Gesonde eetgewoontes dalk jou klein boekwurm se suksesresep

baba-eet-waatlemoen-publicdomainpicture

Foto: Publicdomainpictures.net

ʼn Studie wat onlangs in Finland gedoen is, het bevind jong kinders wat ʼn gesonde dieet volg se leesvaardighede vorder vinniger as dié van hul maats wat nie so gesond eet nie.

Die studie is onder 161 Finse leerders tussen ses en agt jaar oud (graad 1 tot 3) gedoen. Navorsers het die kinders se dieet en leesvaardighede gemonitor met behulp van voedseldagboeke en gestandaardiseerde leestoetse. Die bevinding was dat die leesvaardighede van kinders van dié ouderdom wat ʼn dieet van groente, bessies en ander vrugte, vis, volgraanprodukte en onversadigde vette volg, vinniger en beter ontwikkel as dié van kinders wat baie suikerryke voedselsoorte en rooivleis eet.

“Ons het verder bevind dat die verbetering in kinders se leesvaardighede te danke aan ʼn gesonde dieet onafhanklik is van ander faktore wat akademiese prestasie beïnvloed, soos sosio-ekonomiese status, fisieke aktiwiteit, liggaamsvet en fiksheid,” het Eero Haapala (PhD), ʼn navorser van die Universiteit van Oos-Finland en die Universiteit van Jyväskylä, gesê.

Die bevindinge van die studie is in die European Journal of Nutrition gepubliseer.

Wetenskaplikes het in reaksie op die bekendmaking van die resultate die hoop uitgespreek dat dié nuwe inligting die belangrikheid van ʼn gesonde dieet vir kinders, bestaande uit baie vrugte en groente en min suiker en versadigde vette, ʼn groter prioriteit sal maak.

Finland het onlangs die leiding geneem met betrekking tot die gesondheid van kinders deur aan te beveel dat kinders minstens drie uur oefening per dag behoort te kry. Studies toon dat kinders wat daagliks aan die een of ander vorm van aërobiese oefening deelneem, beter op skool presteer as hul minder aktiewe eweknieë.

Hoe lyk die prentjie in SA?

In Suid-Afrika lyk die prentjie wat kinders se eetgewoontes betref, ongelukkig glad nie rooskleurig nie. Die regering en liefdadigheidsinstansies het die afgelope paar jaar goed gevorder met die instelling van voedingskemas by skole waar talle kinders nou minstens een vars vrug per dag ontvang, en minder kinders honger gaan slaap.

Tog bestee Suid-Afrikaanse kinders toenemend meer tyd voor die TV en met ander elektroniese toestelle, verorber hulle meer kitskos en suikerryke drankies as ooit tevore en styg obesiteit onder kinders teen ʼn skrikwekkende tempo. Daar is boonop min snoepies by skole wat gesonde peuselhappies verkoop.

Dit bly ʼn ouer se verantwoordelikheid om sy of haar kind die beginsels van gesonde eetgewoontes te leer, en hom of haar van kleins af leiding te gee oor hoe om die regte voedselkeuses in ʼn wêreld vol versoekings te maak.

Bron: www.naturalsociety.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Esmé ·

In ons huis was jy gelukkig as jy ‘n handvol slap tjips en ‘n sny droë brood gekry het vir aandete. ‘n Pot macaroni met ‘n eier en bietjie gerasperde kaas ingeroer was vir spesiale dae. Ons was arm! Tog was ek die een wat altyd die beste lees-en skryfvaardighede gehad het in my klas. Ek was ‘n top atleet ook. Nooit ontbyt gehad nie, geen kosblik met toebroodjies, net die handvol slap tjips en sny brood elke dag. As jy goeie lees-en taalvaardighede in jou kind wil kweek, stel jou kind bloot aan boeke. Ek het altyd baie gelees want ons was te arm om speelgoed en vakansies te bekostig. Hoe mal was ek nie oor daardie bokse vol Reader’s digest boeke wat niemand wou hê nie! Dit het ook my algemene kennis uitgebrei. Op 8-jarige ouderdom kon ek reeds vir die klas voorlees terwyl die onderwyser besig was met ander dinge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.