Fokus van onderrig moet na ware leer verskuif

Deur Anelle Burger

Anelle Burger.

Die reg tot basiese onderwys is ’n universele mensereg, maar dit verskil van ons ander regte in een belangrike opsig: dit is die enigste reg met ’n verpligting. Jy kan kies of jy die reg tot godsdiensvryheid wil beoefen al dan nie. Jy kan kies of jy jou reg tot vryheid van spraak wil uitoefen en of jy eerder wil stilbly. Jy het egter nie ’n keuse ten opsigte van jou reg tot basiese onderwys nie. Die Suid-Afrikaanse Skolewet verplig kinders om vir nege jaar skool by te woon tensy hulle ’n vergunning ontvang het om tuis onderrig te word.

Me. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het in ’n konsulterende gesprek oor die Beleid vir Tuisonderwys (Roundtable Discussion on the Policy on Home Education) op 28 Februarie 2020 bevestig dat die departement ’n mandaat het om onderwys deur middel van die kurrikulum te lewer.

Ek het in 1994 gematrikuleer. Ek het geleer om my meerderes, geestelike leiers en die regering te respekteer. Ek het ook geleer dat ons leiers weet wat die beste vir ons is en om nie hul dade of bedoelings te bevraagteken nie. Ek was geskool vir die lewe deur ’n gehoorsame en onderdanige burger van ons land. Ek was die resultaat van onderwys deur middel van ’n staatsvoorgeskrewe kurrikulum.

Die Covid-19-pandemie het die krisis in skole en die onderwys weer eens na vore gebring. Talle skole is nie veilige ruimtes nie. Oorvol klaskamers en ’n gebrek aan lopende water en basiese sanitasie by ’n groot aantal skole is maar net enkele van die probleme wat ons in die gesig staar.

Skole is en was vir lang periodes gesluit en gesinne landwyd is bekommerd oor die veiligheid, gesondheid en opvoeding van hul kinders. Me. Motshekga het haar bes probeer om ouers se vrese te besweer met beloftes dat die kurrikulum gesny word en dat die akademiese jaar nie verlore is nie.

Tuisonderrig ondersteuningsgroepe is oorval met vrae van ouers van skoolgaande kinders. Die vrae wat die meeste geopper is, is: “Gaan my kind agter raak?” en “Sal my kind haar graad moet herhaal?” Hierdie vrese is tekenend van onderwys deur kurrikulum. Die skoolstelsel se fokus is op die lewering van inhoud vir voorgeskrewe vakke ten koste van ware of diep leer (learning).

Wat wil ons met basiese onderwys bereik? Ek glo die doel van basiese onderwys is om ’n persoon toe te rus om te kan leer met die doel om kennis en vaardighede te bekom en te verskerp. Dit moet jou leer om krities te dink en dit moet die natuurlike soeke na kennis – daardie nuuskierigheid wat in elke kind teenwoordig is – koester. Dit moet ’n grondslag lê vir toekomstige leer en behoort elkeen te bemagtig om sy/haar volle potensiaal te bereik.

Lank voor die pandemie ons getref het, het onderwysers al gesukkel om die kurrikulum te voltooi. Daar is nie tyd om op ’n grondpaadjie af te dwaal en ’n verwante onderwerp te bespreek nie. Dit wat ’n held in die storie, of ’n politikus in die nuus, of ’n historiese figuur gedryf het om op ’n sekere manier op te tree, kan nie bespreek word nie. Daar is bloot nie tyd nie. Die kurrikulum bepaal die tempo en al die boksies moet ten alle koste afgemerk word. Dié wat agter raak, word meedoënloos saamgesleep – gehawend en gekneus.

Moenie vrae vra nie, moenie ons bedoelings in twyfel trek nie. Neem in en gee weer. Dit is die resultaat van onderwys deur ’n swaar gelaaide kurrikulum. In gesprek met Zakiyya Ismail, aktivis vir selfgerigte leer/ontskoling (unschooling) en stigter van Growing Minds, het sy die term “monoculture of the mind” gebruik. Ons kinders word geleer om eenvormig op te tree in dade en in denke. In ’n land met ’n rykdom van diversiteit en ryp met potensiaal, is hierdie die slegste uitkoms denkbaar en in skrille kontras met ware onderwys.

Talle uitsprake is onlangs gemaak oor die behoefte aan sosiale en sistemiese verandering binne die skoolstelsel. Ek is van mening dat onderwys bevry moet word. Ons is gekondisioneer om te glo dat onderrig gelykstaande is aan leer (teaching = learning) en dat slegs gekwalifiseerde onderwysers ’n kind kan onderrig. Tog vind leer op enige plek en enige tyd plaas. Onafhanklik van onderrig.

Die gogo wat die buurt se jong kinders versorg, speel ’n kardinale rol in onderwys. Sy leer hulle van kleure, om te tel en blokkies op mekaar te stapel. Sy vermaak hulle met stories wat die verbeelding en karakter bou. Die buurvrou help dié wat leer lees en die tuinier om die draai leer die kinders van plant en oes, seisoene en insekte en om kos te verbou. Die mechanic, oftewel motorwerktuigkundige, is daar om te verduidelik hoe die petrolenjin werk en met Google in ons handpalms is inligting immer beskikbaar. Leer vind in gemeenskappe plaas. Daar is ’n magdom wysheid en kennis wat ontgin kan word as ons net die geleentheid daarvoor skep en die nodige ondersteuning bied.

Deur ’n kind se nuuskierigheid te koester en hom/haar toe te laat om sy/haar belangstellings te volg en self na antwoorde te gaan soek, sal ons ’n generasie skep wat vryheid in denke ervaar. Ons sal ons kinders verlos van bakhand staan vir ’n skeppie kennis.

Dis tyd om die fokus van onderrig na ware leer te verskuif. Eers dan kan ons sien hoe ’n generasie jongmense hul vlerke sprei en sweef.

  • Anelle Burger is ‘n tuisonderrig-ma met vier jaar ondervinding. Sy is woordvoerder vir Cape Home Educators, ‘n vereniging wat tuisonderrig-gesinne in die Wes-Kaap ondersteun en hul belange bevorder. Sy is ook die aanbieder van The Homeschool Lounge se YouTube-kanaal, waar daar op tuisonderrig in Suid-Afrika gefokus word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Madeleine

Stem so Saam met jou.

Kremetart

Vir seker is hierdie die regte manier van leer vir leergierige, intilligente en hardwerkende kinders. Ek raai ongeveer 90% van kinders moet egter met ‘n lepeltjie gevoer word.