Elke kind ʼn bousteen vir ʼn beter môre

kinders-pexels

Foto: Pexels/Pixabay.com

Deur Marda Oosthuysen

Die tyd is NOU! Dit is die tema waaronder Angus Buchan die Christene in Suid-Afrika byeenroep. Die tyd is NOU vir elkeen in Suid-Afrika om te besin oor die morele koers wat hy of sy kies, veral ten opsigte van die gesinslewe.

Die lede van die Dameskring beywer hulle vir die behoud en versterking van die gesin en in die lig van die toestand van die gesinslewe in Suid-Afrika is dit nóú die tyd vir die beplande Gesinskonferensie saam met die FAK op 4 Mei.

ʼn Stukkende Suid-Afrika is die gevolg van stukkende gesinne. Slegs een-derde van kinders word groot in huise waar albei biologiese ouers teenwoordig is. Huwelike verbrokkel teen ʼn geweldige tempo, die veilige hawe vir kinders is vinnig besig om te verdwyn. Die huisgesin is die kleinste sosiale kring met die grootste uitwerking op die samelewing en dít is die plek om te begin. Elke kind is die bousteen vir ʼn beter môre … en dit is in verantwoordelike ouers en volwassenes se hande om hierdie bousteen te versterk vir ʼn “beter môre”.

Die grootste gevaar wat kinderopvoeding bedreig, is die slegte voorbeeld van ouers. Hoe lyk die voorbeeld wat ouers stel? Is dit ʼn voorbeeld van vaste geloof en vertroue, betroubaarheid, respek, liefde, regverdigheid, eerlikheid, omgee, gehoorsaamheid en dankbaarheid? Is ouers altyd konsekwent in hul doen en sê?

In Suid-Afrika word 40% kinders by enkelma’s groot en 2,6% by enkelpa’s. Jeugkenners beweer dat die impak van onbetrokke pa’s op kinders beduidend is. Volgens hierdie kenners is bykans 70% van die krisisse waarmee hulle daagliks te doen kry te wyte aan ʼn afwesige of onbetrokke pa. James Dobson, Amerika se grootste gesinskenner, sê dat pa’s se betrokkenheid noodsaaklik is.

Daar is bevind, volgens die Nasionale Sentum vir verslawing en middelafhanklikheid aan die Columbia Universiteit (VSA), dat kinders wat ʼn swak verhouding met ʼn pa het, ʼn 68% hoër risiko loop om middelafhanklik te raak as dié wat ʼn goeie verhouding met hul pa het.

Gesinsverbrokkeling het tot gevolg dat ʼn groot persentasie kinders by hul ma’s grootword. Hierdie situasie het ʼn verwoestende uitwerking op gesinne.

Iemand het gesê: “My pa het my nooit vertel hoe om te lewe nie; hy het my egter toegelaat om na hom te kyk.”

Genl. Douglas MacArthur het gesê: “Ek hoop dat my seun my eendag sal onthou, nie omdat ek veldslae gewen het nie, maar omdat ek saans saam met hom gebid het.”

Jim Reeves het ʼn liedjie geskryf:

“One night a sleepy little boy knelt beside my bed
He smiled and looked into my eyes and this is what he said
Daddy, my daddy, you’ve taught me lots today
So daddy, my daddy, teach me how to pray.”

Elke ouer het ʼn keuse. ʼn Mens kan kies watter pad jy stap in die opvoeding van jou kinders, die manier hoe jy in jou huwelik optree, hoe jy teenoor jou naaste optree, teenoor die verkeerskonstabel … MAAR hierdie keuse het ʼn invloed op die toekoms van die gesinne, die kinders in hierdie land, want wat volwassenes doen en sê, dra by tot die boustene vir ʼn beter môre.

Die Bybel is die beste handleiding met ʼn verskeidenheid riglyne oor hoe die man en pa as hoof van die huis, die vrou en ma en die kinders moet leef. As gelowiges volgens God se voorskrifte leef, is God se beskerming oor die gesin gewaarborg.

Daar is geen kortpad na suksesvolle ouerskap en ʼn gesonde gesinslewe nie. Dit verg inspanning, geduld en baie gebede.

Iemand het gesê: “Gelukkige gesinne woon nie in huise nie, maar in tuistes. ʼn Tuiste is ʼn plek met liefde, warmte en onderlinge aanvaarding. Dit kan nie gebou word nie, dit word geskep.”

Jou kinders is die lewende boodskappe wat jy uitstuur om te weerklink, lank nadat jy self nie meer daar sal wees nie. Deur vandag te belê in die kosbare boustene, die kinders van Suid-Afrika, word ʼn beter toekoms verseker.

Kies jy om nóú betrokke te raak en ʼn verskil te maak?

  • Marda Oosthuysen is die voorsitter van Dameskring Suid-Afrika.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.