Gee jou kind vlerke in sy moedertaal

moedertaaldag

Argieffoto.

Deur Johan Koekemoer

Waldo het ’n voëltjie hoor fluit. Die voël klink soos ’n volstruis in barensnood. Onnatuurlik verby! Die fluit is soos volg: “My kind gaan in Engels skool, want die wêreld is Engels en dit gaan my kind ’n voorsprong gee.” Dié voël fluit nie die klank van die bosveld nie, maar kwetter soos makgemaakte papegaaie in die stad. Waldo kan nie meer na die oningeligte kwinkeleer luister nie. Waldo moet ons inlig en hy hoop dat ons almal dan dieselfde deuntjie sal sing.

Weens kolonialisasie en die internet het Engels in meeste lande wortelgeskiet. Google is tans die grootste soekenjin en die kliënte van Google is grotendeels Engels. Omdat ons in Engels Google en in Engels geantwoord word, dink ons alles is Engels. Google is nie die internet nie! Google het tans 1,17 biljoen kliënte (ek weet nie van julle nie, maar ek alleen het vier Google-rekeninge). Dit is slegs 16% van die globale bevolking. Die bevolking van China alleen is groter as Google. Die mensdom is naïef as hulle dink alles is Engels.

Volgens ’n artikel in die Washington Post is die vier tale wat mens moet leer om jou ’n globale voorsprong te gee: Mandaryns, Duits, Frans en Italiaans.

Mandaryns met al sy dialekte is dié grootste taal met 1,39 biljoen huistaalsprekers. Mandaryns het in die afgelope paar jaar met meer as 200% gegroei as ’n voorkeur tweede taal. Stadig maar seker is Mandaryns besig om die plek van Engels as amptelike dominerende tweede taal in te neem. Volgens die huidige groeitempo is dit nie meer lank voor die grafieke van Mandaryns en Engels kruis en Mandaryns verbyskiet nie. Die taal infiltreer van binne af buitentoe.

Die Chinese infiltreer deur immigrasie. In elke groot stad is daar ten minste een Chinese skool en reeds meer as 40 skole in Suid-Afrika bied Mandaryns as ’n tweede taal. Die tegniek van die Chinese is baie meer subtiel as die Britse kolonisasie. Chinese het geduld. Die min kere wanneer die mensdom werklik stil word en luister, is as geld praat. En geld praat Mandaryns. Vra maar vir Eskom…

waldo1

Gesels met Waldo op sy Facebook-blad by Waldo Wapad. Grafika: Verskaf.

Probeer vir my aan ’n revolusionêre uitvindsel dink wat nie bedink is in die moedertaal van die uitvinder nie. Ons haal gereeld slim Engelse aanhalings van Albert Einstein aan, maar Duits was sy voorkeurtaal. Indien ons mense druk om te dink in ’n ander taal as hul moedertaal, dan onderdruk ons hulle en maak ons van hulle slawe van die korporatiewe wêreld. Slawe wat goed geld gaan maak en hoë posisies beklee, maar selde of nooit innoverend en kreatief genoeg gaan wees om self iets nuuts te bedink nie. Want innovasie gebeur in jou moedertaal!

Die motor wat jy ry, is tien teen een Duits. Jou foon is 6 uit die 10 keer Viëtnamees, Koreaans of Fins. Jou klere word heel waarskynlik in Bangladesj, Indië of Ethiopië gestik. Ek kan voortgaan… Al wat jy in Engels kry, is propaganda, media (dalk dieselfde ding) en Facebook shares. So hoekom wil ons só graag verengels?

Dit is waar dat Engels tans die wêreld se grootste tweede taal is (let op die woord “tans”). Dit is ook waar dat sosiale media hier is om te bly en dat Engelse instellings reeds daardie monopolie het. Dit is egter nie ’n gegewe feit dat dit so gaan wees oor 50 jaar nie.

Waldo wil onder geen omstandighede enige ander taal as Afrikaans bevorder nie. Waldo glo wel dit is belangrik om meertalig te wees. Maar Waldo glo ook dat jou moedertaal die grondslag is waarop ’n frommelhuis of ’n paleis gebou kan word.

Wil jy werklik jou kinders vlerke gee om sukses te behaal? Gee jou kind sy moedertaal!

  • Johan Koekemoer is ʼn navorser by die Skoleondersteuningsentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Laura ·

Dankie! Ons trek binnekort uit die Vrystaat na ‘n provinsie waar Afrikaanse skole nie die norm is nie. Ek self verkies moedertaal onderrig vir my kinders tot in die laerskool, maar daar word aanhoudend gese: “Alles verengels nou, so dit gaan beter wees vir hulle…” Sal maar volgende keer vir al die slim mense se om dalk Manderyns as ‘n tweede of derde taal aan te vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.