Gesinsrituele maak Kersfees besonders

Kersfees-familie

Foto: Pixabay.com

Elke gesin het hulle eie Kersfeesrituele soos: Om tiekies in Kerspoeding te ontdek, of om die Kersboom op ’n spesifieke dag in Desember op te slaan, of om Oukersaand rondom die Kersboom te sit waar Oupa uit die Bybel lees, terwyl al die kinders gretig loer na die pakkies onder die boom.

Rituele is van besondere belang wanneer gesinne deur ’n krisis soos dood, egskeiding, siekte of verhuising gaan. Dan herinner rituele ons aan beter tye, dit gee hoop dat alles nie verlore is nie en dinge weer gaan terugkeer na “normaal”. Probeer dus om rituele in stand te hou wanneer jou gesin deur groot veranderings gaan.

Die brein soek na patrone, dit skep veiligheid en ’n gevoel dat ons kan oorleef. In tye toe die mens gefokus moes wees op fisieke oorlewing en wilde diere en natuurelemente moes trotseer, het roetine ’n baie belangrike rol gespeel en kinders van kleins af geleer om baie spesifieke patrone te volg ten einde te oorleef. Ons brein is vandag nog daarop ingestel om patrone raak te sien; ons soek na patrone en dit word ons maatstaf vir normaal. “Normaal” laat ons veilig voel.

Dit is waarom die eerste Kersfees baiekeer konflik tussen ’n nuwe paartjie kan laat ontstaan. Hulle het nooit eers oorweeg om oor die manier van Kersfees hou te gesels nie, maar skielik is dit belangrik of geskenke op Oukersaand of op Kersoggend uitgedeel word en of ’n mens ’n groot ete of net southappies eet. Die brein soek vir patrone, vir iets wat sê: Dis veilig, dis normaal.

Tydens Kersfees is ons meer ingestel op rituele as die res van die jaar. Dit is egter van groot belang dat elke gesin doelbewus moet werk aan die skep van liefdesrituele. Liefdesrituele het ’n paar elemente; dit vereis teenwoordigheid in die oomblik, oogkontak, aanraking en pret.

Maak byvoorbeeld van groet ’n baie spesifieke liefdesritueel; kyk jou kind in die oë, vryf neuse teen mekaar of pik ’n soentjie op die voorkop, gee ’n “high five” en sê “gaan groot of kom huis toe”… Maak seker dat jy konstant elke dag hierdie ritueel volg wanneer jy jou kind by die skool aflaai. Wanneer jou kind vanmiddag in die kar klim; maak seker dat julle oogkontak maak, vra sommer iets belagliks soos: “Wat kan jou hande my vertel oor wat hulle vandag gedoen het, en kan jou ore dalk sê wat hulle vandag als gehoor het?” Hierdie paar minute van liefdesrituele laat die kind belangrik en veilig voel.

Liefdesrituele is ’n baie belangrike voorvereiste vir die vorming van “bruggies” tussen die verskillende dele van ’n kind se brein. Die “bruggies” is noodsaaklik sodat die kind uiteindelik die vermoë ontwikkel om sy/haar hoër brein te gebruik. Dit is waar probleemoplossing, doelwitstelling en selfbeheer kan plaasvind.

Mag elke gesin hierdie Kersfees ervaar hoe die rituele hulle saambind en veilig laat voel en mag ons doelbewus tyd maak vir liefdesrituele deur die hele jaar!

Meer oor die skrywer: Karin Grobler

Karin Grobler is ʼn ma, ouer-opleier (parent coach), spelterapeut, pastorale berader, beroepsvrou en ʼn volgeling van Jesus Christus. Sy het in 2013 haar M-Phil graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Karin het ʼn produk ontwikkel wat sy Gevoelsmaatjies noem, wat ʼn handige hulpmiddel is om kinders te help om emosionele vaardighede aan te leer. Besoek gerus haar webwerf.

Deel van: Gesondheid, Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Ja, maar die verlies aan sulke bruggies kan ook ‘n persoon so depressief stem dat hy of sy nie moed het om daarsonder aan te gaan nie. Die lewe is nie ‘n roostuin nie. Verlange na wat was kan ‘n mens maklik in moedverlore se vlakte laat vasval. ‘n Geloof in die Here se Woord is ‘n meer konstante as families se rituele en drukkies. Laasgenoemde is wonderlik maar baie mense moet maar daarsonder klaarkom. Geborgenheid is nie ‘n waarborg vir ‘n roemryke en gelukkige lewe nie. Daar is ook niks so aaklik soos geforseerde liefdesvertoon nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.