Gesinsamesyn in die tyd van kwarantyn

Foto: Carina Stander

Vir heelwat ouers wat gewoond is om in ʼn kantoor te werk, rym kwarantyn met pyn. Hoe de adamsappel balanseer mens werk-vanaf-die-huis met ʼn woelige gesinslewe? Ek en Gerrit het in twaalf en ʼn half jaar van ouerskap nog altyd van die huis af gewerk – hy as ʼn rekenaarprogrammeerder en ek as skrywer en kunstenaar – en ja, liewe ouers, dis hééltemal moontlik om vrolike kinders te hê én produktief te werk sónder skool of ekstra hulp.

Ons het self nog nooit ‘n kinderoppasser of familielid in die omgewing gehad wat kon help met die kinders nie en ons seuns is eers in graad R volweek skool toe. Dus, soos met hierdie algehele afsonderingsperiode, het hulle as peuters en kleuters hier in en rondom die huis gewemel terwyl ons soos weerlig werk. Elke gesin vind sy eie ritme, maar hier is ʼn paar idees wat vir ons gewerk het. Omdat die behoeftes van voorskolers en laerskoolkinders hemelsbreed verskil, verdeel ek dit in twee groepe.

Peuters en kleuters

  • Wees redelik: Voorskoolse kinders gáán jou aandag vra – dis deel van die oorlewing van die spesie. Dink hulle ʼn tree vooruit: Gee hulle goeie aandag vóórdat hulle daarvoor smeek of aandag soek deur stoutigheid. Prys hulle onafhanklikheid as hulle alleen speel, maar moet hulle nie verskree as hulle volgens hulle ouderdom optree en jou opsoek nie. Verduidelik vir hulle hoe lank hulle moet wag op jou onverdeelde aandag en bederf hulle dan met behoorlike speeltyd. As hulle weet hulle kan op jou reken, sal hulle meer tevrede op hulle eie wees.
  • Speel met jou hart – en horlosie: Dit voel dalk of mens ʼn uur lank saam met ʼn peuter Dublo-blokkies bou, maar in werklikheid is dit net tien minute. Kyk op jou horlosie: As jy ʼn halfuur se speeltyd beloof het, gee ʼn hele heelhartige halfuur. Toe my kinders klein was, het ek soms my werksdag in vier sessies verdeel. In elke sessie het ek ‘n halfuur lank iets prettig saam met hulle gedoen wat hulle nie alleen kan doen nie. Dit kom neer op twee ure van intensiewe speeltyd versprei deur die dag, dus: Nie te min aandag vir ʼn kind nie en ook nie te uitputtend vir ʼn ouer nie. Hier is ʼn paar prettige huisgebonde dinge wat ons met ons voorskolers aangevang het:

    Argieffoto (Foto: MW/Pixabay)

    • Maak saam handpoppies uit ou kouse en hou konsert daarmee.
    • Hou ʼn teepartytjie – met koekies wat hulle help bak – vir die teddiebere.
    • Bou saam kastele of fabrieke met stokkies uit die tuin.
    • Maak kleurvolle soutklei wat jy verder opvrolik met blinkertjies of voedselgeursel soos peperment.
    • Vries hoenderbene en dinosourusse in ʼn roomysbak vol blare en grond, sodat hulle dit soos “argeoloë” kan oopbeitel.
    • Laat hulle teksture van boomstamme en klippe krap met potlood en papier.
    • Wys hulle hoe om kombuisprentjies te maak uit pasta en lensies en te verf met borrie, paprika en beet.
    • Bekyk blomme of insekte met ʼn vergrootglas.
    • Soek saam na dinge in die huis wat hulle met magnete kan optel.
    • Speel dobbelsteen-speletjies of kaart – dit leer hulle van getalherkenning.
    • Maak julle eie musiekinstrumente vir ʼn lawwe lawaai.
    • Balspeletjies is ʼn treffer – balskop buite en rolbal binnenshuis.
    • Lees ʼn storieboek vir snoesige saamwees. My voorskoolse kinders was veral lief vir die pragtig geïllustreerde Richard Scarry-boeke en Linda Rode se Nimmer-immerbos in kraakvars Afrikaans.
  • Benut die stiller ure: Vra jouself af watter ure jou baba of kleuter stil is en benut daardie tyd ten volle deur te werk. Sommige dae was my ritme as volg: Ek het geskryf in die uur wanneer my peuter bedags slaap, die uur wanneer hy DVD kyk en dan weer van agt tot elf saans. Dus, minstens vyf soliede werksure per dag. As ‘n mens weet dis al tyd wat jy het, fief-faf jy nie en gevolglik kon ek ʼn honderd tydskrifartikels, ʼn digbundel en twee romans in my kinders se voorskoolse jare skryf.
  • Spanwerk! As jy en jou huwelikmaat albei van die huis af werk, is dit ʼn blink plan om in skofte te werk. Dit verseker soliede werkstyd vir albei. Soms het ek en Gerrit in twee uur skofte gewerk – hy vir twee ure, ek vir twee ure. Dit beteken nie dat mens die baba of kleuters vir twee ure lank vermaak nie, maar dat jy verantwoordelik is vir hulle behoeftes tydens jou skof. Nadat mens vir twee ure hard gekonsentreer het op jou werk, is dit hoeka goed om ʼn blaaskans te vat saam met die kroos.
  • Hulp met huistakies: Wen nóg werkstyd deur die kinders in te span om jou met huistakies te help. Met kwarantyn het byna niemand huishulpe nie en die kleingoed kan gerus inspring. As ʼn kind weet watter voordele ‘n reëling vir hom inhou, sal hy makliker saamwerk: “As jy jou speelgoed bêre, kan ons die vloer vee, dan kan niemand per ongeluk op jou karretjie trap en dit breek nie.” Of: “As jy jou nat handdoek nou ophang, gaan dit nie more stink nie.” Ek is mal oor orde, maar ek weier om my kinders se speelgoed te bêre of hulle wasgoed in die mandjie te gooi – dis hulle werkies. Ek wil nie eendag deur my seuns onthou word as die martelaar-ma wat haar afgesloof het vir die gesin nie; ek wil onthou word as ʼn vervulde vrou. So, hoe gemaak om die huis netjies te hou? In die peuter- en kleuterjare het ek ‘n CD opgesit en hulle laat kyk hoeveel liedjies dit neem om die blokkies, balle, karretjies of speelgoeddiere terug in die kratte te pak – hulle fokus dan op die pret van die uitdaging terwyl hulle die vervelige werkie dans-dans afhandel. Ons het nog nooit ʼn voltydse huishulp gehad nie, so die seuns help al sedert die voorskoolse jare ook met kouse oprol, skottelgoedwasser uitpak, beddens regtrek – sonder betaling, maar onder gróót applous van hulle ouers.

    Argieffoto (Foto: Bruno /Germany via Pixabay)

  • Huisgebonde? Huisopknappings! Baie gesinne benut die kwarantyn deur huisverbeterings te doen. Betrek die kinders en maak dit pret! Ons seuns was albei voorskolers toe ons in die ou kasarm ingetrek het. Naweke het hulle gehelp om meubels te skuur en te verf, spoelklippies in die sement van die tuinpaadjie te druk en saadjies te plant. Noudat hulle groter is, koester hulle daardie herinneringe van saamdoen en help hulle ons met ingewikkelder opknappings.

Moedhou! Mens dink nie jy belê tyd in jou kinders om iets terug te kry nie, daarom was dit vir my ʼn verrassing om te besef: Elke vaardigheid wat die kleingoed in hulle voorskoolse jare aanleer, oes ʼn ouer in die laerskooljare met saliger, stiller, langer werksdae.

Laerskoolkinders

Ons seuns is nou onderskeidelik twaalf en nege jaar oud en werk-vanaf-die-huis is makliker as ooit. Met ontbyt gesels ons oor hoe die dag gaan verloop, almal sit hulle idees op die tafel sodat ons weet wat om van mekaar te verwag. As ek (soos vandag) ʼn skryfstuk moet wegstuur of Gerrit het ʼn Skype-konferensie, vertel ons betyds vir die kinders hoe laat en hoe lank ons stilte benodig.

Ons eet al drie etes saam om die tafel – heerlike kuiertyd – en loer deur die dag ʼn paar keer by mekaar in. Hulle albei se onderwysers het ook huiswerk vir die kwarantyntyd gestuur – die gr. 3 doen ʼn halfuur se skoolwerk per dag, die gr. 7 ʼn uur.

Om vyfuur maak ek en Gerrit die rekenaars toe, dan is dit natuur-uur. Wanneer dit nie kwarantyn is nie, sal ons gesin roei, fietsry, swem of stap, maar nou skop ons bal in die tuin of doen ander buitelug-oefeninge. Ná aandete speel ons bordspeletjies of fliek saam. Hier is van die lekker dinge waarmee laerskoolkinders hulself kan besig hou terwyl ouers tuis werk soos die wind:

  • Eie projekte: Mens wil hê jou kinders moet soveel as moontlik beweeg en vars lug inasem in die kwarantyntyd, daarom moedig ons buitelug-projekte aan. Laerskoolkinders is al goed handig met ʼn skêr, snymessies, maatband, tang of gomgeweer (glue gun) en as ouers hulle geduldig raad gee, kan hulle ure lank op hulle eie regkom met projekte. Dié week het ons seuns ʼn “avontuurbaan” vir hulle albasters ontwerp en gebou wat werk met rekkies, pype en oorskiethout uit die garage. Dis ʼn eksperiment wat hulle dae lank by die tuintafel besig hou. ʼn Ander lekker projek was om helms en wapens te maak uit karton. Ek hoor van laerskoolmeisies wat nou pophuise bou of naaldwerk doen. Kwarantyn is ideaal vir sulke uitgebreide projekte.
  • Braai, bak en brou: As ouers vir hulself ekstra werksure wil wen, leer die kinders kosmaak. Sedert hulle kleuterjare het ek saam met die seuns uit die kinderkookboeke gebak en noudat hulle groter is, is ek diep dankbaar daaroor. Ons negejarige bederf ons soms met herderspastei, pynappel-roomys, hawermoutkoekies en pampoentert. In die tyd van kwarantyn raak die brood gou op en hy het die week vir ons groente-en-salmbrood en knoffelbrood gebak. (Ek hanteer wel die warm oondwerk.) Ons oudste klong was tien jaar oud toe Gerrit hom geleer het van vuurmaak en braai en dit was sowaar ʼn wonderlike belegging – ons wen ure van werkstyd terwyl hy (nou twaalf jaar oud) ʼn paar keer per week braai! Begin met flatervrye geregte soos wors, mielies, patat in foelie en braaibroodjies en vorder dan na potjiekos, snoek en skaaptjops. ʼn Ander voordeel is dat braai die kinders ure in die buitelug besig hou. Dis natuurlik ook uitstekend vir hulle gevoel van selfstandigheid.

    Foto: Carina Stander

  • Gedurende kwarantyn speel ons gesin elke tweede aand ʼn bordspeletjie. Ons gunstelinge is die soort wat nie net met gelukskote werk nie, maar ook strategiese beplanning vereis: Traders of Catan, Scrabble, Cluedo, Mobi Math, Monopoly en Koehandel. Vir twee spelers: skaak of vingerbord. Hierdie speletjies neem tussen 5 minute en 3 ure. Dis sommer ook gesond vir kinders om te leer dat mens nie altyd hoef te wen om die lewe te geniet nie.
  • ʼn Mooi 1 000+ stuk legkaart wat die gesin saam-saam kan begin bou en wat die kinders dan bedags terwyl die ouers tuis werk so stuk-stuk kan voltooi, is ideaal.
  • Selfoonspeletjies: As IT-ingenieur reken Gerrit dat Minecraft een van die beste rekenaarspeletjies op die mark is om kinders basiese programmeerbeginsels te leer. Minecraft is baie kreatief, nie-gewelddadig en goedkoop. (Installering kos ʼn eenmalige R90.) Ons huisreël is onwrikbaar: Die kinders mag elkeen ʼn maksimum van ʼn uur per dag selfoonspeletjies speel, maak nie saak of jy siek voel, dit reën en of kwarantyn vir weke lank aanhou nie. Hulle stel die wekker en verdeel dit in twee halfuur-sessies. Onbeperkte skermtyd sal hulle tyd steel van ander vermaak en vaardighede soos boomklim, boeklees, braai of kitaarspeel.
  • Foto: Carina Stander

    Ons het nie ʼn televisie nie, maar ons het ʼn projektor en seilskerm van 3 m x 2 m waarop ons gesin twee of drie keer per week saam fliek – tuisgemaakte springsmielies op die skoot. Om flieks vir tweens (kinders tussen 9 en 12 jaar oud) op te spoor, is nie aldag maklik nie. Lekker kinderfilms vir seuns is Hugo, Claus en Spiderman: Far from home. Ons seuns geniet ook Guardians of the Galaxy en Star Wars. How to Train Your Dragon (die drie flieks en die televisiereeks) is ʼn allergunsteling. Goeie gesinsvermaak is die nuwe natuurdokumentere reeks van David Attenborough wat in 2019 vrygestel is: Seven worlds, one planet.

  • Ons gesin gebruik die laaste twee jaar elke Sondagaand die Bible project: Dis kort en kragtige video’tjies van ongeveer 7 minute elk waarin elke Bybelboek geanimeer word asook Bybelse temas soos vrygewigheid. Dis uitstekend en toeganklik vir oud en jonk. Ons kyk ʼn video, bespreek dit en lees dan die lieflik geïllustreerde Aksiebybel en “Grootmensbybel”, ʼn hoofstuk per week – dit help om die verhaal of geloofsheld binne ʼn groter geheel te sien. So is ons deur Eksodus, Konings, Sameul, Daniël, Mattheus en Handelinge. Ons bid dan vir mekaar, sing soms aanbiddingsliedjies en siedaar: ʼn uur van intieme, interaktiewe gesinskerk!
  • Lego bly ʼn lewensredder! Ons seuns het ʼn hele paar stelle, maar die pakke los gemengde blokkies waarmee hulle hul eie ontwerpe kan bou, bly bobaas. Dit hou hulle weke lank besig.
  • Sedert die seuns se geboorte het ek minstens ʼn halfuur per dag vir hulle boek gelees en noudat hulle op laerskool is, verslind hulle stapels boeke. Boekreekse is ideaal, want dit gee kinders die kans om onder die vel van karakters in te klim en die verbeelde wêreld hul eie te maak en dit gee ouers ʼn blaaskans om nie aanmekaar na nuwe boeke te soek nie. Fantastiese boekreekse wat my laerskoolkinders baie geniet, is Dagboek van ‘n wimp deur Jeff Kinney, Hoe om jou draak te tem en Die towenaars van weleer van Cressida Cowell, Die Boomhuis-reeks van Andy Griffiths en Terry Denton, die Kuifie en Asterix-reekse, Pippie Langkous van Astrid Lindgrin en Die Kronieke van Narnia deur CS Lewis. Boeke wat nie deel is van reekse nie maar vir ure se leesgenot sal sorg is Roald Dahl en Dr Seuss se boeke, Koning van Katoren van Jan Terlouw, Die Hobbit deur JRR Tolkien – alles in Afrikaans of Engels beskikbaar. ʼn Bielie van ʼn boekreeks wat hulle tans eindelose plesier verskaf, is The Inheritance Cycle van Christopher Paoline.

Dit was vir my ʼn openbaring om te besef: Dit wat mens in die voorskoolse jare in jou telge se lewens saai, spruit nie net uit in ʼn leeftyd van herinneringe nie, maar ook in laerskoolkinders wat hulle eie vermaak kan skep. Lank nadat die afsonderingsperiode verby is, gaan daar iewers ʼn naweek of vakansiedag opduik waarin jy dringend werk moet klaarmaak – dan gaan jy jubel en juig dat jy jou kinders gehelp het om hulle dae met opbouende projekte te vul.

Goeie gesinstyd is nooit, ooit verlore tyd nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.