Gratis loopbaanadvies by Maties-opedag 

studente

Foto: Argief

Die Universiteit Stellenbosch (US) se opedag is die ideale geleentheid waar Graad 11- en 12-leerders alles kan uitvind oor universiteitstudie, loopbaankeuses, beurse, lenings en die studentelewe. Die opedag vind op 28 Februarie tussen 09:00 en 16:00 by die Stellenbosch- en Tygerbergkampusse plaas.

Volgens Magdel Pretorius, projekkoördineerder en adviseur by die US se Sentrum vir Studentewerwing, gaan ouers en voornemende studente die geleentheid kry om met fakulteitspersoneel en verteenwoordigers van die verskeie steundienste te gesels.

Vanjaar is ook die eerste keer dat die universiteit toegang bied tot ʼn gratis loopbaanvoorligtingvraelys wat geskikte beroeps- en belangstellingsvelde identifiseer en dit dan aan verskeie beroepe en studie geleenthede koppel.

Volgens Pretorius kan die program Course Chooser jou help om te bepaal vir watter programme jy kwalifiseer gebaseer op jou Graad 11- of 12-vakke en -punte.

Die US bied wel loopbaanvoorligting aan graad 11- en 12-leerders. “Hierdie diens behels ʼn psigometriese assessering van persoonlikheid, aanleg en belangstellings, individuele gespreksessie, asook ʼn geskrewe verslag van die resultate en aanbevelings, maar vir diegene wat dit nie kan bekostig nie is die vraelys ʼn perfekte opsie,” aldus Pretorius.

Volledige inligting oor die program en inligtingsessies is by die verwelkomingstent voor die US se Konserwatorium in Victoriastraat beskikbaar. Daar sal ook ʼn kampuskaart beskikbaar wees en bussies om besoekers na en van die lokale te vervoer.

Daar sal ook verskeie ander opvoedkundige instansies by die opedag wees naamlik Isa Carstens Academy; Stellenbosch Hair Academy; Stellenbosch Academy for Design and Photography; Stellenbosch Rugbyakademie; Boland Kollege; The Private Hotel School; ICA en Aleit Academy; CTU en The Hurst Campus.

Vir meer inligting en die volledige program klik gerus hier of skakel 021 808 9111.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.