Harde werk kan lees- en wiskunde agterstand laat kwyn

seun-speel-kitaar

Foto: Schutterstock.com

Hallo Susan,

Ons gr. 7-seun stel byna gladnie belang in skool nie. Sedert gr. 3 skuur hy elke jaar deur, want hy doen net genoeg om te slaag. Hy is beslis nie minder intelligent as sy broer en suster nie, maar hy het ʼn onblusbare liefde vir musiek en die meeste van die tyd is hy in sy kamer besig om kitaar te oefen of na musiek te luister. Sy argument was nog altyd dat hy ʼn musikant gaan word en daarom nie skoolvakke nodig het nie. Na die laaste oueraand het ons daarin geslaag om hom te oortuig dat skool belangrik is en dat ons sy musiek slegs sal ondersteun indien sy punte aansienlik verbeter. Die probleem is egter nou dat hy agtergeraak het. Sy onderwysers sê sy lees- en wiskundevaardighede is nie op dieselfde standaard as die res van sy groep nie. Susan, ons wil ons kind help om sy agterstand in the haal. Wat kan ons doen?

Amanda

Goeie dag Amanda,

Ek verstaan jul kommer en begryp ook hoe moeilik dit vir jul seun moet wees om ʼn balans te vind tussen sy liefde vir musiek en sy skoolwerk, maar ek glo dat hy met harde werk en toewyding sy lees- en wiskunde agterstand sal inhaal.

Daar is twee moontlike redes waarom jou seun se skoolwerk nou agter is. Die eerste is dat hy nie genoeg aandag daaraan gegee het nie en nou sit met ʼn kennisagterstand. Indien dit die geval is, sal eksta oefening in lees en wiskunde die probleem oplos. Om sy leesagterstand in te haal, sal hy baie moet lees. Hier is ʼn oefening wat julle byvoorbeeld kan doen: Neem hom biblioteek toe om boeke uit te neem waarin hy belangstel. Laat hom eens net kort paragrawe hardop voorlees, die boek toemaak en dan vertel wat hy gelees het. Maak die leesstukke langer en langer soos wat hy meer en meer kan onthou.

Wiskunde is ʼn vak wat in trappe aangeleer word en mens kan nie na die volgende trap oorgaan voordat jy nie die voorafgaande trappe behoorlik onder die knie het nie. Om sy wiskunde-agterstand in te haal, kan hy deur die vorige jare, bv. gr. 4, dan gr. 5 en dan gr. 6, se wiskundeboeke werk om seker te maak dat al die verlore kennis ingehaal is. Maak veral seker dat hy al die wiskundige terme, definisies en simbole goed ken.

Die tweede moontlikheid waarom jou seun se skoolwerk agter is, is as gevolg van ʼn vaardigheidsprobleem. Dit het niks te make met intelligensie nie, maar beteken bloot dat die vaardighede wat die boustene van lees, wiskunde en leer vorm, nie sterk genoeg is nie. Vaardighede soos visuele en ouditiewe persepsie, visuele en ouditiewe kort- en langtermyngeheue en logiese denke is voorbeelde van sodanige vaardighede. Omdat jou seun musikaal aangelê is, is sy ouditiewe vaardighede waarskynlik sterk, maar die visuele vaardighede is net so belangrik. Swak visuele persepsie en visuele geheue is ʼn algemene oorsaak van ʼn leesprobleem, sowel as van swak wiskunde-prestasie.

Indien jou seun se probleme veroorsaak word deur ʼn onderliggende vaardigheidsagterstand, sal baie lees en ektra wiskunde oefeninge nie die probleem oplos die. Om nie tyd te mors nie, sal dit dus goed wees om te begin met ʼn evaluasie om die oorsaak van sy agterstand te bepaal — het hy bloot ʼn kennisagterstand of dalk ʼn vaardigheidsprobleem?

Amanda, ek dink dis wonderlik dat jou kind ʼn talent het wat hy dan ook graag ontwikkel, maar dit sluit natuurlik nie ʼn goeie skoolopleiding uit nie. Sterkte met julle waardevolle leiding dat hy ʼn goeie balans kan handhaaf.

Alles van die beste.

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar se praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 470 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Enna Burger ·

Asb. email die berig van ; Harde werk kan lees en wiskunde agterstand laat kwyn dit is vir my kleinseun wat Autisme en ADHD is asb .asb.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.