Geestessiektes onder jongmense dikwels geïgnoreer

Foto: Pixabay

Jongmense met geestesgesondheidsprobleme, veral dié in lae- en middelinkomstelande, word dikwels in die steek gelaat wanneer hulle hulp nodig het.

Hulle kry nie altyd die nodige behandeling nie, ondanks die feit dat geestesongesteldhede onder jongmense wêreldwyd aan die toeneem is.

“Geestesgesondheidsprobleme onder jongmense is ʼn ernstige saak. As dit nie behandel word nie, kan dit jongmense se sosiale, persoonlike en akademiese ontwikkeling nadelig beïnvloed. Jongmense met geestessiektes ervaar ook sosiale stigma, isolasie en diskriminasie,” sê dr. Jason Bantjes, senior lektor in die fakulteit sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Bantjes doen navorsing oor selfdoodvoorkoming en die bevordering van geestesgesondheid. Sy werk word deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad ondersteun.

Bantjes sê dit sal naïef wees om te dink jongmense ontwikkel nie ernstige geestesgesondheidsprobleme soos angsversteurings en depressie nie. Jongmense is ook geneig om stres- en traumaverwante versteurings en gedragsversteurings, insluitend probleme met aandag en impulsbeheer, te ontwikkel.

“Die feit dat die tema vir vanjaar se Wêreld Geestesgesondheidsdag (10 Oktober) ‘Young people and mental health in a changing world is,’ wys dat dit baie ernstiger is as wat ons dalk dink.”

Bantjes wys ook op studies wat die erns van die situasie uitlig. “Die Wêreldgesondheidsorganisasie berig dat tussen 10 en 20% van kinders en adolessente wêreldwyd geestesgesondheidsprobleme het. Ongeveer die helfte van alle geestessiektes begin op die ouderdom van 14 en 75% daarvan wanneer ‘n individu in die middel-20’s is. Die geestessiektes word dikwels nie gediagnoseer en behandel nie.

“ ʼn Omvattende internasionale studie het bevind dat een vyfde (20,3%) van universiteitstudente in die voorafgaande 12 maande ‘n geestesversteuring ervaar het – 83,1% van hierdie gevalle het voor matriek begin.

“Nader aan die huis het ‘n studie van skoolgaande kinders in Kaapstad bevind dat 22,2% van kinders aan die diagnostiese kriteria vir post-traumatiese stresversteuring voldoen het. Voortgesette navorsing deur ʼn groep wetenskaplikes van die US en die Universiteit van Kaapstad, wat as deel van die Caring Universities-projek gedoen word, toon dat slegs een vyfde van eerstejaar-studente met ʼn geestesongesteldheid wel behandeling ontvang.”

Hoewel genetiese faktore en temperament ‘n rol speel in die blootstelling van jongmense aan geestessiektes, sê Bantjes daar is bewyse dat ontberinge uit die vroeë kinderjare individue kwesbaar maak vir geestelike- en fisieke gesondheidsprobleme. Hy voeg by dat die sielkundige welstand van kinders ook ʼn knou kan kry as hul ouers se geestesgesondheidsprobleme nie behandel word nie.

Bantjes sê dit is kommerwekkend dat jongmense met geestessiektes in baie dele van die ontwikkelende wêreld sukkel om toegang te verkry tot effektiewe bewysgebaseerde geestesgesondheidsorg en die moontlikheid van uitsluiting by onderwysinstellings is dikwels hul voorland.

“Versteurings wat gedurende die kinderjare manifesteer en nie behandel word nie, duur voort tot in volwassenheid en kan beide fisieke en geestelike gesondheid benadeel. Langdurige geestesgesondheidsprobleme belemmer ‘n persoon se vermoë om ‘n vervulde lewe te lei, wedersyds-bevredigende verhoudings te bou en ‘n aktiewe lid van hul gemeenskappe te wees.”

Grafika: US

Bantjes meen daar is verskeie redes waarom so baie jongmense met geestesgesondheidsprobleme nie die hulp kry wat hulle benodig nie. “Algemene struikelblokke tot behandeling in lae- en middelinkomstelande sluit in onkunde oor die tekens en simptome van versteurings by kinders, ‘n gebrek aan begrip rakende kinders se emosionele en toenaderingsbehoeftes, ‘n gebrek aan toepaslik gekwalifiseerde geestesgesondheidswerkers en onvoldoende geestesgesondheidsdienste vir kinders en adolessente.”

Hy sê dit is nie altyd maklik om ‘n jongmens met ‘n geestesongesteldheid te herken nie. “Soms ignoreer ons die tekens en simptome en dink ons die persoon is net veeleisend of gaan deur ʼn moeilike fase. Wanneer dit gaan oor kinders wat sielkundige sorg benodig, is dit nie ongewoon dat hulle as ondeund of onwillig gesien word deur diegene wat nie die emosionele behoeftes van kinders verstaan nie, en nie erken dat kinders soms uitdagende gedrag gebruik om sielkundige nood te kommunikeer nie.”

Bantjes sê toeganklike, bekostigbare en effektiewe psigiatriese- en geestesgesondheidsorgdienste vir jongmense en hul gesinne is nodig, aangesien vroeë intervensie en die verskaffing van bewysgebaseerde behandelings een van die hoekstene is vir die bevordering van geestesgesondheid.

“Skole, universiteite en gesinne speel ‘n belangrike rol in die fasilitering van jongmense se sosiale en sielkundige ontwikkeling en die bou van hul veerkragtigheid. Ons het skole en universiteite nodig wat veilig is, waar daar nie geboelie word nie, en waar jongmense die gevoel het dat hulle daar hoort en in verbondenheid met ander kan wees.”

Bantjes sê ons moet jongmense help om interpersoonlike vaardighede aan te leer, sodat hulle wedersyds-bevredigende verhoudings kan bou, aangesien interpersoonlike verbintenisse as buffer teen die uitdagings van die lewe dien.

  • Artikel deur Alec Basson, senior wetenskapskrywer van die Universiteit Stellenbosch. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae