Help, ek moet ʼn kleuterskool kies

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Om die regte kleuterskool, dagsorg of dagmoeder vir jou kind te kies, kan ʼn skrikwekkende en oorweldigende taak wees, veral as jy nie weet waar om te begin nie.

Dit kan vir ʼn ouer voel of daar ʼn magdom dinge is om aan te dink en te oorweeg – van praktiese goed soos ligging, koste en veiligheid tot ontwikkeling en opvoeding. Maroela Media het by ʼn paar kenners aangeklop vir doeltreffende riglyne wat dié taak kan vergemaklik.

Wat sê die kenners?

Volgens Yolandi van den Heever, besturende direkteur van die Oasis Klub, is dit uiters belangrik dat ouers hulself moet bemagtig met inligting oor wat daar van kinders in verskillende ouderdomsgroepe verwag word.

“Net omdat jou buurvrou vir jou vertel haar driejarige kan reeds tot by 20 tel en die alfabet opsê, beteken dit nie dat jou kind agter is as hy dit nie kan doen nie of dat dit noodwendig enigsins is wat van jou kind op voorskoolse vlak verwag word nie. Baie inligting oor ontwikkelingsvlakke is vrylik beskikbaar op die internet,” sê Van den Heever.

“By die Oasis Klub beywer ons ons vir voorskoolse onderrig en is ons hooffokus die opheffing en opleiding van onderwysers, maar veral ook ouers, om kinders deur beweging te leer en weg te beweeg van werkskaarte af.

“Gr. R is nié die nuwe gr. 1 nie, en dit is belangrik dat ons dit moet onthou. Gr. R moet jou kind slegs voorberei vir gr. 1 en nie gr. 1 vervang nie. Op voorskoolse vlak is die gebruik van sintuie en beweging baie belangriker as byvoorbeeld lees en skryf,” voeg sy by.

Wilna van Rooyen, ʼn vroeëkinderontwikkelingspesialis van die Afrikaanse onderwysnetwerk (AON), beaam Van den Heever se uitgangspunt en sê dit is uiters belangrik dat ouers verstaan dat vrye en fantasiespel die beste manier is om voorskoolse kinders te stimuleer.

“Dit beteken egter nie net ʼn ongeorganiseerde gerondhollery nie. Dit beteken die juffrou moet ruimte en geleenthede skep vir vrye spel en ontdekking. Deeglike beplanning en voorbereiding vir elke tema mét bypassende aktiwiteite moet gedoen word. TV’s, rekenaars en ander tegnologie moet minimaal gebruik word en kleuterskoolpersoneel moet oor die minimum kwalifikasies en ervaring beskik om stimulerende opvoedkundige programme aan te bied.”

Nes Van den Heever glo Van Rooyen dat werkboeke en fotostate minimaal gebruik moet word. “Hoe meer kinders agter werksboekies neergesit word, hoe minder geskik is die skool vir hulle. Daar is baie navorsing oor breinontwikkeling wat onder meer daarop dui dat kinders byvoorbeeld nie op voorskoolse vlak al moet leer lees nie, aangesien hulle slegte gewoontes ontwikkel wat dan op laerskool weer afgeleer moet word.”

Sy sê die skool se dagprogram moet ook aansluit by die kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV) en moet voorsiening maak vir ʼn uur se vrye spel binne, ʼn uur se vrye spel buite, etenstye, roetines, rustye en georganiseerde aktiwiteite.

Van Rooyen sê dat daar ʼn tendens is van ouers om te glo dat hoe meer akademies ʼn voorskool se aanslag is, hoe beter dit vir die kinders is. “Dit is nie die waarheid nie. Inteendeel, hoe meer formeel voorskool aangebied word, hoe meer probleme is daar wat later oorspoel na die laer- en hoërskool. Daarom is dit belangrik dat ouers minstens twee keer per jaar ʼn verslag ontvang waarin terugvoer oor kinders se ontwikkeling en vordering gegee word.”

Van den Heever voeg by dat ouers waaksaam moet wees vir voorskole met rigiede programme en dat hulle nie hul ore moet uitleen aan vriende en familie nie.

“Dan gaan jy jou kind elke week tussen skole moet rondskuif. Juffrouens reg oor die land kla dat kinders uit goeie skole gehaal word en in skole geplaas word waar hulle nie floreer nie en geforseer word om inligting te memoriseer.”

Volgens Van den Heever kan dit tot 12 jaar in Suid-Afrika neem om ʼn skool geregistreer te kry en is dit dus belangrik dat ouers nie skole wat nog nie geregistreer is nie, summier afskiet nie. “Vra eerder waar in die proses die registrasie trek, want dit is ongelukkig ʼn realiteit in Suid-Afrika dat dit baie lank kan vat.”

Moenie beïndruk word deur luukse skole en sommer daarvolgens besluit dat dit die regte plek vir jou kind is nie. “Kinders sien nie die luukshede raak nie. Hulle wil veilig en geliefd voel. Ons moet oppas om vir goed te kyk wat maklik volwassenes beïndruk. ʼn Skool kan kleiner met minder geriewe wees, maar kan ʼn wonderlike ruimte vir jou kind skep om te speel en leer.”

Praktiese goed soos waar die skool geleë is en hoe dit op jou roete op pad werk toe en terug in pas kan ʼn groot verskil maak in jou besluit.

Wat sê die ouers?

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Marilee Erasmus, ʼn onderwyseres en ma van Centurion, het ʼn dagmoeder vir haar eenjarige dogtertjie gesoek toe sy weer moes gaan werk ná 12 maande tuis.

“Dit was vir my belangrik dat die dagmoeder naby aan die huis moes wees sodat ek haar maklik in die oggende op pad werk toe kon aflaai. Dit moes natuurlik ook in ʼn veilige omgewing wees,” sê Erasmus.

“Ondervinding en verwysings was ook baie belangrik. Ek het op sosiale media uitgevra oor goeie dagmoeders in ons omgewing en meeste van die mense wat kommentaar gelewer het, het haar voorgestel. Sy doen dit ook al vir 30 jaar en het al baie kinders deur haar hande en is ook op die raad van die dagmoedervereniging,” sê sy oor die dagmoeder wat sy uiteindelik gekies het.

“Sy het my dadelik gemaklik laat voel. Die omgewing moes my ook gemaklik laat voel en dit was uiters belangrik dat dit skoon en netjies moes wees met genoeg ruimte om te speel. Ek het ʼn hele paar dagmoeders eers besoek voordat ek my keuse gemaak het.”

Marijke van Niekerk, ma van twee dogtertjies, sê sy het afsprake met kleuterskole in hulle omgewing gemaak om ʼn besoek af te lê.

“Die faktore waarna ons na gekyk het, was eerstens die ligging en tweedens die skoolgrond en fasiliteite self. Hoe lyk die plek? Sal jy wil hê jou kind moet die grootste gedeelte van haar dag daar deurbring en lyk dit lekker om daar te wees,” sê Van Niekerk.

“Ons het ook gekyk na die aktiwiteite en stimulasie wat gebied word en of daar genoeg toesig en hande vir die hoeveelheid kindertjies per klas is. Dit is belangrik om jou instink te gebruik. Ons het die plek gekies waar ons die gemaklikste en gelukkigste gevoel gekry het,” voeg sy by.

Albei ouers is dit eens dat hulle nie noodwendig die goedkoopste opsie gekies het nie, al is albei se begrotings vir skoolfonds beperk. “Die skool wat ons gekies het, was op die einde van die dag nie die goedkoopste nie. Daar was duurder opsies ook wat my nie gemaklik laat voel het nie. Veiligheid is vir my baie belangrik ook mens moenie net van die straat af sommer daar kan in loop nie.”

Vir dié werkende ouers is dit ook uiters belangrik wanneer die dagmoeder en skool gesluit is. “Sommige skole sluit meer as een keer per jaar, so dan moet jy ʼn ander plan maak met ʼn heenkome vir jou kind as jy moet werk,” verduidelik Van Niekerk.

“Ry een oggend in spitsverkeer na die skool wat jy oorweeg en kyk of jy dit betyds gaan maak,” sê Van den Heever.

“ʼn Mens wil nie ʼn skool kies wat op ʼn plek geleë is waar jy ekstra spanning en druk op jou gesin plaas om betyds te wees as gevolg van baie verkeer of ʼn groot, besige kruising nie.

“En laat jou kind jou lei – natuurlik is hulle nog kinders, maar hulle voel dadelik aan wanneer hulle nie gemaklik op ʼn plek is nie,” sê sy.

Hier is skakels waar relevante dokumente afgelaai kan word :

Babas tot 4 jaar – National Curriculum Framework (NCF)

Graad R gebruik van kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring  (KABV)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Een van ons bure se kind is uit die huis uit grootskool toe. Was nóóit in ‘n kleutetskool nie. Ook nie die destyds graad nul gedoen nie.
Toe hy skool toe is, kon hy slegs tot 20 tel en sy naam skryf.
Hy het nóóit gesukkel óf ‘n agterstand gehad nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.