‘FroueVonds’: Hoe gemaak as die wêreld my kind seermaak?

Susan Lombaard is die uitvoerende hoof van Maroela Media. Foto: Noeleen Foster

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media en ma van twee, vertel in die rubriek wat om te doen as teleurstelling aan jou deur kom klop.

Ons mag nie blý lê nie!

Laatmiddag klop ek aan my 13-jarige meisiekind se toe kamerdeur. Dis nou al ʼn rukkie stil daar binne. Ek maak saggies oop – sy slaap dalk. Op die bed lê ʼn bondeltjie tiener onder ʼn wollerige pers kombers, haar teddiebeer styf teen haar lyf vasgedruk.

Ek gaan sit langs haar en vryf haar rug. Ná ʼn rukkie wurm sy woordeloos nader aan my en druk haar gesig in my skoot.

My hart breek. Sonder dat sy dit sê, weet ek wat die seer in haar hart is. Dit was vanoggend hul merietefunksie – haar laaste een vir haar laerskoolloopbaan. Die een toekenning waarop sy haar hele hart gesit het, waarvoor sy die afgelope paar jaar hard en doelgerig werk en wat al haar maats gemeen het vanselfsprekend hare gaan wees, is voor haar neus opgeraap deur ʼn ander kind.

Sy was nonchalant tussen haar maats vanoggend. Ná die afsluitingsfunksie het sy en haar beste vriendin in die swembad baljaar en in die son gelê en bak; geen teken van teleurstelling nie.

Maar mens ken mos jou kind.

Ek vryf haar hare, krap haar rug, soen haar op haar slaap en fluister in haar oor hoe lief ek haar het. Trek die pers kombers stywer om haar skouers in die somerhitte en voel hoe sy rukkerig sug.

Later, toe sy slaap, gesels ek en my man oor wat gebeur het. Spook met hoe ons dit verder moet hanteer. Moet ons met die skool gesels? Waarskynlik nie – dis gedane sake. Haar vertel hoe verkeerd en onregverdig dit alles is en dat sy rede het om só te voel? Waarskynlik ook nie. Deur die nag word ek kort-kort wakker, en dan baklei ek teen die bitterheid wat ek in my hart voel roer.

Vroegoggend staan ek onder die stort en gee my bitterheid vir die Here. Ek wil nie, dis mos lekker om ʼn wrok so ʼn bietjie te koester, maar ek weet ek moet – dis die eerste stap wat ek moet neem sodat sý gesond kan word. Toe vra ek Hom om my ʼn gesondmaakplan te gee.

Ek gaan maak haar wakker met ʼn koppie koffie en ʼn vrolike wakkerwordliedjie. Trek haar gordyne oop en nooi die sonskyn in. Ons mag maar ʼn bietjie gaan lê as die lewe ons ʼn dwarsklap gee, maar ons mag nie blý lê nie, sê ek sonder woorde vir haar.

Terwyl ek roosterbrood maak, bedink ek die plan. ʼn Mooi laerskoolafskeidfunksie vir haar en haar beste vriendinne en hul ma’s in ons tuin, met ʼn mooi gedekte tafel, kerslig en blomme. ʼn Geleentheid waar ek en ander ma’s soos ek vir ons meisiekinders kan sê: “Jou beste is goed genoeg. Ek is só trots op jou oor die mens wat jy is, oor jou mooi hart, en nie oor die pryse wat jy huis toe bring nie. In Christus is jy perfek. Dit voel dalk by die skool vir jou of jy in die massa verdwyn en nie raakgesien word nie, maar Hy sien jou. Hy verwonder hom oor jou. Hy sien uit om te sien hoe jy die skatte wat Hy in jou binneste weggesteek het, in die volgende paar jaar een-een ontdek en uitpak soos ʼn kind wat geskenke oopmaak. Hy het jou lief. Hy wil nie hê jy moet soos iemand anders probeer wees nie. Hý het jou gemaak. Jy is Syne.”

Later die aand ʼn fliekpiekniek op die grasperk met springmielies, net die klomp meisies wat volgende jaar na verskillende hoërskole toe gaan en nuwe maats gaan maak.

Ja, dis wat ek gaan doen.

Geen bitterheid nie, die lewe is te kort en te mooi daarvoor.

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ANE ·

PRAGTIG geskryf Susan! Ware lewensles… HOU VAS AAN HOM, SIEN JOUSELF DEUR SY OE!! Laat staan alle bitterheid, alle kwaad en alle negatiwiteit en vra Hom vir n GESONDMAAKPLAN vir jou en vir ons land!

Amelia Steenkamp ·

Ek gaan Hom ook vra vir n “Gesondmaakplan”vir myself….Dankie,ekt lekker gelees en geleer.

Sann ·

Jy is ‘n baie oulike ma. Ek is doodseker sy gaan só geleentheid baie langer onthou en koester as enige meriete toekenning van die skool. Dis ‘n skat in die hemel.

Betsie ·

Pik ek nou ‘n traan. Dis so mooi en opregte artikel. Ons moet ons kinders se harte beskerm en koester… dis belangriker as enige meriete-prys. Maar ai, daai prys en erkenning beteken steeds vir daai kind so baie en wat dit sleg maak is dat sy hard daarvoor gewerk het. Ek verstaan haar hart se pyn… maar sy moet vasklou, Hy sien haar hart!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.