Emigrasie: Bou so ’n band met jou kleinkinders op ’n ander vasteland

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

As jy ’n ouer is van ’n kind wat emigreer het, kan jy jou gerus op die skouer klop want jy het iets reggekry. Jy het die vermoë gehad om jou kind vlerke te gee om nie net in Suid-Afrika ’n sukses te maak nie, maar in byvoorbeeld Australië ’n sukses te wees. Dit is ʼn ongelooflike pluimpie vir jou as ouer.

Dit is die mening van dr. Sulette Ferreira, ʼn beradingsterapeut van Pretoria. Ferreira se werk by onkologieafdelings in hospitale in die Jakarandastad het haar ʼn passie laat ontwikkel vir langafstandrouberadingswerk.

“Dit was vir my opmerklik om te sien hoeveel ouers wat terminaal siek is se kinders in die buiteland woon en die vraag was altyd op watter stadium vra ons die kinders om terug te keer. Dit het my laat wonder wie is die ouers wat agterbly en hoe dink en voel hulle.”

Ferreira weet deur haar navorsing dat die hartseer wat emigrasie vir ʼn familie en vriende meebring nie sommer eensklaps met die swaai van ʼn towerstaf weggevee kan word nie.

Tog meen sy emigrasie is nie ʼn unieke verskynsel wat tot Suid-Afrika, waar ʼn geskatte 23 000 mense jaarliks emigreer, beperk is nie. Tot soveel as 3,5% van die wêreld se bevolking woon nie meer in die land van hul geboorte nie.

Die emigrasieverskynsel beteken wel dat ʼn groot aantal ouers en grootouers nou transnasionale ouers en grootouers word wat verskeie veranderinge en uitdagings tot gevolg het.

Ferreira het bevind daar is verskillende fases van die emigrasieproses en dat daar tog maniere is om die situasie ʼn bietjie makliker te maak vir die wat moet agterbly.

“Die eerste fase in hierdie proses is wanneer die ouers vir die eerste keer hoor hul kind wil emigreer. Daar is eintlik twee verskillende scenario’s wat plaasvind: Een waar die kind hul ouers van die begin af deel van die besluite maak en dan waar die kind tot op die laatste nie die ouers van die besluit vertel of hulle betrek nie.

“Geheimhouding van die besluit, omdat ʼn mens jou ouers en grootouers se gevoelens wil spaar, maak eintlik die proses net moeiliker, maar ʼn ouer moet besef dat betrokkenheid nie beteken jy kan namens jou kind besluit of emigrasie goed of sleg is nie. Jy moet ondersteuning bied en mag vrae vra soos het jy ʼn goeie werk in die nuwe land.”

Ferreira verduidelik die volgende stap in die proses is die fisieke weggaan: Dit is die hartseer by die lughawe. Haar raad is dat families en vriende vir hulself ʼn unieke wyse moet skep om die groet te hanteer. “Sommige mense verkies om tuis in privaatheid afskeid te neem en vir ander families is dit weer uiters belangrik om op die lughawe te gaan groet. Elkeen sal hul eie manier van doen hê en dit soos ʼn ritueel hanteer.”

Die derde fase in die proses is hoe ’n mens die verhouding in stand hou na die familielede verskuif het. “Hoe hou ’n mens kontak en wanneer en hoe gereeld sal daar gekuier word.”

Ferreira sê die tema van ’n deurlopende verlies is ongelukkig sterk by die mense wat agterbly na ʼn emigrasie.

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Kan ʼn mens die situasie beter maak? Beslis, Ferreira meen as ʼn kind sy ouer vertel het hulle gaan emigreer, kan hulle onmiddellik help om die tegnologie so op te stel sodat hulle steeds gereeld kan gesels.

“Internetkommunikasie soos e-posse, Skype, WhatsApp en FaceTime is ʼn manier om die verhoudingsbande te versterk. Dit is van kardinale belang dat grootouers vertroud raak met die digitale tegnologie en om die nodige vaardighede aan te leer om met hul kleinkinders te kommunikeer.”

Ferreira benadruk ook as daar kleinkinders in die familie is, kan ʼn ma of ʼn pa nie genoeg foto’s aanstuur nie.

“Dit is ʼn soort ’n dubbele kontrak, ouers moet vir die grootouers genoeg inligting en foto’s stuur sodat grootouers ʼn verhouding met hul kleinkinders kan bou, terwyl die grootouers onderneem om by hul kleinkinders betrokke te bly.

“Maak ’n vaste afspraak elke week vir kommunikasie sodat jy met jou kind of kleinkind wat oorsee bly kan gesels. Kry ʼn koppie tee en fokus net op die gesprek met jou kind of kleinkind.”

Gereelde kuiertjies, waar moontlik, help ook om die proses te vergemaklik omdat dit die fokus verskuif na wanneer ʼn mens mekaar weer gaan sien. “Dit help geweldig baie as ’n ouer weet my kind emigreer nou, maar Desember sien ons mekaar weer.”

Vind kreatiewe maniere om te kyk wat jy kan doen of leer om by jou kind of kleinkind in hul wêreld op ’n ander vasteland te wees. Ferreira meen ʼn ouma wat betrokke wil bly in die lewe van haar kleinkind kan haar skootrekenaar gebruik om die kleinkinders virtueel te leer om ou familie-resepte te bak.

“Jy kan ʼn sekere tyd van die week ʼn storie voorlees of saam ʼn bordspeletjie oor die internet speel. Dit help alles om kontinuïteit in die grootouer-kleinkind-verhouding te skep.”

  • Dr. Sulette Ferreira het twee ondersteuningsgroepe vir ouers van emigrante in Pretoria. Besoek gerus haar webwerf of Facebook-blad vir meer inligting hieroor.
  • Ferreira het onlangs in Maroela Media se ateljee kom kuier om te gesels oor die mense wat agterbly na emigrasie en hoe om die verhoudingsband te versterk. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.