Eerste volwaardige kinderfees eersdaags aangebied

Wynand van Vollenstee, bekend vir sy gewilde rol as Gielie in die kykNET-reeks Ouboet en Wors, het ʼn gaping in die feesmark gesien vir ʼn volwaardige fees wat kinderteater spesifiek bevorder.

Hy het om die rede besluit om die Wêlakapêla Kinderfees, wat op 11 en 12 Mei in Johannesburg plaasvind, te begin. Die fees word by die Ruimsig-atletiekstadion, wes van Johannesburg, aangebied.

Só vertel Van Vollenstee, wat in samewerking met Mariaan du Plessis dié unieke fees van stapel gestuur het, aan Maroela Media.

“Daar is groot behoefte vir kinderteater en omdat ek so baie feeste bywoon met eie vertonings en ook tans saam met Lizz Meiring met die produksie Non met vakansie toer, het ek agtergekom daar is geen fees wat spesiaal net vir kinders is nie,” sê Van Vollenstee.

“Ek het self ʼn vierjarige seun en Mariaan het vier seuns. Tussen ons het ons ʼn redelike kroos en ons het ontdek ons het dieselfde passie vir kinderteater en ons het toe besluit om die projek saam aan te pak.”

Hy vertel hoewel die fees vir die hele gesin is, wou hulle graag ʼn fees skep waar die fokus op die kinders is. “Al die stalletjies is spesifiek vir kinders waar daar slegs kinderprodukte verkoop sal word. Die Tina Cowley-leessentrum, Hooligan Clothing en ʼn klein skoonheidsalon vir die dogtertjies sal ook beskikbaar wees. Daar is ʼn enorme opblaasbare speelpark, pretritte, ʼn spookhuis en ʼn speel-en lekkergoed-wonderland.”

Die ouers kan saam met hul kinders top-produksies soos Lollos, Tjiff & Tjaff, Poppekas deur Michelle Botha, The Light Warrior, ʼn teaterproduksie gemik op boelies, Die laaste mango en Gretha Pers geniet, of hulle kan ontspan in die kuierarea met ʼn glasie wyn of gin terwyl ʼn hele span oppassers na die kroos omsien.

“Ons het daagliks 24 uur-sekuriteit beskikbaar. Die badkamers word ook beman deur sekuriteit en skoonmaakpersoneel en die opblaasbare speelpark word ook deur kundiges beman. Daar is 15 toesighouers wat na die kinders omsien asook ʼn lost and found-stasie waar kinders kan aanmeld wat onseker is oor waar hulle ouers is.

“By aankoms by die hek kry elke kind ʼn bandjie waarop sy of haar ouers se telefoonnommers aangebring word. As ons nie die ouers oor die interkomstelsel geroep kry nie, sal ons hulle skakel op die nommers wat verskaf is op dié bandjies.”

Dié multikulturele fees kan tot 5 500 mense per dag akkommodeer. “Ons navorsing het getoon dat die meerderheid mense met kinders kaartjies by die hek aankoop, omdat hulle nie ver vooruit kan beplan vir sulke geleenthede nie. Ouers wil eers kyk hoe lyk die weer en of hulle kinders gesond is,” sê Van Vollenstee.

Om die kans te staan om ʼn kaartjie te wen, besoek Vol Vollenstee se Facebook-blad en gaan gee die Wêlakapêla-monstertjie ʼn naam.

Kaartjies is beskikbaar vir aanlynaankope by Webtickets en kos R175.

Die kaartjie sluit onbeperkte toegang tot die feesterrein, hoofverhoogproduksies, speelpark, stalletjies en pretritte in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.