Elektroniese speelgoed pootjie taalontwikkeling by babas

Wil jy jou baba en peuter se taalvaardighede? Bly dan liewer weg van duur elektroniese speelgoed. Foto: Aaron Mello/Unsplash.com

Deur Nicoline de Wet

Navorsers het bevind dat die onwikkeling van taal by babas meer bevoordeel word deur tradisionele speelgoed soos vormsorteerders, rubberblokke, houtlegkaarte en veral boeke. In teenstelling, veroorsaak elektroniese speelgoed, wat ligte laat flits, woorde sê en liedjies speel, stadiger taalontwikkeling.

Baie moderne gesinne met klein kinders in die huis is dit eens dat die tyd vir ouer-kind-speeltyd uiters beperk is vanweë werk- en ander verpligtinge. Daarom is dit baie belangrik dat kwaliteit tyd deurgebring word wanneer die geleentheid hom wel voordoen.

Navorsers het ʼn eksperiment ontwerp om die impak van ouer-kind-speeltyd met verskillende tipes speelgoed op taalontwikkeling te ondersoek.

Ses en twintig ouerpare met babas van tussen 10 en 16 maande oud is by die eksperiment betrek. Die speeltyd is nie direk waargeneem nie, maar oudio-opnames is gemaak. Die ouers het drie stelle speelgoed ontvang: elektroniese babaspeelgoed (byvoorbeeld baba-skootrekenaars, pratende diere of selfone vir babas); tradisionele speelgoed (soos groot houtlegkaarte, vormsorteerders en rubberblokke); en vyf hardekartonboeke met plaasdiere, vorms of kleurtemas.

Daar is bevind dat spel met elektroniese speelgoed gepaard gegaan het met minder kommunikasie tussen die ouers en die babas – minder woorde is gewissel as wanneer met tradisionele speelgoed of boeke gespeel is. Die babas het ook minder geluide geuiter wanneer hulle met elektroniese speelgoed gespeel het in teenstelling met boeke.

Ondanks ernstige leemtes in die studie, soos die klein steekproefgrootte, kan geldige afleidings wel gemaak word. Die studie wys dat dit beslis vanuit ʼn ontwikkelingsoogpunt nie die beste opsie is om duur elektroniese speelgoed te koop nie. Tradisionele speelgoed, en veral boeke, stimuleer kommunikasie tussen ouer en kind tot ʼn groter mate, wat taalontwikkeling bevoordeel.

Elektroniese speelgoed wat geluide naboots en ligte laat flits is uitstekend om die kind se aandag vas te vang. Dit ontmoedig egter verbale interaksie tussen ouer en kind.

Kommunikasie tussen ouer en kind is geweldig belangrik aangesien dit die ontwikkeling van taal en sosiale vaardighede by die kind stimuleer.

Bronne:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Breytie ·

Oor die jare het dit vir my duidelik geword dat baie ouers dink hulle kan ware opvoeding oorlaat aan gekommersialiseerde bronne wat moet “aandag” gee. Taalverwewing vind in die eerste drie jaar plaas en daar is net een metode, naamlik ouers, veral Ma, wat met die kind praat. Daarom is dit “moedertaal”. Daardeur verwerf die kind ook die “Universal Grammar” wat dit moontlik maak om ook ander tale te leer. Die feit dat ouers maklik sê hulle is te besig, veroorsaak een van die grootste menslike rampe van die moderne tyd. Daar is geen ander manier om die basiese moedertaal te verwerf nie, behalwe praat, gesels, vertel, lees en praat, praat, praat. Die voorwaarde is ook dat dit binne ‘n koesterende atmosfeer moet geskied wat slegs deur die ma voorsien kan word. Masjiene en oppassers kan dit eenvoudig nie doen nie.

Hannah ·

Stem saam met jou Breytie…. moet ook nie met jou kind babataal praat nie – praat van geboorte af goeie en suiwer Afrikaans – en moenie met Engelse woorde tussenin foeter! Terwyl ek nou so lekker skryf… wat meer is Breytie… ouers dink hulle kan hulself in die kind se grootword vervang met geld en allerhande ander snaakse goed! Kinders vra nie vir duur speelgoed, spoggerige klere, “fancy”kos nie…… ‘n kind vra van jou dit wat jy die moeilikste gee – naamlik jou aandag en jou tyd – betrokkenheid. Om by te voeg is daar ouers wat dink die skool moet hul kinders opvoed… hulle wat ouers is hoef nie dissipline toe te pas…LANGENHOVEN het gesê: “‘n Kind wat net op skool opgevoed word, is ‘n onopgevoede kind!” Die skool is komplimentêr tot jou kind se opvoeding – dit bly die ouer se veranwoordelikheid. Dan – ‘n vriendelike versoek aan die Pa’s van ons dag: Meneer – jou verhouding met jou dogter – onthou dat jy die eerste ma is in haar lewe – jy is veranwoordelik daarvoor dat haar verhouding met haar Skepper en mans reg deur haar lewe gesond moet wees. Sy sal met ‘n man soos haar Pa gaan trou eendag. Voel jy dat dit jou keuse vir haar sou wees? Wees bedag daarop Pa dat jou verhouding met haar baie gesond is – jy is die een wat waarde gee aan haar – en wat die koppe sal laat draai omdat sy in haarself glo!

Tommie ·

Hoekom kry mense kinders as hulle weet hulle het nie genoeg tyd nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.