Fokus op gesinne noodsaaklik

gesin

Foto: Jill111/Pixabay.com

Deur dr. Henk Gous

Die FAK se konferensie oor “Gesonde gesinne vir ’n gesonde toekoms” kan nie op ’n beter tyd kom nie. Suid-Afrika het sulke nadenke tans baie nodig. Aan die negatiewe kant is daar tans baie kommerwekkende omstandighede rakende gesinne in Suid-Afrika wat ons moet raaksien. Maar aan die positiewe kant is gesonde gesinne juis een van die beste invalshoeke om ’n positiewe toekoms vir die hele Suid-Afrika te kweek.

Enkele tendense soos die volgende wys die rede tot kommer:

  • Altesaam 52% van gesinne in SA was in 2009 vaderloos. Hierdie kinders word dus grootgemaak sonder die emosionele en finansiële sorg van ’n pa. Hierdie vaderloosheid is minder in die wit komponent van SA, maar die 15% vaderlose gesinne onder wit mense is steeds uiters belangrik.
  • In 2014 was daar by 13 676 (55,4%) van die 24 689 egskeidings wat aangemeld is, kinders jonger as 18 jaar oud betrokke. Die getal kinders wat in 2014 deur egskeidings geraak is, word gereken op 22 218. Dis hartseer dat so baie egskeidings kinders se veilige hawe verbreek.  Die algemene syfer dat 50% huwelike in egskeidings eindig, is wel nie korrek nie, want in 2014 is 155 058 huwelike bevestig. Die tendens is dus nader aan 16%, maar elke kind daarby betrokke verloor veiligheid.
  • Die werkende komponent van ouers in SA is tans oorwerk en die lewe gejaagd. Die spanningslyn van werksdruk is byna ononderbroke omdat die tegnologie jou heeltyd in kontak met jou werk hou. Gesinne het dus minder tyd vir die gewone ouerskap van gesels en saam ontspan. Dan mors baie gesinne nog die bietjie tyd wat hulle saam is op TV en rekenaars. Hulle is dikwels passief in dieselfde vertrek en “afwesig”, al is hulle saam.
  • Die meer bevoorregte komponent van SA se kinders kry tans soms te veel fokus. Omdat die kindertal gedaal het na net een of twee kinders en die ouderdom van eerste ouerskap gestyg het na die dertigerjare, kry daardie kinders uiters gefokusde aandag. Ouers soek die beste skool en kerk. Kinders word oorlaai met stimulasie van babagim tot persoonlike afrigters in sport. Dis asof elke kind gekweek word tot ’n wonderwerk en toppresteerder, in kompetisie met ander ouers. Sommige kinders kry te veel, terwyl ’n breë massa te min kry.

Die “wonderwerkende” uitwerking wat gesonde gesinne op die toekoms van ons land en sy mense kan hê, moet tans uitgelig word. Hierdie konferensie is ’n stap in die regte rigting.

  •  Dr. Henk Gous is ’n afgetrede predikant wat deur die loop van sy bediening leraar was by die NG kerk Quellerina in Roodepoort, PUK-Kandelaar in Potchefstroom asook in Vanderbijlpark-Suid. Hy dien in ’n wye gebied in die NG Kerk as leier, waaronder voorheen moderator van die sinode van Wes-Transvaal, voorsitter van die Algemene Jeugkommissie en ondervoorsitter van die kuratorium van die Teologiese Fakulteit by UP. Naas jeugwerk is pastoraat en prediking fokuspunte in sy bediening. Sy sportsoorte is fietsry en stap, met natuur en avontuur as ander liefhebberye.
  • Gous is een van die sprekers wat sal optree by die FAK se Gesin-en-Familiekonferensie op 4 Mei. Lesers met navrae oor die konferensie kan vir Samantha Muller ‘n e-pos stuur na [email protected]

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.