Graad R-kinders begin te gou lees en skryf, meen kenners

Anienie Veldsman en Linda Smith van Care for Education. Foto: Verskaf

Navorsing wys dat vyf- en sesjarige kinders te min speel en te gou met formele leer (lees, skryf en wiskunde) begin.

Anienie Veldsman, ’n dosent in vroeë kinderontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria en beurshouer van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, werk tans aan haar PhD wat fokus op perseptueel-motoriese vaardighede en die belangrikheid van spel vir die geletterdheidsvoorbereiding van graad R-kinders.

“Verskeie skole begin reeds met formele leer in graad R, en dit is gans te vroeg. Dit bekommer my, want kinders op daardie ouderdom moet beweeg – hulle moet speel. Deur middel van spel ontwikkel hul perseptueel-motoriese vaardighede wat hulle in staat stel om beter te leer.”

Anienie meen kinders in graad R en graad RR se perseptueel-motoriese vaardighede word tussen vyf- en sesjarige ouderdom ontwikkel deur spelaktiwiteite soos boomklim, balskop en trampolienspring. Wanneer kinders nie genoeg van dié aktiwiteite beoefen nie, kan dit moontlike nagevolge inhou vir die toekoms.

Perseptueel-motoriese vaardighede sluit onder meer die volgende in:

  • Koördinasie
  • Balans
  • Skouerstabiliteit
  • Lateraliteit (om te kan onderskei tussen links en regs)

“Hierdie vaardighede moet soos ʼn fondament gelê word, en eers wanneer dit reg is, kan jy begin met formele leer. As hierdie fondament nie reg is nie, is daar ʼn moontlikheid dat hulle leerprobleme op skool kan hê.”

Vir Anienie kan die belangrikheid van spel nie genoeg beklemtoon word nie en sy meen dit is veral by die Westerse kultuur waar kinders te vroeg gedruk word om te begin met lees en skryf.

“Al kan die kind ál die letters van die alfabet klank, maar hy kan nie sê watter letter kom eerste, tweede of laaste nie, kan hy steeds nie lees nie. En hierdie ouderdom is eintlik die beste tyd waar dié vaardighede aangeleer kan word; as hulle ouer word, kan dit amper te laat wees.”

Anienie is tans besig met ʼn studie wat oor agt weke geskied waar ʼn program (wat uit verskeie praktiese aktiwiteite bestaan) saam met onderwysers uitgewerk word om juis kinders te help wat sukkel met vaardighede soos balans en koördinasie – wie se perseptuele leer nie goed gevestig is nie en wat as gevolg daarvan leerprobleme  kan ontwikkel.

“Ons wil hê kinders moet beter kan lees en skryf, hulle moenie met hierdie vaardighede sukkel as hulle in graad 1 aan formele leer blootgestel word nie. Die program fokus verder op die professionele ontwikkeling van onderwysers en om die onderwyser se vaardighede te verbeter om sodoende graad R-kinders beter te kan ondersteun in terme van spelgebaseerde geletterdheidsvoorbereiding. Ons wil verder ʼn program uitwerk wat enige onderwyser met beperkte hulpbronne en geld in die klas kan gebruik en wat sodoende die onderwyser kan bemagtig. Die program bied verskeie alternatiewe in terme van apparaat. Skole wat nie al die apparaat het nie, sal dit maklik met iets anders wat nie die eindresultaat sal beïnvloed nie, kan vervang.”

Drie skole van Daspoort en Mountain View in Pretoria neem deel aan die studie en 13 onderwysers lewer hul insette en gesels oor die uitdagings in terme van wat hulle in klasse beleef. Aktiwiteite word uitgewerk en aanpassings word gemaak sodat die program prakties uitvoerbaar is. Die doel van die program is om kinders wat agterstande in perseptueel-motoriese terreine het weer op hul eie, gepaste vlak te kry deur middel van spel.

Anienie sal die data wat sy mettertyd insamel, verwerk en opteken, maar die plan is om die program na Umalusi (die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding) te neem sodat dit versprei word na skole.

Care for Educations, ʼn niewinsgewende organisasie, het R200 000 se Lego-speelgoed aan Anienie geskenk wat aan die deelnemende skole gegee is en ook deel uitmaak van die aktiwiteite wat by die program ingewerk sal word. Sy is ook baie dank verskuldig aan Eazy Move Pretoria vir die vervoer van dié Lego-skenking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

24 Kommentare

Lego ·

Wie is die kenners en onder watter groep kinders is daar nouweer navorsing gedoen? Ek het al op 4 leer lees, en dit was glad nie ‘n slegte ding nie. Vandag kan ek spel, lees en skryf, iets wat ek nie van al my kollegas om my kan sê nie.

Alida ·

Ek stem volmondig saam met jou, Lego. ‘n Hele paar wêreldwye studies het bevind die beste ouderdom om ‘n kind te leer lees is 4 jaar. My kinders kon al drie vlot lees toe hulle skool toe gegaan het, maar dit het geensins inbreuk op hulle aktiewe speeltyd gemaak nie. Kinders wat te veel tyd voor ‘n TV spandeer is na my mening ‘n groter sondebok.

Marli ·

Plaas vir ons asseblief skakels na hierdie “studies”? Dit is ‘n denkrigting wat meer as 50 jaar oud is.

juffrou ·

Marli, dalk is dit hoekom kinders 50 jaar terug kon lees en vandag nie? Alida, gaan kyk op die wereld ranglys waar is die lande wat kinders vroeg leer lees en skryf. Finland begin op 7 lees en skryf en hulle is die 2de beste in die wereld.

Kobus v Rooyen ·

Al die kommentaar is baie interressant. ..die meeste mense en opvoedkundiges moet begin by die basis..hoe sien jy…hoe ontwikkel jou sig..wanneer is watter oog korrek ontwikkel sodat die brein ñ enkele beeld vorm….waar pas jou kant visie in om vir sentriese visie te sê daar is ñ a oppad…dan is al die kommentaar saam gevat dat die ou stelsel korrek was wat gebasseer was op feite. Gaan kyk wanneer het Einstein eers skool toe gegaan.

Jingizu ·

Steam heeltemaal saam met Lego en Alida. Die artikel praat snert.

Mens kan nooit te vroeg leer lees en skryf nie! Hoe vroeer hoe beter. En nuwe studies van die laastse 10 jaar het ook bewys dat daar ander maniere as boomklim is om perseptueel en motor vaardighede te leer. Lego bou is ‘n goeie voorbeeld, en toepasslike rekenaar speletjies is nog ‘n baie goeie voorbeeld.

Dit is inderdaad bewys deur die studie dat kinders wat gereeld toepasslike rekenaar speletjies speel, BETER motoriese en perseptuele vaardighede het as kinders wat dit nie doen nie. Ook dat hulle beter probleem oplossing vaardighede ontwikkel op ‘n vroeer ouderdom as kinders wat dit nie speel nie.

Natuurlik moet daar fisieke aktiwiteite ook wees. Balans…

lag net ·

Jingizu, van watter studies praat jy….. ? Om rekenaar speletjies te speel het seker sy plek maar dit bevorder BESLIS nie motoriese vaardighede soos wat die studie van praat nie. Motoriese vaardighede is hoofsaaklik beweging. Sover ek weet beweeg net jou vingers as jy rekenaar speletjies speel. Ja dit bevorder fynmotoriese vaardighede soos wat Lego ook doen. Jy ontwikkel slegs een gedeelte van perseptueel motoriese vaardighede. As jy Lego speel spring jy nie op en af nie tensy jy dit met beweging inkorporeer, soos die studie doen.

Kollie ·

Vroeg ryp, vroeg vrot. Soos mense wat hulle kinders ‘n jaar te vroeg in die skool wil indruk.

Nisha ·

Ons bly in Japan, my 3 jarige begin nou lees en skryf. Hulle is soos sponse op daai ouderdom. Kry nog genoeg tyd in die middag om te speel en bal te skop.

Linda van Mosselbaai ·

Elke kind is uniek – meeste van ons ouer mense is al op 5 1/2 skool toe – ons spel goed – ek het ook nie lego’s gehad nie Die beste resep is balans – buite speel – swaai – fietsry – kuns (verf, KLEI knip, plak ens) hou TV minimum – bordspeletjies – leer jou kind tafeldek & KOSMAAK &
KOEKIES BAK (telvaardighede) Tyd voor rekenaar en/of tablet behoorlik gemonitor – musiek (dans /slaginstrumente/luister) WEES BETROKKE BY JOU KIND. LEES VIR JOU KIND – NEEM BOEKE UIT – LAAT HULLE KIES.

john ·

Meeste op 5 1/2? Watter land is dit want die meeste was 6 en 7. Ek sal weet want ons almal was daar. Graad 1 bly nog die beste opsie vir enige kind om dan eers op skool te wees. Die hele graad R en RR is net n geldmaak foefie.

Amy ·

As n Gr R juffrou stem ek saam. Dit gaan nie so erg oor lees self as die feit dat daar ander vaardighede is wat kinders eers moet bemeester voor hulle lees.. As n kind reg is om te lees is dit great ma ek sien al meer en meer kinders wat sukkel om klanke te onderskei, om te luister na instruksies ens juis omdat daar sekere dinge is wat hulle nog nie geleer het nie…. l

Rentia Wilkinson ·

Ek is ñ kleuteronderwyseres wat nie meer as 12 kleuters tussen 3j-graad R jaarliks in afrikaans onderrig. Almal in dieselfde klas maar volgens ouder in groepies gerangskik. Dit werk uitstekend, tema dieselfde, aktiwiteite ouderdoms gerig. Speel ten minste 1 1\2 uur buite per dag en ten minste 1 uur met ñ verskeidenheid blokkies\legkaarte afwissellend om verveling te voorkom. Gebruik liedjies vir sekere vaardighede en leer hulle klanke en die korrekte skryf daarvan in graad R, ken dit gewoonlik reeds a.g.v vorige jare se oudjies. My eerste graad R skryf vanjaar matriek, nie een van my kleuters het al ñ jaar herhaal en ñ groot persentasie is in die toptien. Maak die klasse kleiner, onderrig in een taal en dinge gaan reeds baie beter lyk. Kleuteronderwys is informele leer, speel met hom terwyl hy sekere vaardighede aanleer en leer hom DISSIPLINE, dit is die grootste guns wat jy vir hom kan doen. Lê reëls duidelik neer en laat die belhamel die gevolge dra, dit is ouers se voorreg om lyfstraf toe te pas sou hulle wou, gebruik jy (onderwyseres) groepsdruk, kleuters haat dit om uitgesluit te word al is dit net ñ paar minute. Ek het GEEN dissipline probleme nie want ek onderhandel, dreig of skreeu nie dus word my poging tot gesag nie agtergrond geraas vir hierdie kinders wat dikwels gewoond is aan ñ geskreeu deur oormoeg ouers. Gooi die tv tuis toe met ñ bekende program en vra die kinders wat gebeur en min sal weet. Hulle luister nie.

Saskia Meijer: Instituut vir Christelike Onderwys ·

Uitstekende artikel en ons is dankbaar dat die navorsing gedoen word. Die aandag wat aan die perseptuele program verleen word kan nie genoeg beklemtoon word nie. Persepsie is die kontak wat die brein met die buitewêreld maak d.m.v. gegewens wat deur die sintuie na die brein gevoer word. Die kind moet perseptueel gereed wees voor formele onderrig kan begin. Navorsing het bewys dat tot 30% van alle kinders wat graad 1 betree ’n gebrek aan perseptuele rypheid toon.
Kinders wat blootgestel word aan intensiewe perseptuele ontwikkeling vertoon beter konsentrasie, kan opdragte beter uitvoer en groot en kleinspierbeheer verbeter. Kinders ontwikkel die vaardighede om inligting te verstaan, te integreer en te organiseer. Hierdie program daag ook die kind se intellektuele, sosiale en emosionele rypheid uit. Die langtermyn waarde van die korrekte uitvoer van die perseptuele program dra daartoe by dat die kind in graad 1 soveel makliker inpas, aanpas en sukses op skool ervaar. Die program maak ruim voorsiening vir vroeë leerders wat op insidentele wyse vinniger begrip toon vir lees en skryf en betekenis daaraan kan heg. Wat vir ‘n ouer kan lyk na ‘n onbelangrike speelaktiwiteit is vir die voorskoolse kind ‘n intense leeraktiwiteit, wat dalk lyk na ‘n morsige skeppingsaktiwiteit het die moontlikhede ingehou om belangrike vaardighede wat nodig is vir formele leer ontwikkel. Japan word in die kommentare genoem, maar is Finland se beleid hieroor ook ondersoek? Moet asseblief nie die opvoedkundige waarde van spel onderskat nie.

ma en opvoeder ·

Hierdie artikek slaan die spyker op die kop. Die rede hoekom mense vroeer jare kon vroeer leer lees en skryf is bloot omdat hulle n totale ander leefstyl as vandag se kinders gehad het en teen 4 jaar oud reeds baie van die nosige vaardighede wat in die artikel genoem word bemeester het. Vandag se kinders word in n baie meer tegnologiese wereld groot wat hul buite speel tyd inkort. Ook word kinders in kleiner erwe groot en met 2 werkende ouers. Hulle word ook baie meer beskerm groot as in die ou dae agv al die moord en ontvoerings ens in die wereld. So om n paar jaar terug (of n vorige generasie) se kinders met vandag sin te vergelyk is totaal onvanpas en onlogies

john ·

Enige kind wat eers na graad 1 gaan het net soveel beter om te presteer as ander. Los jou kind om te kan speel en saam met ouers te kan begin lees, teken en skryf en in graad 1 sal jou kind ok wees. Laat jou kind toe om eers kind te wees.

Zuquina ·

Ek kon self ook vlot lees nog voor ek skooltoe is, ek kan nie sien waarom dit ‘n probleem kan wees nie. Ek voel mens leer vinniger van die wereld as jy vroeg al kan VERSTAAN wat jy lees – dit help in jou toetse en eksamens. Ons het oorgenoeg gespeel ook, ek het sterk beendere en spiere van kleinsaf. Ook skilder ek, so daar is geen “gaping” in ander vermoens ook nie. Mens se brein is fantasties aanpasbaar.

Boekwurm ·

Hierdie kenners is óók die “kenners” wat kinders ál van graad 1 af “lewensoriëntering” as vak aanbied, goed wat kinders nie hoef te weet nie. My seuntjie het pas 5 geword, is in ‘n baie goeie skool, helfte van die dag leer hulle en helfte speel hulle. Hy stel baie daaraan belang om te leer lees en skryf. As ek iets skryf vra hy dikwels “mamma wat staan daar”. Hy kon van vroeg vroeg af sy naam en van uitken. Hy kon bal skop net na hy begin loop het, ek dink hy skop nou al ‘n bal better as ek, is dit al wat hy nogsteeds moet doen? Hy tel graag lamppale soos ons deur die strate ry, tel al maklik tot by 50, al word daar vereis dat hy net tot by 30 moet kan tel. Ek voel soms die kurrikulum hou hom agter omdat hulle hom eers later wil leer lees en skryf. MY kind stel belang, so waarom sal ek hom weerhou van al die interessante dinge wat hy kan lees in boeke?? As hy belang stel sê ek, waarom nie?

svdm ·

Boekwurm, dalk toon jou kind belangstelling omdat die skool waarin hy is genoeg tyd gun vir speel. Onthou die artikel verwys na formele leer. Formele leer is werksvelle en toetse, nie terloopse leer soos waarvan jy praat nie. Dit wat jy jou seuntjie aan blootstel is nie formele leer nie. Ek verstaan nie heeltemal hoe jy die artikel en lewensorientering met mekaar verbind nie. Snaaks genoeg hoeveel onderwysers positief hierop reagteer, dalk omdat hulle weet daar steek waarheid agter die studie en navorsing.

dankie ·

Wel, dankie aan Care for Education wat hierdie enorme hoeveelheid Lego SKENK. Wonderlik dat daar nog sulke mense/organisasies is. Mag hierdie program baie kinders en onderwysers, wat reeds so hard werk, se lewens verryk.

Onnie ·

Ek is al 25 jaar in die onderwys, waarvan 11 jaar ‘n graad 1 juffrou. Kinders word ‘ryp’ om sekere vaardighede aan te leer en baas te raak. Daar is ‘normale’ ontwikkelings mylpale wat universeel is in kinderontwikkeling. (natuurlik is daar altyd uitsonderings). My ervaring van graad 1 onderrig het my geleer dat kinders van 6/7 jaar oud ‘ryp’ is om formeel te leer lees en skryf met min probleme (natuurlik as daar nie onderliggende perseptuele- of ontwikkelingsuitvalle is nie). Sommige kinders leer spontaan, insidenteel lees voor hul skool toe gaan (soos my eie seun wat nou al gr 12 is). Hy was gereed en baie leergierig, en het homself op 5 geleer lees terwyl ek sy graad 1 boetie help met huiswerk. So ‘n kind sal jy nie KAN terughou nie. Maar wat ek ook sien is dat die outjies wat skool toe kom en NIE kan lees, nie, haal die outjies wat wel kan lees in en teen Julie maand is hul gelyk, soms Steek hul d wat kon lees verby. Laat die kleuters nog lekker speel, hulle sal in graad 1 leer lees en teen Augustus al sinne skryf. My kind wat eers in graad 1 leer lees het, het 6, amper 7 onderskeidings in matriek gehad en my kind wat op 5 kon lees, is matriek en werk hard vir 7 onderskeidings. Ouers moet ontspan en net hul kind geniet en eerder fokus op kwaliteit tyd en minder bekommerd wees oor lees en somme maak voorskool.

Martin Boshoff ·

My twee seuns kon lees en skryf voor hulle skooltoe is. My oudste kleinkind kon die Onse Vader met toe oë sê in Spaans in sy eerste jaar op skool. Sy lieflingspel is skaak . Hy wen my altyd.

Hester ·

Ek is oor die 30 jaar in die onderwys en as liggaams opvoeding onderwyser ervaar ek die fisiese agteruigang van die kinders. Oorgewig, swak eet gewoontes, swak liggaamshouding. Agv ons lewensomstandighede – beide ouers wat werk, gebrek aan speel areas, gevaar van ontvoering, onverskillige bestuurders ens kan kinders nie meer speel soos 30 – 40 jaar gelede nie. Jou liggaamlike ontwikkeling loop hand aand hand met jou breinontwikkeling.

Jasper ·

Soms as ek die snert op die kommentaar sien, dan wens ek dat ek eerder nooit leer lees het nie… Ons het te veel “kenners” deesdae – elkeen dink hy het die antwoord, maar die antwoord verander elke 5 jaar.
Sekere kinders is reg op 4, ander kinders is reg op 7. n Wiskundige kan nie noodwendig goed spel nie, en n taalkundige kan nie noodwendig somme doen nie. Wees betrokke en jy sal sy of haar talente gou genoeg raaksien. As Jacob en die Donald vir ons enigeiets geleer het, dan is dit dat enige ou bo kan uitkom al is jou IK laag

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.