Emigreer jy? Help jou kinders só om aan te pas

Foto: Steven Coffey/Unsplash

Kate Berger, kindersielkundige, sê kommunikasie is die hoeksteen van enige gesin wat in ’n nuwe omgewing moet aanpas. Dit beteken dat jy met jou kinders sal moet gesels oor wat hul vrese is en waarna hulle uitsien. Dit beteken ook dat jy voor die skuif al moeilike gesprekke oor die realiteite van die trek moet hê.

Enkele gesprekspunte kan insluit: Die verloor van ou vriende, moontlik minder kontak met oupas en oumas, die redes waarom die gesin emigreer, algemene onsekerhede en die impak van ’n nuwe werk en nuwe skole.

Reeds voor die fisieke trek word ’n groot deel van kinders se ingesteldheid vir die eerste ses maande in ’n nuwe land bepaal. Daarom is kommunikasie met jou kinders veral belangrik voordat julle trek.

Gelukkig het duisende ouers wat reeds dié pad moes stap, baie praktiese wenke oor wat om te doen sodra jy daar is:

1. Eerlikheid oor verwagtinge en onsekerhede

Om eerlik te wees oor wat jy weet en wat jy nie weet nie, is ’n geleentheid om vertroue tussen jou en jou kinders te bou. Wees eerlik indien jy nie weet nie of die nuwe skool meer pret gaan wees, die mense vriendeliker, en of dit moontlik gaan wees om elke jaar in Suid-Afrika te kom kuier.

Wees versigtig om verwagtinge te stel waarvan jy nie oortuig is nie en gebruik die geleentheid om saam na antwoorde te soek.

2. Skets uitdagings in ’n nuwe lig

As eerlikheid met jou kinders jou eerste stap was, is jou tweede taak om die uitdagings te herdefinieer. Dit is belangrik dat jou kinders se assosiasie met onsekerheid of nadelige faktore in ’n groter konteks geplaas word. Om ou vriende te verloor, beteken om nuwe vriende te kan maak. ’n Kleiner huis beteken julle kan dalk meer reis. Onsekerheid bou karakter en maak ’n mens meer aanpasbaar vir die toekoms.

Hoe ouers dié uitdagings verwoord, sê baie. Meeste ouers probeer ’n dekmantel voor werklike vrese hang of hulle is eerlik oor hul vrese, maar skep nie enige hoop nie. Enige probleem kan herverwoord word as ’n korttermynuitdaging wat ’n langtermyngeleentheid is om te groei, te verbeter of gelukkiger te wees.

3. Stel opsies

Gee jou kinders meer keuses. Laat hulle kies tussen die opsie om hulself by die nuwe skool te isoleer of om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem en ’n spul nuwe vriende maak. Laat hulle kies watter kamer hulle in die nuwe huis wil hê, of hulle ’n hond soek of waarheen julle met die eerste skoolvakansie sal gaan.

Kry ’n handvol dinge wat jy vir hulle kan gee om oor te besluit – dit maak hulle nie net deel van die proses nie, maar plaas ook gedeelde verantwoordelikheid op hulle oor die uitkoms van jul nuwe lewe.

Behalwe vir kommunikasie is daar ook praktiese stappe wat jy kan neem om jou kinders te help om vinniger aan te pas. Hier is ’n paar wenke van ouers wat al die klei moes trap om hul voete in ’n nuwe land te vind:

Roetine 

Die nommer een-raad vir ouers is om so gou as moontlik ’n roetine te skep. Bedien aandete op dieselfde tyd, stel ’n vaste tyd wat almal in die bed moet wees of maak Saterdae die dag om inkopies te doen.

Watter roetine jy ook al kies, sal jou kinders laat voel dat alles onder beheer is. Dit is ’n bonus as jy die roetine so na as moontlik kan maak aan hoe dit voorheen was. As jy en jou kinders elke Sondag met die honde gaan stap of roomys gaan eet het, maak dit onmiddellik ook deel van jou nuwe roetine.

Roetine het ’n groot sielkundige uitwerking en talle ouers stel voor dat jy jou kinders se kamers die eerste prioriteit maak wanneer julle uitpak. Maak hul kamers so snoesig en bekend as moontlik, help hulle om hul goed eerste uit te pak en help op hierdie manier om nie te voel dat alles deurmekaar is nie. Selfs al staan die res van die huis nog ’n paar weke onder die bokse is ’n kind se kamer die plek wat hom gaan laat veilig voel.

Taal

Taal kan ’n uitdaging wees, veral as dit kinders se derde taal buiten Afrikaans of Engels is. Doen moeite voor die trek om hulle taalklasse te laat bywoon, of al is dit net om hul Engels op te skerp (soos deur ’n aanlyn kursus wat hulle met spelling en uitspraak kan help).

Dit is egter belangrik om by jou kinders tuis te bring dat hulle steeds Afrikaans is, Afrikaans soveel moontlik moet bly praat en dat ’n nuwe taal bloot ekstra gereedskap in die gereedskapskas is. Die rede daarvoor is dat taal tot ons identiteit spreek en soos jou kinders stelselmatig ’n nuwe identiteit gaan vorm, is dit vir hulle belangrik om te weet: Om te trek verander nie jou menswees nie. Die nuwe identiteit mag dalk ’n gedeelde identiteit wees, of ’n meer veelsydige identiteit, maar taal is ’n belangrike anker wat jou kind nog soos hom- of haarself kan laat voel.

Kultuur

Gesinne wat hulself skielik in ’n nuwe omgewing en in ’n nuwe kultuur bevind, probeer dikwels so gou moontlik deel word of om by die nuwe gemeenskap aan te pas.

Alhoewel dit in ’n mate outomaties gaan plaasvind, is dit belangrik om die uniekheid van jou kinders se kultuur en identiteit aanhoudend te kweek. Daar is wêreldwyd gemeenskappe wat dekades of selfs eeue lank hul ankeridentiteit behou, terwyl hulle steeds as deel van die nuwe omgewing gesien word. Soos wat ’n Spaanse of Ierse gemeenskap in Amerika hulself as Amerikaners sal bestempel, behou hulle ook dikwels ’n gemeenskaplike herkomskultuur wat hulle unieke Amerikaners maak.

Só ook moet jy die weg baan vir jou kinders om oor veelsydige identiteite te beskik en ruimte gee sodat hulle kan wees wie hulle is.

In jou nuwe omgewing gaan julle plaaslike kultuurpraktyke begin aanneem. Spoor jou kinders aan om deel te wees, maar skep ook jul eie tradisies. Dit mag wees om steeds elke jaar Geloftedag te onderhou, Krugerdag met ’n braai te vier of een keer per maand nuusbrokkies oor Suid-Afrika saam te lees en dit te bespreek.

Tradisies vestig nie net ’n samehorigheidsgevoel nie, maar help ook jou kinders om plek vir hul veelsydige identiteite te vind.

Verhoudings met familie

Die laaste wenk is om gereelde kontak met familie en vriende wat steeds in Suid-Afrika woon, te hê. Of dit nou oor Skype is of met briewe, moedig jou kinders aan om soveel moontlik kontak met hul nefies en niggies, ouma en oupa of selfs ’n goeie skoolvriend te behou. Goeie verhoudings wat oor ’n afstand gehandhaaf word, skep hoop dat die goeie tye van die verlede nie verlore is nie; dat mens altyd weer kan gaan kuier en dat mens steeds in ’n familie-eenheid inpas.

Daar is soveel aspekte wat jou kind se lewe beïnvloed sodra hy in ’n heel nuwe omgewing geplaas word, maar onthou dat dit hulle vorm. Soek saam na ’n nuwe sin van standvastigheid en laat jou kinders toe om steeds hulself te wees, waar hulle ook al is!

  • Hierdie artikel is met die vergunning van Wêreldwyd geplaas. Wêreldwyd is ʼn platform vir elke Suid-Afrikaner wat tans in die buiteland woon, maar steeds in voeling met sy tuisland wil bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.