Eerste skooldagfoto: Só lyk ons wennertjie

D'Neil Lassen van die Windhoek Afrikaanse Privaatskool. (Foto: Verskaf)

D’Neil Lassen van die Windhoek Afrikaanse Privaatskool. (Foto: Verskaf)

Om vir die eerste keer skool toe te gaan is ʼn groot mylpaal in elke kind se lewe. Daar is gewoonlik groot opwinding in die huis en die opgewonde haasbekkie én sy senuweeagtige ma is gewoonlik sommer al vroeg-vroeg uit die vere om aan te meld vir die eerste skooldag.

Die skoolklere word die vorige aand al gestryk en netjies uitgelê en die skoolskoene word blink gepoets, al bly hulle soms agterweë omdat boetie of sussie besluit om sommer die eerste skooldag kaalvoet aan te durf.

Marideen Lassen van Windhoek in Namibië vertel haar “kaalvoetklonkie”, die sesjarige D’Neil Lassen, het maar vir sy eerste skooldag gedwee sy skoolskoene vir die foto’s aangetrek.

D’Neil is aangewys as Maroela Media se eerste skooldagfoto-wenner vir 2020. Hy het sy skoolloopbaan aan die Windhoek Afrikaanse Privaatskool begin.

“Die eerste skooldag was vir hom ʼn heel nuwe ervaring, omdat hy gr. R in ʼn voorskool voltooi het.

“Hy was die dag voor die skool begin het baie stil, asof hy geweet het hier kom ʼn ding, maar nie seker was wat presies aan die gebeur is nie,” vertel Lassen.

“Hy was aanvanklik maar bietjie skaam omdat hy nie die maats en die juffrou geken het nie, maar hy het darem agterna vir my gesê dit was baie lekker. Hy het maats gemaak met die meisietjie wat langs hom sit en hulle het ʼn prentjie ingekleur, so die ys is toe op daardie manier gebreek.”

Lassen sê sy het op die ingewing van die oomblik besluit om vir D’Neil in te skryf vir die kompetisie en het vir niemand daarvan vertel nie.

“Toe ek die nuus kry dat hy gewen het, was hy buite besig om met ʼn maatjie te speel. Ek het hom geroep en hom vertel dat hy gewen het. Hy was uit sy vel uit!” sê sy.

Lassen sê D’Neil, wat ʼn tienjarige sussie en ʼn driejarige boetie het, spaar tans vir ʼn nuwe fiets. “Sy fiets is stukkend en hy wil só graag ʼn nuwe een hê, so hy sal beslis die wengeld wegsit tot hy genoeg het vir sy fiets.”

D’Neil wen ʼn kontantprys van R1 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

sannie ·

Dierbaar. Net in Namibië wat jy nog met die woord Afrikaanse skool gaan wegkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.