FAK hou geskiedenis-olimpiade

geskiedenis-ou-briewe-fotos

Foto: Free-Photos/Pixabay

Stel jy belang in geskiedenis of het jy dit as vak op skool? Dan het die Federasie vir Afrikaanse Kultuurorganisasies (FAK) die ideale geleentheid om jou kennis te toets en uit te brei.

Die FAK stel ’n Nasionale Afrikaanse Geskiedenis-olimpiade – ’n aanlyn toets vir leerders van gr. 8 tot 12 bekend. Die klem val op Suid-Afrikaanse geskiedenis met drie hoofafdelings, wat Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikanergeskiedenis en Westerse geskiedenis insluit.

Leerders kan nou reeds vir hierdie geskiedenis-olimpiade by Olimpiade.fak.org.za inskryf. Die toets word in Augustus afgelê.

“Dit gee die leerders kans om sekere bronne – soos Afrikanergeskiedenis.co.za – deur te werk en hulle kennis te toets. Die bronne sal later bekendgemaak word,” het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, gesê.

Die geskiedenis-olimpiade sal uit twee rondes bestaan. Die eerste ronde behels ’n aanlyn vraestel wat bestaan uit 150 punte met 150 multikeusevrae – 50 punte vir elke afdeling. Diegene wat deurdring na ronde twee skryf ’n aanlyn vraestel waar standpuntstelling, beredenering en algemene kennis getoets word. Om deur te dring na ronde twee moet ’n kandidaat minstens 80% in die eerste ronde behaal het.

“Alle deelnemers ontvang ’n deelnemersertifikaat. Almal wat deurdring na die tweede rondte ontvang ’n medalje sowel as ’n erkenningsertifikaat,” het Langner bygevoeg.

Daar is ook stewige kontantpryse op die spel vir die wenners: Die algehele wenner ontvang R10 000; die tweede prys is R5 000 en derde prys R2 500. Die wenskool ontvang R10 000 en ’n FAK-wisseltrofee vir geskiedenis.

Die wenskool sal bepaal word na aanleiding van die hoeveelheid leerders wat per skool deelneem en ’n sekere persentasie ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rooikoos ·

Fantasties! Ons jong mense moet weet waar die wortels van hulle Afrikanerskap le.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.