Geen resep vir ma-wees

Argieffoto (Foto: Michael Schwarzenberger/Pixabay)

ʼn Resep is iets wat mens stap-vir-stap kan volg en ʼn eindresultaat gee wat presies lyk soos die prentjie in die boek. (Myne miskien nie altyd nie, maar dis naby genoeg.)

Kinders kom nie met resepteboeke nie of eintlik enige ander boek nie. Soos wat jy jouself voorberei vir die nuwe toevoeging tot jou gesin, lees jy elke moontlike moeder- en ouerskapboek waarop jy jou hande kan lê. Jy kan letterlik gaan eksamen skryf en dit waarskynlik met lof slaag…

Dan kom Junior en duidelik het hy/sy nie die boek gekry vir “tuisstudie” nie… Niks wat in die boek staan kom voor in die baba wat voor jou lê nie. Dit voel soms of jy vir geskiedenis geleer het en toe kry jy die wiskunde-vraestel…

Om alles te kroon is elke kind wat jy kry verskillend en nog steeds is nie een van hulle soos die boekbaba nie. Soos wat die kinders groter word, begin jy moed opgee met enige boek, omdat dit vir jou voel jy lees ʼn Disney-storie, want niks daarvan realiseer nie en dit bly ʼn sprokie in jou verbeelding.

Op ʼn ernstiger noot. Ek geniet my twee seuntjies vreeslik baie, maar dat die lewe saam met hulle nie voorspelbaar is nie, is ʼn feit. Daar is nie ʼn resep vir moeder-(ouer-)skap nie. Jy moet dit opmaak soos jy aangaan. En dit hou jou 24/7 op jou knieë. Ek wens so dikwels daar was wel ’n resep. Dit sou die lewe soveel makliker gemaak het.

Dan sou jy weet hoekom hulle op geen kalmeringstegniek reageer waarvan die boeke praat nie. Hoekom jou kinders moeilik raak, reg in die middel van iets wat hulle oënskynlik baie geniet het. Hoekom hulle een oomblik heerlik saamspeel en die volgende oomblik mekaar soos twee leeumannetjies bespring. Hoekom hulle nog nie op drie jaar deurslaap nie. Hoekom hulle gister groente geëet het, en vandag weier.

Ek sou selfs nog meer dankbaar wees om ʼn resep te hê hoe om iets met hulle reg te kry: dat jy voor die tyd sal weet of hulle vandag die appel heel of gesny wil hê; dat hulle sommer die eerste keer iets sal eet; dat hulle sommer binne ʼn dag of twee toilet-geleerd is; dat hulle sommer die eerste keer aanvaar jou nee is jou nee.

Maar ouerskap het nié ʼn resep nie. Dis seker hoog tyd dat ek dit moet aanvaar en die woorde vir myself herhaal wat ek so dikwels vir my kinders sê: “Dit help nie om teen realiteit te baklei nie … aanvaar dit net …”

Want dis eintlik die hele proses wat die “gereg” die geur gee; wat dit die je ne sais quoi gee. Die eindresultaat moet juis in dié geval anders wees as wat die boek sê, omdat elke mens en kind uniek is. Daar is te veel veranderlikes betrokke, soos persoonlikheid, gesinstruktuur, omgewing, ens.

Wat vir my egter die lekkerste ontdekking was op my soektog na ʼn perfekte resep om kinders groot te maak, was om te besef dis eerder ek wat gaan moet verander as my kinders. Ewe skielik is dit my lewe – dade en woorde – wat onder die vergrootglas kom. Want sien, my kinders is my lewe in die kleine. Alles wat ek doen en sê word deur hulle weerspieël. Kinders leer deur dit wat hulle by my sien en hoor. Ek moes introspeksie doen as ek wou hê my kinders moet die goeie mense word wat ek wil hê hulle moet.

Ja, die klein goedjies wat eg is aan ʼn baba of kind is nog steeds daar en dit is nog steeds moeilik om reg te hanteer, maar ek moes ook begin werk aan die manier hoe ek reageer. Ek moes leer hoe om te laat gaan, hoe om geen beheer te hê nie en hoe om my emosies te beheer sodat hulle emosionele uitbarstings nie ʼn invloed op my emosionele welstand het nie.

Dan besef ek die resep om myself te verander en te groei is makliker as om ʼn resep te soek hoe om kinders reg groot te maak – ʼn resep wat in elk geval nie bestaan nie. Ek het besef kinders is fynproewers … Hulle sal die smake en geure in jou lewe kan proe en ruik, en daardeur die eindproduk word wat jy met ʼn resep wou skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Met baie gesinne en families as die baba by die voordeur inkom vlug liefde by die agterdeur uit.

Jozi ·

Net so.
Want Pappie glo sy werk is gedoen. Kind is gebroei en nou kan hy weer lekker chill voor die TV en kuier saam met die pelle.
En Mammie eindig op met al die werk in en om die huis, en ‘n nuwe baba.
Meeste mans is gerieflikheidshalwe ‘clueless’.
Maar ek haal my hoed af vir dié manne wat besef hulle wil betrokke wees. Vuil doeke, winde uitvryf, min slaap en al.
Dis die grondslag vir ‘n standvastige verhouding tuis en pa en kind vorentoe.
Wees ‘n man en pa en daar sal vrede neerdaal oor jul huis.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.