Doekebraai: Voor op die wa of bederfie vir pa?

(Foto: Pixabay)

(Foto: Pixabay)

Soos menige onderwerp wat babas en kinders betref, is die onderwerp van ʼn doekebraai ook ʼn gelaaide een wat baie verskillende menings uitlok.

Die idee van ʼn doekebraai het ontstaan om die pa van die nuweling ook by die viering van die koms van die pienkvoet te betrek. Hy nooi sy goeie vriende en familie uit vir ʼn braai en dié word dan versoek om elkeen ʼn pak doeke vir die bondeltjie wat op pad is as geskenk saam te bring.

Aangesien weggooidoeke ʼn duur item is en babas maklik ʼn pak doeke binne enkele dae kafdraf, help dié inisiatief ook om die nuwe ouers se finansiële las te verlig. Hoewel daar mense is wat mal is oor die idee, is daar ook menige wat glo dit is onvanpas om dit van jou gaste te verwag, veral wanneer die verwagtende mamma ook nog ʼn geskenkwenslys het vir haar eie babatee.

Soms word ʼn doekebraai apart gehou, maar baie keer word die doekebraai en die babatee gesamentlik gehou. Maroela Media het ʼn paar mense genader om te hoor hoe hulle oor die saak voel.

Anri Haasbroek sê sy en haar man het ʼn babatee en doekebraai saam gehou. “Almal het lekker gekuier en gebraai. Die mans het nie heeltyd saam met die vroue gekloek nie en ons het almal vermaak met heerlike speletjies.”

Sy glo paartjies moet deeglik voorafbeplanning doen en hul gaste genoeg tyd gee om vir geskenke en doeke te spaar. “Gaste hoef ook nie by duur winkels te koop nie. Ons het ook vingerhappies vir die gaste voorgesit en gesorg vir bykosse. Alles in die lewe is duur, maar ʼn mens kan steeds deelneem aan sulke dinge.”

Jolene Pretorius beaam dit. “My man se doekebraai was amper soos ʼn tweede rampartytjie en hy het hom met sy doekebraai gate uit geniet. Hy het worsbroodjies vir die gaste voorsien en almal het hulle drankies gebring. Dit was op dieselfde dag as my babatee, so ons vrouens het na die tyd saam met die mans gekuier.”

Sy voeg by dat dit elke ou wat uitgenooi word se eie keuse is of hy dit wil bywoon, maar dat jou ware vriende opdaag met ʼn groot glimlag en ʼn groot sak doeke. “Dit is nie meer 1950 nie. Pappas ry kinders rond, ruil doeke en doen middernagvoedings. Hulle help net so veel om die baba groot te maak soos mamma, so hulle mag ook ʼn viering hê.”

Pretorius sê hulle het genoeg doeke by die gaste ontvang om hulle te hou tot hulle seuntjie bykans agt maande oud geword het.

Marijke van Niekerk, wat swanger is met haar tweede dogtertjie, en haar man het ook ʼn gesamentlike doekebraai gehou. “Met ons eerste dogtertjie het ons ook omtrent agt maande se doeke by die gaste gekry. Jy raak nogal hartseer as daardie doeke begin opraak,” lag sy.

“Met dit wat ek nou weet, sal ek eerder met ons tweede babatee en doekebraai vra nét vir doeke, want dit is meer prakties. Ek het met die eerste baba ʼn hele hoop skoentjies net so ongedra weggegee, want my dogtertjie het dit nie gedra nie en dit was uiteindelik te klein vir haar toe sy begin skoene dra. Ek verkies maar die vervelige, praktiese geskenke eerder as die sogenaamde oulike goedjies wat mens nie regtig kan gebruik nie.”

Anita Oosthuizen sê sy dink ʼn nuwe pa moet ʼn braai hê waar hy saam met sy familie en vriende kan ontspan. “Die doeke is ʼn bonus, want dit is ongelooflik duur. Dit gee mans ook die geleentheid om deel te voel van die voorbereiding vir die baba se koms, want die eerste nege maande is dit net mamma en baba.”

Annemie Fourie sê hoewel ʼn doekebraai ʼn goeie idee is, is dit in vandag se tye net te duur om nog doeke ook vir ʼn verwagtende paartjie te koop. “ʼn Pak doeke draai al by sowat R200 en mense het skaars geld om hulself te vermaak. Dan moet jy nog ʼn behoorlike geskenk vir die mamma koop en baie keer word daar ook verwag dat jy jou eie vleis en drinkgoed na die braai toe moet bring.”

Karen Gibson stem met Fourie saam. “Ek begroot vir dinge soos om my motor te laat diens en ongelukkig nie vir ander mense se babatees en doeke nie. Laat mense ietsie gee soos hulle wil en kan. Geskenke behoort nie saak te maak nie, dit moet gaan oor vriende en familie wat saam die koms van ʼn baba vier.”

Andrea Bezuidenhout, die ma van ʼn drie maande oue babaseuntjie, vertel sy was ongelooflik dankbaar vir haar babateegeskenke en dat sy en haar man oorweeg het om ʼn doekebraai te hou, maar dat hulle uiteindelik daarteen besluit het.

“Ek was aanvanklik nie vreeslik gepla oor die verskillende handelsmerke nie, maar deur die proefmetode het ek vasgestel dat sekere handelsmerke net glad nie werk nie. So, dankie tog ons het nie soveel pakke van die een wat almal aanbeveel het gekry nie, want dit sou ʼn vermorsing wees! Ons moes dalk eerder ʼn Bepanthen‑ en Telament-braai gehou het, dit is die twee beste produkte wat ons lewens gered het tot dusver!” skerts sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kwikkie ·

……dit is inderdaad soos n tweede rum party. Mans gebruik die doeke braai net as n verskoning om oormatig alkohol in te neem.

waarheid1 ·

Die doekebraai ding werk nie vir my nie – dalk vir die super rich – dit is te veel van ‘n uitgawe met vandag se ekonomie.
Dit is ook die …. uit die hoender ruk.

Nou gaan ons braai? ·

Voorwaar het doekebraai nie in my tyd bestaan nie, maar ek dink dis ‘n oulike idee. ‘n Geskenkbewys van ‘n babawinkel kan ook werk as die ouers hulle eie doeke wil gaan kies. R200 is nou nie ‘n plaas se prys nie, en mens gee met liefde wat jy kan, want wat is nou meer wonderlik as ‘n nuwe lewetjie wat op pad is? Alles behoort nie in prysetikette omgesit te word nie, en jy kan dalk so 4 of 5 doekebraai uitnodigings in jou leeftyd kry, so jy gaan regtig nie hoef te begroot daarvoor nie…

nico k ·

Daar is, soos die kombuis tee, sekerlik nie ‘n probleem daar mee nie. Ja dit is duur, maar mens gee maar want ons het ook gekry toe ons getroud is. En as jy nie wil nie, dan hoef jy nie te gaan nie, maar dan mag jy ook nie nooi as jy gaan trou nie. Vrouens hou ook deesdae ‘n “bacholerette” as hulle gaan trou. (Weet nie hoe om dit te vertaal nie.) Dis nou na die kombuis tee en sonder die ou tannies.

POPSIE ·

Agge nee wat DIT IS VOOR OP DIE WA!!!!! moet ook nie vir my se wat jy wil he met geskenklysies nie……. ek sal koop wat ek kan bekostig.

Alida ·

Dit is baie snaaks die mans geniet hulle self gate uit by die vuur en……….alles wat daarmee saamgaan. Verspotte idee.

Marisca ·

Ek en my man het nog nie kinders van ons eie nie, maar ons doen alles saam. Ons is mal oor die idee van ‘n Babatee met Doekebraai want ons kan dit saam doen en bywoon, en tussen ons vriende beteken dit nie jy MOET doeke koop nie, die geskenk kom mos van jou en jou man af, en al wat dit eintlik in ons vriendekring beteken is dat die man en vrou kom braai en ‘n geskenk vir baba bring. . . Ek moet ook by se dat ons nog nie na x2 aparte kombuistee / doekebraai genooi is nie, maw waar dit net die vrouens en net die mans is nie. . En ja , die mans kuier (en soms oormatige gebruik van alcohol) maar binnekort is dit laat aande van opstaand en doeke ruil – ek gun hom dit. .

Lindtjies ·

Dit is ‘n nuwe vreemde idee maar nie noodwendig sleg nie. Koop maar ‘n kleiner pakkie pampers vir pasgebore babas. Daar is 27 doeke in die pak en dit is ideal om saam te vat hospitaal toe as die baba gebore word. Pryse wissel van R50 tot R60. Ons het maar so gemaak met 2 baba tees wat ons onlangs bygewoon het.

Louise ·

My man kan ‘n doeke braai kry die dag wanneer hy bereid is om doeke om te ruil ?. Veral nommer 2 doeke!

Esme ·

Dankie vir die oulike prentjie van moderne lapdoeke! Dis so maklik om te gebruik, mooi, beter vir die omgewing en vir baba en n kwart vd prys van weggooidoeke. Ekt 3 kinders groot gemaak met die moderne lapdoeke. Dalk kan daar n donasie gevra word om by te dra tot die koop van die moderne lapdoeke. Enig iets van R5 af.

Marieta ·

Sou mens in Ag neem hoeveel geld jy aan een paartjie spandeer Kan dit Nogals erg n mens se sak skud! Kombuistee, ramparty, trougeskenk, ooievaarstee en doekebraai – dit is rof!

LR ·

Ek dink ook dis voor op die wa. Ek en my man het nie die moed gehad om van mense te verwag om doeke EN n geskenk vir ons te gee nie. Ons sukkel nie finansieel nie maar het gevind dis juis die welgestelde mense wat sulke doekbraai partytjies reel…

Ronell ·

Noem my maar outyds, agter die tyd en wat nogal ook, ek gee nie om nie. Doekebraai is belaglik, so ook ‘n wenslys vir die babatee. Die toekomstige ouers wil die bondeltjie graag hê, so moenie verwag jou familie en vriende moet nou jou uitgawes dek nie. Hou op lui wees en koop lap doeke. Jou kleinding se boudjies sal nie so verwaarloos nie en dit gaan jou duisende spaar. Ek het na 3 maande voldag na my baba se geboorte weer begin werk, en het saans die al die doeke gewas. Sou daar doeke wees met nr 2 wat bietjie sukkel, is dit met groen sunlight seep ingesmeer, n uur of twee laat lê en daarna uitgewas, en siedaar weer spierwit. My kind het nooit brandboudjies of uitslag op vel gehad nie, omdat ek slegs materiaal doeke en vaseline gebruik het. Ja, ons was nie finansieel instaat om weggooi doeke te koop met beide my en my man se salaris, maar met die maande vooraf het ek elke maand 5 lap doeke aangekoop. Tydens my babatee is daar geen lysie vir gaste gegee nie, maar slegs gevra vir enigiets van ‘n houer babapoeier, vaseline, babaseep, sjampoe ens (al die bruikbare items). Daardie items het my twee jaar lank gehou, en weet julle hoeveel bespaar mens daarmee. So my opinie, verwagtende ouers, kom terug aarde toe, julle is nie spesiale spesies nie, stop jule luiheid of gierigheid met voorbarige lysies en weggooidoeke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.