Grendelleer ontsluit nuwe moontlikhede

Argieffoto.

Deur Melanie Buys en Marius Botha

Die Covid-19-storm en drastiese inperkingsmaatreëls het ook onderwys in Suid-Afrika ernstig beïnvloed. Met die chaos van alle skole wat aanvanklik gesluit is, en nuwe planne wat beraam moes word sodat onderrig kan voortgaan op ʼn wyse wat leerders se veiligheid sover moontlik waarborg, het verskeie uitdagings, maar ook positiewe moontlikhede, ontstaan.

Die konsep van grendelleer (oftewel lockdown learning) is deur die minister van onderwys se Covid-19-direktiewe deel van skool gemaak. Grendelleer is basies afstandonderrig onder leiding van die skool. Dit skep ʼn derde vorm van onderrig, naas fisieke skool – met ingeskrewe leerders en kontakklasse aan die een kant, en tuisonderrig aan die ander kant. Onderskeid word getref tussen tuisonderrig, waar die ouer in beheer is van die leerprogram, en grendelleer as vorm van afstandonderrig, waar die kurrikulum deur die skool gefasiliteer word.

Skoolplig

Artikel 3(1) van die Suid-Afrikaanse Skolewet bepaal dat leerders skoolpligtig is vanaf die ouderdom van 7 jaar tot en met 15 jaar, of graad 9. Dit is ouers se verantwoordelikheid om seker te maak dat skoolpligtige leerders wel skool bywoon. Sou ouers versuim om seker te maak dat skoolpligtige leerders skool bywoon, sal hulle skuldig wees aan ʼn misdryf. Slegs die provinsiale hoof van onderwys mag ʼn leerder vrystel van verpligte skoolbywoning.

Skole word wetlik verplig om rekord te hou van leerders se skoolbywoning en dit dan aan die departement deur te gee. Indien ʼn skoolpligtige leerder nie skool bywoon nie en die ouer nie ʼn geldige verskoning of toestemming vir niebywoning kan voorsien nie, sal die leerder na 10 aaneenlopende skooldae se afwesigheid gerapporteer word, wat daartoe kan lei dat die leerder gederegistreer word.

• Melanie Buys is die hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). (Foto: Verskaf.)

Tuisonderrig vs. grendelleer

Die SA Skolewet vereis dat tuisonderrig-ouers formeel registreer by hul provinsiale departement van onderwys om hul kinders tuis te kan onderrig. Tuisonderrig-ouers is volkome verantwoordelik om te verseker dat aan kurrikulumvereistes en minimum standaarde voldoen word. Panyaza Lesufi, LUR van onderwys, moedig angstige ouers links en regs aan om tuisonderrig te oorweeg en bied selfs aan om die aansoekproses vir tuisonderrig te bespoedig. Min ouers in Suid Afrika sien kans vir die groot verantwoordelikheid wat tuisonderrig vereis, of is toegerus om die uitdagings van werk en tuisskool doeltreffend te balanseer. Bowendien is ouers dikwels geskok om te sien dat die koste van leermateriaal, akkreditasie, tutors en eksamens vir tuisonderrig dikwels nie veel verskil van openbare skole se skoolgeld nie.

Indien ouers tydens die pandemie besluit om na tuisonderrig oor te slaan, sal hul kind as leerder van die skool gederegistreer word. Dit hou risiko in vir die ouer, indien hy of sy van plan verander en die kind terug in die skool wil plaas, dat daar nie meer plek in die spesifieke skool is nie. Krimpende leerdergetalle hou ook risiko vir die skool in, omdat die verlies aan inkomste beheerliggame se vermoë om onderwysers aan te stel, beperk. Dit skep ook geleentheid vir die Lesufi’s van die wêreld om skole te transformeer.

Grendelleer verskil drasties van tuisonderrig. Die departement van onderwys is daarvoor verantwoordelik om te verseker dat leermateriaal en voortgesette onderrig aan leerders gebied word wat nie tydens die pandemie skool kan bywoon nie. Onderwysdirektiewe van 23 Junie 2020 (artikels 7 en 8) bepaal dat ouers by die provinsiale hoof van onderwys aansoek kan doen om hul kind van fisieke skoolbywoning kwyt te skeld. Kwytskelding word verleen aan leerders wat onderliggende siektetoestande het, in kwarantyn of self-isolasie is, of omdat die skool gesluit is as gevolg van Covid-19.

Leerders wat grendelleer verkies, bly steeds ingeskrewe leerders by die skool en word (binne redelike perke) deur die skool bygestaan om as afstandleerders onderrig voort te sit. Ouers neem verantwoordelikheid vir die veiligheid en onderrig van sodanige leerders by die huis, maar skole of die onderwysdepartement moet verseker dat leerders toegang tot onderwyshulpbronne het. Ouers moet reël dat onderrigmateriaal by die skool gehaal of aanlyn afgelaai word en dat hul kind skoolwerk getrou doen. Daar rus ook ʼn verantwoordelikheid op die skool om ouers toe te lig oor hul rol tydens afstandonderrig, om selfverantwoordelikheid by hul kinders aan te moedig en balans tussen mikro- en makrobestuur te handhaaf. Die kurrikulum word deur die skool verskaf en gemonitor.

Uitdagings

Ouers wat tydens die pandemie verkies om hul kinders tuis te onderrig, vind dit soms onmoontlik om die eise van werk en tuisonderrig te balanseer en kinders se onderrig ly skade. Dit is moeilik om deurlopend vergelykbare standaarde te handhaaf wat uiteindelik nodig is om matriek te slaag of universiteitstoelating te kry. Ouers wat van plan verander, en hul kinders terug in die skool wil sit, kan dalk nie weer plek kry nie, of sukkel om te bewys dat die leerder oor die kennis en vaardighede beskik om voort te gaan met die volgende graad.

Die noodsaak van ’n digitale strategie vir skole in Suid-Afrika het tydens die staat van inperking duidelik geword. Tans is afstandonderrig ʼn tydelike maatreël wat nie ewe doeltreffend deur al die leerders gebruik word nie. Skole moes dringend planne beraam om onderrigmateriaal aanlyn beskikbaar te stel en seker te maak dat alle leerders toegang tot leermateriaal het.

Met die beperking van 50% van leerders op skoolterreine, is daar deurlopend leerders wat van die huis af moet werk as gevolg van roterende roosters. Die opvoeders werk beslis harder en langer ure om grendelleer saam met kontakonderrig aan die gang te hou. Onderwysers moes vinnig nuwe kennis en vaardighede bekom om lesse op te neem, hulpbronne elektronies beskikbaar te stel en assesserings te doen.

Skoolbeheerliggame ervaar ʼn groot verlies aan skoolgeld as gevolg van ouers wat hul inkomste verloor het, of nie skoolgeld betaal nie omdat skole as gevolg van die inperking gesluit is. Skole wat nie een of ander vorm van afstandonderrig aan leerders kon bied tydens inperking nie, het veral skoolgeld ingeboet, en was genoodsaak om ouers tegemoet te kom.

Marius Botha is ʼn spesialis in arbeidsverhoudinge, skoolbestuur en -dissipline by MB Konsultante. (Foto: Verskaf.)

Nuwe moontlikhede

Tegnologie maak daagliks nuwe onderwysoplossings moontlik wat in die verlede ondenkbaar was. Skole wat reeds voor die pandemie van aanlyn tegnologie gebruik gemaak het en waar alle leerders toegang tot die internet het, kon tydens inperking sonder onderbreking met afstandonderrig voortgaan.

Grendelleer gaan waarskynlik deel van skole wees tot diep in 2021. Indien dié manier van onderrig goed werk, sal skole moontlik verkies om met afstandonderrig voort te gaan na die pandemie verby is. Afstandonderrig, soos deur grendelleer toegelaat, skep die moontlikheid dat skole aan ingeskrewe leerders ʼn keuse kan bied tussen volledige kontakonderrig en algehele of gedeeltelike afstandleer met ’n persentasie fisieke skoolbywoning. (byvoorbeeld een dag per week, wetenskapweek/winterskool/kultuurweek/veldskool/eksamens, ensovoorts). Afstandonderrig bied aan plattelandse skole die moontlikheid om meer ingeskrewe leerders te hê en so hul leerdertal en inkomste deur skoolgeld te verhoog sonder dat afgeleë leerders in ʼn koshuis moet bly of op tuisonderrig aangewese is.

Skoolgeld moet noodgedwonge ʼn gemeenskap se sosio-ekonomiese vermoë in ag neem, ter wille van bekostigbaarheid, sonder om gehalte in te boet. Afstandleerders kan met gemak deel uitmaak van ʼn skool se ingeskrewe leerdertal om inkomste te verhoog, sonder om onderwysers se werklas te verdubbel. ʼn Aanlyn leerplatform soos Die Wolkskool kan byvoorbeeld met groot vrug gebruik word om personeelkoste te bespaar en ʼn vervlegte leermodel te volg.

Tegnologie het alternatiewe onderrig in die tyd van inperking moontlik gemaak. Skole se planne, aanlyn leeropsies en onderwysers se vermoë om tegnologie deel van die leerproses te maak, het met rasse skrede gevorder. ʼn Funksionele leerbestuurplatform is ’n noodsaaklike deel van elke skool se digitale strategie om die administrasie, rapportering, en aflewering van opvoedkundige inhoud te bestuur en die druk van afstandonderrig op onderwysers te verlig.

Hopelik sal skole die moontlikhede van grendelleer ook op lang termyn oorweeg en die lesse wat ons tydens grendeltyd geleer het, benut om onderwys in Suid-Afrika vinniger die toekoms in te neem.

  • Melanie Buys is die hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Marius Botha is ʼn spesialis in arbeidsverhoudinge, skoolbestuur en -dissipline by MB Konsultante.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae