Gesonde gesinsgedrag kan boeliegedrag voorkom

Boelies-02

Foto: Argief.

Boelies en boeliegedrag is baie meer algemeen as dit wat elke nou en dan op die nuuskanale verskyn. Daar is skaars ’n gesin waar niemand deur die verskynsel geraak word nie, meen Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos.

Terwyl die lyne gons en die video soos ’n veldbrand op die sosiale netwerke versprei, gaan hierdie gedrag gewoon voort. Dit wat die oppervlakte bereik, waarvan gepraat word, is die oortjies van die seekoei van wat regtig in ons samelewing aan die gang is. Sommige blameer die boelies, terwyl ander gou is om uit te wys dat party kinders slagoffer gedrag openbaar. Maar wat min gesê word, is dat ’n boelieprobleem ʼn groepsdinamika probleem is en nie een of twee mense raak nie maar almal, selfs dié wat ʼn punt maak om nie deel daarvan te wees nie.

Sommige kinders wat om die boelie saamdrom, stel hom in staat tot sy gedrag deur toe te kyk en nie te keer nie en selfs die boelie aan te hits.

“Maar terwyl ons op nuuskanale net fisieke boeliegedrag sien, is boelie iets baie meer, groter en raak dit amper almal wat in groepsverband verkeer. Die definisie van boelie sluit die konsepte van herhaling, aggressie met negatiewe bedoelings en ook  ’n magswanbalans in,” sê Henda.

Navorsing dui daarop dat boeliegedrag vroeg ontstaan – so vroeg as sewejarige ouderdom is die gedrag reeds in ’n patroon gewortel en die  boelie reeds ’gebore’. En terwyl sosioloë hul navorsing doen, word video- en rekenaarspeletjies in hul honderde gemaak, wat op aggressie en wraak gebaseer is. ’Hoe erger, hoe beter’ is amper ’n groepsomskrywing vir die speletjies waarmee veral seuns vroeg reeds kennis maak. In ʼn boelie is hierdie tekens duidelik te bespeur en sielkundige navorsing het reeds bevind dat boelies selfs heeltemal onskuldige gedrag as provokasie kan interpreteer. Iets soos ‘raak net aan my tas, dan kry ek jou terug’.

“Ons sien dat kinderverwaarlosing universeel is en in alle vlakke en klasse van die bevolking voorkom. Daar is verskillende tipes verwaarlosing: Fisiek en ook emosioneel, maar laasgenoemde is nie altyd so maklik om te identifiseer nie. ʼn Kind kan materieel goed versorg word, maar die ouer skeep die kind emosioneel af. So bou ons ongebalanseerde volwassenes. Die ouers se rol en voorbeeld is van kardinale belang. Aggressiewe hantering van gesinslede – of dit nou met mekaar is of met kinders –  in die huislike omstandighede is seker die bepalendste bousteen van boeliegedrag. As die ouers die voorbeeld stel, is dit moeilik om aan ’n kind te verduidelik dat sy gedrag onaanvaarbaar is en sy gedrag te verander,” sê Henda.

By die CMR was die grootste toename van maatskaplike probleme by gesinne met groter materiële nood, finansiële druk en werkloosheid. In die laaste jaar het die getal gesinne wat die CMR in hierdie verband bygestaan het, vermeerder van 765 gesinne tot 1029. “Ons vind dat die nood bydra tot gesinsgeweld en kinderverwaarlosing: Gesinne met ernstige probleme – gewoonlik gesinsgeweld en huwelikskonflik – het toegeneem van 405 gesinne tot 455. Die aantal verwaarloosde kinders wat by ons aangemeld en gehelp is, is ook aan die toeneem. Dit dui daarop dat diegene vir wie volwassenes verantwoordelik behoort te wees, juis deur hulle in die steek gelaat word. Boeliegedrag is een van die probleme wat hiermee verband hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anne ·

My kind het gebukkend gegaan onders so boelie, was baie in die hoof se kantoor – en die ergste is die skool beskerm die boelies meer as die victim, hulle kan honderde verskonings gee hoekom die kind (boelie nie geskors kan word nie maar as jou kind himself verdedig word hy gestuur vir sielkundige toe omdat hy aggresief is – en dan praat ek nie eens van die onderwysers wat kinders so boelie en afkraak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.