Elke ma is ʼn wondervrou

Argieffoto (Foto: ErikaWittlieb/Pixabay)

“En wie is ek?” vra ek my twee spruite. (Onderskeidelik twee en vier jaar oud.)

“Wonderwoman!” kom dit asof uit een mond.

Dankie my kinders! Dis wat ek nou nodig het.

Van jongs af was hulle versot op superhelde, tot pappa se vreugde. Elkeen kan op die naam genoem word en ek is seker daar is nog nooit so baie vir superhelde gebid soos in ons huis nie…  Elkeen in ons gesin het ʼn superheld-naam gekry. Ek was afwesig die dag toe daar vir my ʼn naam gekies is, maar duidelik weet hulle wat in mamma steek.

Ná meer as 40 dae van afsondering kan hierdie benoeming nie méér gepas wees vir enige ma nie, voel ek. Ek is op die punt om ʼn nuwe instelling te maak, na aanleiding van die applous wat elke aand om agtuur in sommige woonbuurte opklink vir mediese personeel, en dit is om negeuur in die aand te vra dat mense op aandag moet staan vir elke ma wat hulle alles gee in hierdie tyd. Van die oggend wat sy haar oë oopmaak tot sy hulle in die aand sluit, en selfs deur die nag weer êrens moet oopmaak.

Daar is ʼn video wat die ronde doen van ʼn werksonderhoud oor Skype met ʼn verskeidenheid mense – mans en vroue. Die onderhoudvoerder begin om vir hulle die pligte uit te lê. Dit sluit onder andere in om daagliks vir 24 uur, die hele week lank, aan diens te wees sonder enige breke, afdae of vakansies, en om selfs deurnag die persoon, vir wie hulle werk, te ondersteun en op te pas indien nodig. Die persoon moet kan kosmaak, stryk, klere was, administrasie hanteer, ens. Die posbenaming is Direkteur van Bedrywighede. Die persoon wat die pos vul moet basies ʼn graad hê in medies, finansies, administrasie en kuns.

Soos die onderhoudvoerder verduidelik, kan jy sien hoe die voornemende kandidate ongemaklik begin rondskuif en selfs histeries lag. Dit klink nie na ʼn lekker of regverdige werk nie. Een noem dit selfs onmenslik. Dis aan die einde van die lys van pligte wat die draaibal gegooi word: Jy moet bereid wees om verniet te werk. Daar is geen salaris nie.

Nou lag almal en skud hulle koppe en sê “nee dankie”! “Hierdie werk is nie vir my nie, want dis onmoontlik dat enigiemand dit alles kan regkry en nie eens vergoed word daarvoor nie!” ʼn Paar wil ongelowig weet of dit ʼn grap is. Die onderhoudvoerder skud sy kop. Dan sê hy daar is reeds iemand wat die pos vul: jou ma… Die kandidate se oë rek en party van hulle raak emosioneel en selfs tranerig.

Mens dink nooit só daaraan nie. Ons sien min alles raak wat ʼn ma vir haar kinders en gesin doen, meestal sonder enige erkenning en vergoeding.

Totaal aangedryf deur liefde vir haar gesin en ingebore moederlike instink.

In die afsonderingsperiode het ek besef waartoe ʼn ma wel in staat kan wees. Selfs meer as wat ek gedoen het voor die tyd. Ek het meestal ʼn nanny gehad om hand by te sit en darem te help met huisskoonmaak. (Ná hierdie afsonderingsperiode begin het, het my nanny, en enigiemand wat al geëmigreer het, my totale respek!)

In hierdie tyd moet ʼn ma nie net nog huisskoonmaak by al haar take voeg nie, maar ook juffrou wees. Party dae moet ek balanseer tussen skooltakies vir die oudste, die jongste besig hou, kook, huis skoonmaak, werk en vrou-wees. Dankie tog die afsondering het minder siektes tot gevolg gehad, anders kon ek seker dokter ook bygevoeg het.

Dis egter wanneer ek aan die einde van so ʼn mal dag kom en besef, ek lewe nog … en ek glimlag! (Oukei, nie altyd nie, maar meestal.) Dis dan wanneer ek begin dink: dis miskien hoekom daar nie baie vroulike superhelde is nie – ma’s het nie ʼn mantel nodig om ʼn superheld te wees nie. Ons is dit elke dag!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Patches

Moenie die wonder pappas vergeet nie ! Baie het net so hard saam gewerk. Maar ek stem , ons pediater het eendag mer die geboorte van my oudste die volgende stelling gemaak: jou moeilikste graad is jou MA graad , een wat jy net nooit klaarmaak nie! Al gaan dit partymaal rof hou ek van my verskillende poste en al waardeer my twee dit dalk nie altyd nie gaan hulle eendag ook dalk n mamma wees en dan besef waarom mammas partymaal die dag met kofffie begin en n glas wyn eindig. Cheers op al die mammas daarbuite!