[Foto’s] Graad een, hier kom ons!

Maroela Media het by die Laerskole Rooihuiskraal en Anton van Wouw gaan kuier om te hoor wat gr. 1's van hul eerste skooldag sê (Foto: Maroela Media)

Maroela Media het by die Laerskole Rooihuiskraal en Anton van Wouw gaan kuier om te hoor wat gr. 1’s van hul eerste skooldag sê (Foto: Maroela Media)

Vandag word sosiale media en Whatsapp-groepies oorval met foto’s van haasbekkies, dogtertjies met vlegsels en poniesterte en blinkoogseuns wat reg is vir hul eerste skooljaar. Maroela Media het by ʼn paar laerskole in Pretoria gaan inloer om te sien hoe dié klomp graadeentjies se eerste skooldag verloop.

By die skool aangekom is dit chaos, maar die padpatrollie se A-span staan gewapen met stoptekens terwyl ʼn dogtertjie hand in die lug “stop” gil. Ouers stroom by dosyne by skoolhekke in terwyl sesjariges hul enorme tasse op hul rug probeer hou.

En dan, wanneer ʼn mens een van die klasse betree, is daar ʼn kalmte en amper ʼn vrede wat heers. Die graadeentjies kleur prentjies van kameelperde in en gesels saggies onderlangs met mekaar. Die juffrou is so koel soos ʼn komkommer.

Maroela Media het by die Laerskole Rooihuiskraal en Anton van Wouw gaan kuier om te hoor wat gr. 1's van hul eerste skooldag sê (Foto: Maroela Media)

Maroela Media het by die Laerskole Rooihuiskraal en Anton van Wouw gaan kuier om te hoor wat gr. 1’s van hul eerste skooldag sê (Foto: Maroela Media)

Vir Lisa Goldberg (6) van Laerskool Rooihuiskraal is graad een reeds lekker en sy gesels met selfvertoue met al die kinders om haar tafel.

“In my Barbie-tas is daar ʼn kosblik, my waterbottel en boeke. En ek dink mamma het ook ʼn baadjie ingepak. Mamma het ook vir my Kit-kat ingepak, maar net ʼn kleintjie want sy sê ek moenie te veel suiker eet nie,” sê Lisa.

En hoe het Lisa se ma die oggend ervaar?

“Mamma het net ʼn bietjie gehuil, maar toe sê ek vir haar ‘be strong, mamma!’”

Juffrou Nikki van der Vyver, wat al vir sewe jaar klasgee, sê om ʼn graadeenjuffrou te wees is wonderlik. “Om met hulle te werk en ʼn band te smee is die lekkerste deel van my werk. Om te sien hoe hulle ontwikkel deur die jaar is baie spesiaal.”

In Juffrou Nikki se klas is daar ook ʼn tweeling – Jason en Justin Naudé. Hierdie manne gaan harte steel, dit is ʼn feit. “Ons het nie eens gehuil nie. Mamma het ons ʼn druk en ʼn soen gegee en toe sê sy ‘baai!’”

Maroela Media het by die Laerskole Rooihuiskraal en Anton van Wouw gaan kuier om te hoor wat gr. 1's van hul eerste skooldag sê (Foto: Maroela Media)

Maroela Media het by die Laerskole Rooihuiskraal en Anton van Wouw gaan kuier om te hoor wat gr. 1’s van hul eerste skooldag sê (Foto: Maroela Media)

So tussendeur die gesels met die tweeling hoor ek Lisa gesels land en sand met haar buurvrou. “Justin Beaver se liedjies is lekker, hoor!” Die tweeling gee my ʼn “high-five” toe ons klaar is met gesels en gaan aan asof hulle al jare in dié klas is. Ons kameraman oorreed my afskeid te neem van dié groepie en ons maak spore na die volgende skool toe: Laerskool Anton van Wouw.

Dié skool bestaan al 92 jaar lank en ontvang hul graadeentjies soos ʼn goed geoliede masjien.

Emma Oosthuizen (6) is ʼn regte dame dog bietjie skaam. Sy meen graad een is sover lekker omdat daar lekker werkies soos inkleur gedoen word.

“Ek was eers ʼn bietjie bang gewees, maar ek voel nou beter. Ek hou baie van my juffrou want sy het ʼn sagte stemmetjie. En die maatjie wat langs my sit, Lisa, is ook oulik. Sy het ook ʼn sagte stemmetjie en sy is baie mooi.”

Maroela Media het by die Laerskole Rooihuiskraal en Anton van Wouw gaan kuier om te hoor wat gr. 1's van hul eerste skooldag sê (Foto: Maroela Media)

Maroela Media het by die Laerskole Rooihuiskraal en Anton van Wouw gaan kuier om te hoor wat gr. 1’s van hul eerste skooldag sê (Foto: Maroela Media)

Oor Juffrou Annetjie Goosen, wat al 19 jaar klasgee by Laerskool Anton van Wouw, het die graadeens net mooi dinge te sê. Volgens hulle is sy nie te kwaai nie en vreeslik mooi.

“ʼn Graadeenonderwyseres se werk is so bevredigend,” sê Juffrou Annetjie. “Jy gaan dit nie kan glo as jy sien hoe hierdie kinders gaan ontwikkel oor ʼn paar maande nie. Die vordering is ongelooflik.”

Albei dié skole het reeds gister hul graadeens ontvang en hulle besig gehou vir ʼn uur of twee om die ergste skrik te laat verdwyn. Dit is ongelooflik om te hoor watter beplanning ingaan om so ʼn dag glad te laat verloop. Hierdie skole se toewyding en skitterende onderwysers is merkwaardig.

Baie sterkte aan al die graadeens!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eileen ·

Hoe verlang ek terug na die dae toe my 2tjies skooltoe gegaan het – vandag het my jongste met Gr11 begin, en kan ek nie glo hoe vinnig die tyd gestap hetnie!

Denise ·

Ek hoop regtig elke graad een juffrou is rustig met die klein mensies sterkte aan almal wat vandag moet terug skool toe !!!

Trotse mama ·

En my baba het vandag as ‘n juffrou begin werk by ‘n skool in Kimberley. Mama trots op jou my kind. Van skoolkind na skooljuffrou.

Lynn ·

Een van die mees bevredigendste beroepe wat n toegewyde juffrou kan hê. Harde werk met n glimlag.

Elmien de wet ·

Lekker dat Oupa en Ouma op Caledon kan deel hê aan ‘n kleinseun se eerste skooldag!

Riaan ·

Maak my so hartseer!….Onse Here het my nooit met i kind geseen nie!….Ek vra nie meer vra nie!..?..So bly vir al di ouers en kinders!…

Niccy ·

Riaan dit maak my seer om jou woorde te lees jong. Daar is n wonderlike dokter in Pta (dr Pentz) wat goeie werk doen sodat egpare hul eie kindertjies kan he.

Estelle ·

Liewe Riaan my hart gaan uit na jul en ander pappas en mammas wat nie geseen is met kinders nie. Ek self het 2 kinders wat al volwassenes is. Ouers geniet jul kinders terwyl jul kan want as jul jul kom kry is hul klaar met skool. Sterkte aan almal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.