Gedeelde leierskap – moontlike oplossing vir afknouery in skole?

leandie-lombaard-02

Leandie Lombaard. Foto: Mariska Batt.

Deur Leandie Lombaard

Die burgerregte-organisasie AfriForum kondig met trots sy teenboelieveldtog aan wat daarop fokus om skole as ’n geheel oor die aanwesigheid van boelies en afknouery in te lig, asook hoe leerders, ouers, voogde en onderwysers kan saamwerk om afknouery in skole hok te slaan. Die veldtog sluit praatjies met leerders, inligtingsessies met ouers en werksessies vir onderwysers in, waarvan AfriForum se trauma-eenheid ook deel vorm.

Die teenboelieveldtog ondersteun en onderskryf die vernuwing van ’n gesonde en veilige skoolklimaat en omgewing as ’n strategie om boelies en ander vorme van skoolgeweld te voorkom. Die veldtog fokus ook op langtermynoplossings soos die vermindering van skooldruipelinge, asook om die skoolverband in geheel te verbeter en leerders te bemagtig om op akademiese vlak en in ander velde te presteer.

’n Positiewe skoolklimaat lei tot ’n verbetering in leerderprestasies en skep ook ’n gevoel dat hulle iewers behoort. Leerders het ’n behoefte aan doeltreffende en bekostigbare maniere om skoolprestasies ’n hupstoot te gee. Belangrike faktore in ’n positiewe skoolklimaat kan ook beduidende bemiddelaars van akademiese leerprosesse wees, soos onder meer bemagtiging, betrokkenheid, motivering en selfdoeltreffendheid. ’n Positiewe skoolklimaat op die lang termyn waarby sowel leerders en onderwysers as ouers betrek word, is noodsaaklik om leerderprestasies in ’n produktiewe en veilige akademiese omgewing te verseker.

Skole moet ook gedeelde leierskap aanmoedig, ondersteun en beloon om billike, hoëstandaard- en innemende skoolklimate as norm vir Suid-Afrikaanse skole te bewerkstellig.

Gedeelde leierskap gebeur wanneer onderwysers, ouers, voogde en leerders saamwerk om probleme op te los. Dit is eintlik vanselfsprekend om saam te werk en ’n innemende skoolklimaat te skep wat leerderonderrig versnel. Waar gedeelde leierskap bestaan – dit wil sê waar jongmense (leerders) en volwassenes (onderwysers en ouers of voogde) saamwerk – bestaan daar ’n leerdergefokusde skool. Gedeelde leierskap beteken om ’n skuif te maak van die formele leierskapsmodel tot ’n gedeeldeleierskapsmodel wat gevolglik tot gedeelde mag en besluitneming tussen leerders, ouers, voogde en onderwysers lei wanneer boeliekwessies kop uitsteek. In plaas van ’n enkele persoon wat leiding neem om sukses te behaal, word ander individue wat vennote of groeplede is ook uitgenooi om die verantwoordelikheid vir leierskap en die ontwikkeling van ’n positiewe skoolklimaat te deel.

’n Skoolhoof moet nooit in afsondering werk nie. Suksesvolle skole vereis die beduidende betrokkenheid van mense – wat dit dan as ’t ware ’n gemeenskap maak. Roland Barth, skrywer van die boek Improving Schools from Within, meen dat onderwysers ongelooflike leierskapvermoëns het en hul leierskap ook ’n groot onontginde hulpbron is waarmee die land se skole verbeter kan word. Wanneer onderwysers by besluitnemingsprosesse ingesluit word, is hulle meer geneig om verandering in te stel en word die instandhouding daarvan met getrouheid uitgevoer. Wanneer onderwysers, leerders en ouers of voogde byvoorbeeld by besluitneming betrek word oor wat die gedragsverwagtinge en ingrypings in die skool moet wees en saamwerk om afknouery hok te slaan, is hulle meer bereid om te verseker dat dit doeltreffend en gereeld in sowel die klaskamers as op die skool- en speelterrein uitgevoer word.

Dit is juis leerders wat gewillig en in staat is om in die rykdom van kennis en vaardighede te deel wat ’n bydrae kan lewer om ’n innemende, veilige en boelievrye skoolklimaat te ontwikkel. Die skool word dus ’n plek waar leerders hul kennis verder kan uitbrei omdat hulle meer deel is van besluitnemingsprosesse en meer met die volwassenes in die skool – die onderwysers – verbind is; onderwysers tree nou in samewerking met die leerders op en skep op dié wyse ’n gevoel van aanvaarding omdat verantwoordelikhede nou gedeel word; inklusiwiteit kan dus gesien word as die ideale visie wat verseker dat almal betrokke is. Gedeelde leierskap is gebaseer op die aanvaarding dat nie net een mens in ’n formele leierskapsposisie oor leierskapsvermoëns beskik nie, maar dat die stil en teruggetrokke leerder, onderwyser, ouer en voog ook deel van dié leierskap vorm, juis omdat elkeen uniek is en met goeie idees vorendag kan kom – die leerder wat met ’n plan vorendag kom vir die hantering van boeliegedrag op die skoolterrein; of die spanlid wat aktiwiteite ontwikkel en seker maak dat ander leerders betrokke is en gewaardeer word. Die skoolhoof koester en kapitaliseer op die leierskap van elkeen in die skoolgemeenskap met die doel om hulle as ’n span beter te maak eerder as om net op ’n enkele persoon te fokus.

Die volgende vyf strategieë bring gedeelde leierskap in skole en die instandhouding daarvan tot stand. Sommige van die uitdagings word uitgelig wat moontlik deur skoolleiers, onderwysers, leerders en gemeenskapslede in die gesamentlike ontwikkeling van ’n positiewe skoolklimaat ondervind mag word.

  1. Dink vennootskap

Balans van mag is die fondament waarop gedeelde leierskap gebou word. Gedeelde leierskap is ’n vennootskap waar onderwysers, ouers, voogde en leerders as gelyke vennote beskou word. Die ontwikkeling van dié magsbalans is heel moontlik een van die moeilikste aspekte in gedeelde leierskap. Doeltreffende skoolleiers weet dit en stel duidelike grense sodat die gesag van die leiers eg is, alle lede van die groep bemagtig word en om te verseker dat dít wat ontwikkel of besluit is in die skool uitgevoer word. Hulle begin ’n positiewe skoolkultuur deur woorde, aksies en geloof, en deur die regte verhouding tussen administrateurs en die skoolpersoneel te handhaaf.

  1. Verseker gesamentlike mikpunte

Gedeelde leierskap vereis gesamentlike mikpunte – in dié geval om afknouery in skole hok te slaan. Elke lid van die skoolgemeenskap moet ten spyte van hul eie uiteenlopende menings verstaan dat die prys aan die einde gaan wees om afknouery in skole uit te roei sodat skole ’n veilige hawe vir leerders kan wees; dus die vestiging van ’n positiewe skoolklimaat. Hoewel onderwysers, ouers, voogde en leerders verskillende strategieë gebruik om tot dié skoolklimaat by te dra, lei dié uiteenlopende paaie danksy gedeelde leierskap tot ’n gesamentlike mikpunt en fokus. Daar kan selfs méér bereik word as onderwysbelanghebbendes soos AfriForum saamwerk om ’n gedeelde doel te bereik. AfriForum sal skole dus met die teenboelieveldtog help om hulle doel te bereik, naamlik om afknouery in skole hok te slaan.

  1. Verbind jou tot gedeelde verantwoordelikhede

Gedeelde leierskap werk wanneer alle deelnemers (ouers, voogde, onderwysers en leerders) verantwoordelikhede deel en saam daarvoor verantwoordelik gehou word. Elke persoon in die vennootskap moet ’n aktiewe rol speel en verantwoordelikheid aanvaar om hul individuele verantwoordelikhede doeltreffend na te kom. Onderwysers, leerders, ouers en voogde moet dus bemagtig word om saam te werk tot ’n gemeenskaplike doelwit wat hulle bewus maak van hul verantwoordelikhede en die belangrike rol wat elkeen van hulle speel in die doel om die skool ’n veilige en gesonde hawe vir alle leerders te maak. Gedeelde leierskap bevat moedgedrewe leiers wat bereid is om aan ’n gesonde en veilige skoolklimaat te bou.

  1. Bou aan respek en verantwoordelikheid

Gedeelde leierskap beteken om respek en verantwoordelikheid te toon om verskillende nuwe idees en strategieë te oorweeg. Elke persoon in die skool bring saam met hulle die ervarings, vermoëns en idees wat waardevol is om saam ’n skoolklimaat te skep waar almal deel van die skoolgemeenskap voel. Die verskille tussen mense in die skool moet erken en ook gekoester word, want elkeen is uniek. Samewerking en ’n netwerk wat gekoppel is aan respek en gedeelde leierskap bou ’n sterk, samehangende span wat goed kan saamwerk om ’n doel te bereik.

  1. Respekteer passievolle leiers met ruggraat

Onderwysers, ouers, voogde, leerders en skoolhoofde moet ruggraat toon as hulle elke dag sonder vrees aanpak, spesifiek dié wat in gedeelde leierskap glo. Gedeelde leierskap behels mense met goeie moed en die vermoë om probleme op te los.

Hoewel dit belangrik is om van innerlike krag te leer en om karaktereienskappe soveel moontlik te waardeer, bly die akademiese vermoë onder leerders steeds die sleutel. Optimisme, aanpasbaarheid en volharding – onder meer niekognitiewe eienskappe – is net so belangrik vir akademiese sukses, of in die geval van gedeelde leierskap waar leerders en volwassenes moeilike situasies soos armoede, afknouery of ’n tekort aan sterk kognitiewe vaardighede moet aanpak.

Gedeelde leierskap verwag morele en prestasiekarakter van elkeen wat betrokke is. Morele karakter behels etiese eienskappe soos vrygewigheid, kuisheid en eerlikheid. Prestasiekarakter verwys na eienskappe wat persoonlike doeltreffendheid verbeter, byvoorbeeld selfbeheersing, passie, ruggraat, optimisme en volharding. Om ruggraat te hê, verseker dat gedeelde leierskap in vennootskap met gees en lewenskragtigheid is, waar die jeug en volwassenes en die verhouding tussen die twee geweef word in ’n skoolklimaat wat leerders skool toe laat hardloop in plaas daarvan om so vinnig moontlik daarvan te probeer weghardloop. Gedeelde leierskap gee aan hulle die krag, leierskapsvermoëns en geloof wat saamwerk om die teëspoed te kan hanteer wat ons almal partykeer in die gesig staar.

AfriForum wil dus saam met skole ’n pad stap om afknouery in skole te beveg en wil die skool as geheel (leerders, onderwysers, ouers en voogde) by die teenboelieveldtog betrek sodat ons mekaar kan bemagtig om ’n verskil daar buite te maak. Indien jou kind se skool by die teenboelieveldtog betrokke wil raak, stuur vir ons ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henk ·

Laat ek nou maar my mening hier lug. Ek sit met ‘n 7 jarige kind op skool wat deur die ONDERWYSERES geboelie, verkleineer, emosioneel en sielkundig afgebreek word en sy bis onaantasbaar! Moontlik omdat sy dink die hoof se vrou is bo almal verhewe? My kind het sy broek vuil gemaak omrede sy geweier het dat hy toilet toe mag gaan. Sy het hom soos ‘n hond in ‘n hoek laat sit want volgens haar ontwrig hy die klas deur voortdurend op te staan, maar ander kinders loop tydens klas in die klas rond. Vir ‘n ander kind het sy gese die is dom en mors sy en haar tyd om nog klas toe te kom. Toe die ouer kla, is die ouer meegedeel die kind het verkeerd gehoor en die kind is fyngevoelig en dit is nie wat die onderwyseres gese het nie, En elke keer kom die seniors se woorde op: Die Juffrou se dit en die kind se dat. So daar is twee stories en ons glo vir geen oomblik in dit wat jou kind se nie!

Lukas ·

Leer net jou eie kind nie om n (boks) te wees nie. So maklik soos dit.

Asjas ·

Sekere ouers moet net hul kinders maniere leer en ons sal almal fine wees.
Boelies kweek boelies!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.