Gee ’n geskenk met ’n verskil

Geskenke_kersfees_vrolik.jpg

Foto: Stellenttraders.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Kersfees is om die draai, en vir die meeste kinders is dié tyd van die jaar sinoniem met twee goed: ’n lang somervakansie en ’n hoop presente!

As ouers wil ons graag vir ons kinders die goed gee wat óns nie gehad het nie, en ons gee dikwels in vir elke “ek soek” omdat ons kan, nie omdat ons moet nie. Veral tydens Kerstyd is die meeste van ons skuldig daaraan om effens té vrygewig te wees as dit by ons kleingoed kom.

As jy vanjaar die fokus wil verskuif en vir jou kind ’n geskenk met ’n verskil wil gee, leer hom of haar die waarde van:

Teenwoordigheid

Jou kind gaan dol wees oor ongelooflike geskenke, maar wat hy of sy selfs meer sal waardeer is tyd saam met die persoon wat dit vir hom gekoop en toegedraai het. Bring hierdie vakansie tyd deur saam met jou kind. Of julle ’n boek lees of ’n speletjie speel, deur jou onverdeelde aandag aan hom of haar te gee sal hy die waarde van jou teenwoordigheid, eerder as jou vermoë om vir hom of haar geskenke te koop, besef.

Gee

Voordat hy sy geskenke oopmaak, vra jou kind om een speelding prys te gee vir elke nuwe een wat hy ontvang. Laat hy dan saam met jou gaan om dit by iemand wat minder bevoorreg is af te lewer. So sal hy eerstehands die genot beleef wat ander kinders ervaar as hulle ’n geskenkie ontvang.

Klein gebare

Leer jou kind dat ’n eenvoudige gebaar – ’n vriendelike woord of glimlag –waardevoller as ’n duur geskenk kan wees. Laat hom toe om vir julle bejaarde buurvrou ’n bossie blomme uit die tuin te pluk, of laat hy vir Ouma ’n prentjie teken. Hy sal leer dat die kleinste gebare soms die grootste vreugde bring.

Tradisie

Tradisies bind families saam – dit laat ons voel dat ons êrens hoort en dat ons spesiaal is. Begin ’n spesiale feestydtradisie om jou kind die belangrikheid van familie te leer, asook hoe waardevol tyd is wat saam deurgebring word.

Dit is nie maklik om liefdevolle en goedhartige kinders groot te maak nie, en om hulle te leer om dankbaar te wees vir dit wat hulle het in ’n wêreld van oorvloed is nog moeiliker. Maar as ouers moet ons volhard in ons pogings om dankbare kinders groot te maak. Bowenal moet ons ’n goeie voorbeeld stel.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.