie. Byvoorbeeld, as hy moet lees, “My naam is Boet”, lees hy dit, maar as dieselfde woord in die volgende sin is, weet hy nie wat daar staan nie. Sy juffrou sê hy is moedswillig, maar ek ken my kind en ek weet iets is nie pluis nie. 

Asseblief, ek sal jou raad waardeer.

Groete          

Elna

Hallo Elna

Ons het verlede keer gesels oor twee belangrike beginsels wat nodig is om disleksie te verstaan: Die eerste is dat die mens niks weet en niks kan doen wat hy nie geleer het nie. Tweedens moet ons verstaan dat leer ’n laagsgewyse reeks gebeure is. Een vaardigheid moet eers vasgelê word voordat ons ’n daaropvolgende vaardigheid kan baasraak. Dis soos met ’n leer opklim: sportjie vir sportjie, anders val jy.

Taal: Die eerste sportjie van die lees-trapleer

Di dunia kini kita, tiap orang harus dapat membaca … As jy nie eers die taal Indonesies geleer het nie, is daar geen manier waarop jy hierdie Indonesiese sinnetjie gaan verstaan nie. Dit wys vir ons dat taal op die heel onderste sportjie van die leer is. Ons kan die rol van taal in lees vergelyk met ysskaats in yshokkie. ’n Mens kan nie yshokkie speel as jy nie kan skaats nie. Insgelyks kan ’n mens nie lees as jy nie die spesifieke taal goed ken nie.

Indien ’n kind se kennis van Afrikaans swak is, sal hy sukkel om dit te lees. Sonder doeltreffende opleiding om sy Afrikaans te verbeter, sal sy leesvermoë nie verbeter nie. Die literatuur is tot oorlopens toe vol van bewyse dat daar ’n verband tussen leesprobleme en taalprobleme is. Navorsing bewys, onder meer, dat 60 persent van persone met disleksie laat begin praat het. Ouers word dus aangemoedig om hulle kinders wye blootstelling te gee om taal aan te leer.

Die tweede sportjie is kognitiewe vaardighede

Terwyl taalvaardigheid die onderste sportjie van die leesleer is, is kognitiewe vaardighede die volgende een. Daar is ’n hele klomp kognitiewe vaardighede wat onontbeerlik is vir lees en spel:

AANDAG

Aandag, of konsentrasie, speel ’n krities belangrike rol in leer. Gefokusde aandag is die vermoë om selektief op een aspek van die omgewing te konsentreer terwyl ander dinge geïgnoreer word. Volgehoue aandag verwys na die vermoë om oor tyd jou aandag te fokus.

Omdat aandag so belangrik is vir lees, kom ADHD en disleksie dikwels saam voor. Om en by 25 persent van kinders wat gediagnoseer is met ADHD, ’n leerprobleem wat konsentrasie raak, is ook dislekties.

VISUELE PROSESSERING

Visuele prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit die inligting wat ons sien. Dis anders as probleme wat sig of visie insluit. Probleme met visuele prosessering raak die interpretasie of verwerking van dit wat ons met ons oë waarneem. ’n Kind met visuele prosesseringsprobleme mag 20/20-visie hê, maar sukkel om te onderskei tussen voorgrond-agtergrond, vorms, grootte en posisie in die ruimte. Hy mag ook sukkel met sintese en analise.

  • Voorgrond-agtergrond-diskriminasie is die vermoë om voorwerpe op die voorgrond en agtergrond waar te neem en hulle sinvol te skei. ’n Kind wat sukkel met voorgrond-agtergrond-diskriminasie mag sy plek op die bladsy verloor, of kan nie sy plek op die bladsy kry en behou nie.
  • Vormwaarneming kan beskryf word as die vermoë om vormverskille tussen onderskeie voorwerpe te kan waarneem. Dit is een van die mees basiese diskriminasievorme wat ’n kind moet kan maak. Enige kind met swak vormwaarneming het beslis ’n groot agterstand wanneer hy met skoolverwante aktiwiteite van enige aard gekonfronteer word. Daar is amper geen akademiese aktiwiteit te bedink wat nie van die kind verwag om vormwaarnemings te maak nie.

Die mees voor die hand liggende klaskamer-aktiwiteit wat vormwaarneming van die kind vereis, is lees. Letters van die alfabet leer, lettergrepe en woorde aanleer, sal ongetwyfeld moeilik wees as die kind probleme daarmee het om letters, lettergrepe en woorde se vorms te onderskei.

  • Grootte-onderskeiding. Die kind met probleme in hierdie gebied mag sukkel om onderskeid te tref tussen ’n hoofletter S en ’n kleinletter s.
  • Ruimtelike verhoudings verwys na die posisie van voorwerpe in ’n ruimte. Dit verwys ook na die vermoë om voorwerpe se verhouding tot ander voorwerpe akkuraat te bepaal. Iemand met probleme op die gebied van ruimtelike oriëntering mag dit moeilik vind om te onderskei tussen b, d, p en q.
  • Sintese en analise behels die vermoë om ’n voorwerp as geheel waar te neem, dit op te breek in dele en weer sinvol saam te voeg.

Die term visuele disleksie of diseidetiese disleksie word dikwels gebruik om ’n dislektiese persoon wat sukkel met visuele prosessering te beskryf.

OUDITIEWE PROSESSERING

Ouditiewe disleksie of disfonetiese disleksie, aan die ander kant, is terme wat gebruik word om ’n dislektiese persoon met ouditiewe prosesseringsprobleme te beskryf.

Ouditiewe prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit inligting wat gehoor word. Dis nie ’n onvermoë om te hoor nie, maar ’n onvermoë om dit wat gehoor word te interpreteer, te organiseer of te analiseer.

Probleme met ouditiewe persepsie kom oor die algemeen ooreen met dié in die visuele area en ons onderskei tussen die volgende:

  • Ouditiewe voorgrond-agtergrond-differensiasie verwys na die vermoë om dit te selekteer waaraan ons aandag wil gee en te ignoreer wat nie relevant is nie.
  • Ouditiewe diskriminasie verwys na die vermoë om te onderskei tussen eenderse en verskillende klanke.
  • Ouditiewe sintese en analise. Ouditiewe sintese is die vermoë om klanke of lettergrepe saam te voeg tot ’n woord. Die kind wat probleme het op hierdie gebied kan byvoorbeeld die klanke van die woord l-a-m-p apart uitspreek, maar kan die afsonderlike klanke nie saamvoeg om die woord lamp te vorm nie. Hy mag ook probleme ondervind met ouditiewe analise, oftewel die vermoë om die geheel van die woord wat ouditief waargeneem word, in sy afsonderlike (klank-) eenhede te analiseer (of op te breek); hy sal dus nie lamp kan klank nie.

PROSESSERINGSPOED

Prosesseringspoed verwys na hoe lank dit vat om dinge gedoen te kry.

Disleksie word verbind met stadige prosesseringspoed. Hermunder Sigmundsson en sy kollegas het twee simulasies van bestuurstoetse vir ses disleksielyers en 11 ander mense laat uitvoer. Daar was padtekens en hulle het op nagebootste plattelandse paaie en stadspaaie teen verskillende snelhede bestuur. Die span navorsers het waargeneem dat die dislektiese persone 20 persent stadiger reageer het op verkeerstekens op plattelandse paaie, en 30 persent stadiger op dié van stadspaaie, as die nie-dislektiese kontrole groep.

GEHEUE

Geheue is die berging of stoor van inligting oor ’n tydperk. Hoewel die woord “geheue” ’n “alles-of-niks”-proses veronderstel, is dit duidelik dat daar verskillende tipes geheue is, elk tot ’n mate onafhanklik van die ander.

  • Visuele geheue is die vermoë om visuele waarnemings te stoor en later, as die oorspronklike waarneming nie langer sigbaar is nie, weer te herroep. Dit beteken dat die persoon in staat moet wees om ’n duidelike beeld van die stimulus, byvoorbeeld ’n woord, in sy geestesoog te vorm, sodat wanneer die stimulus nie meer voorhande is nie, hy nogtans in staat is om dit duidelik en sonder enige hulp weer op te roep.

’n Goeie visuele geheue is onontbeerlik vir die opbou van ’n visuele “woordeboek” in die brein.

Goeie lesers kan woorde teen die spoed van lig herken wanneer hulle lees, omdat hulle die woorde in ’n soort visuele woordeboek geplaas het, sê Georgetown University Medical Center (GUMC ) se neurowetenskaplikes. Die visuele woordeboek-idee weerlê die teorie dat ons brein woorde klank elke keer wanneer ons dit sien.

GUMC-navorsers het die woordherkenning in 12 vrywilligers met behulp van fMRI-skanderings getoets. Die navorsers het bevind dat woorde wat verskillend is, maar dieselfde klink (soos “ly” en “lei”) verskillende neurone aktiveer. “As die klanke van die woord ’n invloed gehad het, sou dieselfde of soortgelyke neurone geaktiveer gewees het, maar dit was nie die geval nie. “Ly” en “lei” kon net sowel “ly” en “sop” gewees het. “Dit dui daarop dat, wanneer ons ’n woord eers ken, die visuele inligting al is wat ons gebruik en nie die klanke nie,” het hoofnavorser Laurie Glezer verduidelik.

Elna, volgende keer gesels ons oor ouditiewe, reeks-, ikoniese, korttermyn-, langtermyn- en werkende geheue, sowel as logiese denke, die ander boustene van lees en spel.

Groete

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected] Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ’n skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ’n opvoedkundekenner en ervare skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ’n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ’n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde- en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webwerf met meer as 495 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Susan ·

‘n Groot klomp verduidelikings oor hoe die brein werk maar geen raad vir Elna nie!
My kleinkind is reeds in graad 5 en vandat sy in graad 1 was het ek die hoof en onderwysers daarop gewys dat die kind sukkel om te lees en skryf. Hulle het skouers opgetrek en gese ek moet self iets daaromtrent doen want hulle is nie opgelei in daardie veld nie. Hulle sien die kind as stout en dat sy nie saam met die res van die klas wil werk nie. Sy is gespot en later geboelie oor haar onvermoe om te presteer en die onderwysers het dit afgemaak as dat sy daarvoor soek want sy baklei altyd – en eintlik was/is sy moedeloos omdat niemand na haar luister of vir haar omgee in die skool nie. Onderwysers behoort die eerstes te wees wat moet agterkom dat kinders disleksies is en dan saam met die ouers besluit oor die pad vorentoe. Met spesiale onderrig kan daar dan vroeer as later hulp vir hierdie kinders wees. Ons het my kleindogter by 2 kundiges laat toets en het ook ‘n reeks spesiale klasse bygewoon, maar dis duidelik dat selfs die kundiges ‘n beperkte begrip het en hoeveelheid hulp kan aanbied omdat hulle veld nie noodwendig die hele spektrum van disleksie dek nie.
Sterkte Elna.

Connie ·

Ek voel vir jou. My kind was ook disleksies. Gelukkig was daar skole naby. Soos Elize sê probeer haar / hom so vinnig as moonglik reediele skool te kry. Daai mense verrig wonders. My dogter het haar disleksie ontgroei as gevolg van hulle hulp. Sy werk met syfers en vrek nou oor lees. Baie sterkte ek ken daai magtelose gevoel.

Elize Coetzee ·

Sit die kleinman so vinnig as moontlik in n remediele skool (hoop daar is een naby julle) waar hulle in disleksie en ander leer probleme spesialiseer en jy sal jouself en vir hom baie traantjies, angs en frustrasie spaar. Dit het my 3 jaar gevat en baie terapeute later om my kind by die regte skool te plaas. Dis die grootste guns wat ek aan hom en myself gedoen het. Die lees en skryf kom baie mooi aan, die angs is minder en vir die eerste keer voel my kind dat hy kan cope.

KUILSRIVIER ·

EK OOK N SEUN MET DISLEKSIE MOET NOOIT MOED OPGEE NIE MY SEUN IS NOU 36 EN N GEKALIFISEERDE DIESEL WERKTUIGKUNDIGE EN HY SPEL NET VERKEERD NIKS FOUT VERDER MET MY SEUN NIE ,EK WEET OP SKOOL JAN KRIEL IN KUILSRIVIER NET DIE BESTE ONDERWYSERS WAT HOM GEHELP HET EN SY EKSAMEN WAS MONDELINGS AAN DIE ONDERWYSER AFGELE HY HET SY MATRIEK OOK IN 2000 GEDOEN . MOED HOU MOED HOU STERKTE

Alida Smit ·

My seun is ook ‘n paar jaar terug gediagnoseer met disleksie en ek het geweier dat hy mondelingse eksamen afle of moes rondloop met die idee dat hy nie kan lees nie. Na vele sukkel, baie trane en bid het ons by Edublox uitgekom! Hy het vir 2 jaar klasse bygewoon en hy het matriek geslaag met goeie gemiddeld. Hy studeer vandag as eerste jaar student op universiteit. Nege jaar later kon ek die simptome herken en baie vinnig my dogter by Edublox uitkry waar sy ook hulp ontvang het en ‘n baie beter presteerder is na die klasse. Laat jou kind assesseer en maak die besluit en opoffering om te sorg dat hy/sy elke week die klasse by Edublox bywoon. Hulle programme werk. Ek het twee kinders wat voorbeelde is dat DIT WERK!

Annemarie ·

Branden was altyd in die moeilikheid omdat ek gedink het hy luister nie.
Ek sou bv ‘n opdragte gelyk gee later besef dit is nie gedoen.. As ek vra waarom, sou hy sê hy het dit vergeet. By die skool is hy geterg omdat hy nie kon lees en spel nie en sy handskrif was onleesbaar. Hy wou nie meer skool gaan nie en gesê hy wil eerder dood wees as om gespot te word. Vir ‘n Ma is sulke woorde hartverskeurend.

Alles is probeer – van ‘n leesbril tot Ritalin met geen sukses. Die skool sielkundige het hom getoets en aanbeveel dat Branden na ‘n remediële skool gaan. ek wou nie.

Na baie navorsing het ek by Edublox uitgekom. Ons was verpletter om te hoor dat hy disleksies is met ‘n groot agterstand , ons was bang dat daar geen hulp vir hom sou wees nie. Branden het ‘n intensiewe 4 weke kursus by Edublox bygewoon.

Branden het van ‘n skaam, eensame kind met met punte van 1 en 2 (wat uiters swak is) verander in ‘n gelukkige wat baie goed doen in die gewone skool waar hy nog altyd was.

Edublox het ons kind ‘n kans gegee om ‘n gelukkige kind te wees, wat hou van skool , lees en spel. Maak ‘n draai by Edublox jy sal nooit weer terug kyk nie, daardie Engele (Susan en Personeel ) doen wonderwerke vir jou kind !

Nogmaals dankie Edublox wat julle vir ons gedoen het, ons en Branden sal julle nooit vergeet nie.

Sophia Coetzee ·

My kind is die afgelope 6 jaar in ‘n remediele skool, sy is disleksies. Ongelukkig is ‘n remediele skool nie die antwoord vir haar nie. Sy het tot nou toe nog geen hulp of bystand gekry nie. Die skool het nie die kennis om met disleksiese kinders te werk nie. Al wat ‘n remediele skool vir ‘n kind doen is om hulle te brand merk. Meeste hoofstroom skole wil nie kinders in hulle skool op neem as hulle hoor hulle was in ‘n remediele skool. Daar word gedink hulle is dom en het gedragsprobleme.
Na baie moedelose jare het ek op EDUBLOX afgekom. My kind is weer positief en het weer lus om te leer. EDUBLOX het ‘n groot verskil in haar lewe gemaak.

Carol Isaacs ·

Eks van Knysna omgewing my kind is in graad 8 Ek soek dringend hulp asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.