Foto’s: ‘Lewensgrootte goggas’ binnekort in Pretoria

(Foto: Facebook via Giant Creature World Expo)

(Foto: Facebook via Giant Creature World Expo)

As jy of jou kinders gefassineer is deur grillerige goggas en kreature wat kruip, is die Giant Insects Expo wat in Oktober vanjaar by die Pretoria Botaniese Tuin aangebied word nét die regte gesinsuitstappie!

Dié gewilde opvoedkundige insek-uitstalling word vanjaar vir die eerste keer in Suid-Afrika aangebied. Die ekspo bied 15 verskillende lewensgrootte, animatroniese insekte en familie-aktiwiteite vir die hele gesin en is ook ideaal vir skoolgroepe en kinderpartytjies.

Die animatroniese kreature maak dit makliker om hulle te verken: hulle fladder hul vlerke, beweeg hul knypers en slurp denkbeeldige nektar. Daar is ook lewende insekte wat in glaskaste ten toon gestel word, asook in die hande van die ekspowerkers- en vrywilligers besigtig kan word. Die meeste van dié lewende insekte is ook massief en uit verskillende dele van die wêreld afkomstig.

Volgens organiseerders is insekte gewoonlik ongesiens en dikwels ʼn ongewenste deel van mense se lewe, en daarom fokus vanjaar se ekspo hoofsaaklik op insekte. Volgens die uitstallingsdirekteur en -vervaardiger van die ekspo, David Huni, poog die uitstalling om ʼn deur oop te maak na die fassinerende wêreld van insekte.

(Foto: Facebook via Giant Creature World Expo)

(Foto: Facebook via Giant Creature World Expo)

“Ons wil die feit dat insekte oral om ons is onder die vergrootglas plaas. Wanneer hulle só groot uitgestal word, kan jy hulle nie ignoreer nie,” het Huni luidens ʼn mediaverklaring gesê.

Volgens Huni bestuif insekte nie net die mens se voedsel nie, maar breek hulle ook dooie plante en diere af en help om die bevolkings van ander insekte te beheer. “Jou ontbytbord sal ʼn derde so vol wees sonder bestuiwers,” het hy bygevoeg.

Die uitstalling sluit inligting in oor hoe mense kan plant vir bestuiwers deur die gebruik van plaagdoder te verlaag en inheemse plante by hul landskappe in te sluit.

“Hoewel die goggas en kreature in hierdie uitstalling massief is, is die insekte onder ons voete dié wat werklik merkwaardig is. Omdat insekte dikwels klein is, kan dit moeilik wees om hulle te verstaan en daarom kan hulle skrikwekkend wees. Die goeie nuus is dat ons kan leer om ons vrese te oorkom,” het Huni gesê.

Die Giant Insect-ekspo sal op 4, 5 en 6 Oktober by die Pretoria Botaniese Tuin plaasvind. Die uitstalling sal oop wees van 10:00 tot 18:00 en alle kaartjies sluit toegang tot die Botaniese Tuin in.

(Foto: Facebook via Giant Creature World Expo)

(Foto: Facebook via Giant Creature World Expo)

Diegene wat voor 5 Augustus kaartjies koop, sal kaartjies goedkoper kan aankoop. Die pryse vir die standaardkaartjies beloop R85 per kind en R95 per volwassene, en groepkaartjies is ook beskikbaar. Kaartjies is beskikbaar by www.howler.co.za.

Besprekings vir groot skoolgroepe met 20 kinders of meer moet deur die kantoor gemaak word by [email protected].

Aktiwiteite wat ingesluit is by ʼn standaardkaartjie is toegang tot die Botaniese Tuin en insek-uitstalling, insekbesigtiging onder ʼn vergrootglas, ʼn springkasteel, insekte inkleur, toegang na die insekstudiesentrum en ʼn interaktiewe aanbieding oor insekte.

Daar is ook treinritte, trapbootjies, foto’s en ʼn speelgoedstalletjie beskikbaar vir die kinders.

Vir meer inligting, besoek www.giantcreatureworld.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nix ·

Ek hoop van harte dit is beter as die Dino Expo wat daar gehou was!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.