Help jou kind om te leer

leerder-wat-moeg-is

Foto: Dreamstime.com

ʼn Baba word gebore met ʼn natuurlike soort nuuskierigheid en ʼn oënskynlik onversadigbare behoefte om te leer. Peuters en kleuters vind alles interessant en het altyd nog ʼn vraag om te vra. Hoekom, hoe, waar en wat is altyd op hulle lippe. Boonop is hulle ook vasbeslote om alles self te doen; hulle dring eintlik daarop aan.

Cindy Glass, eienaar en medestigter van Step Up-onderwyssentrums, sê dit lyk egter of kinders hierdie nuuskierigheid en liefde vir leer verloor namate hulle ouer word.

“Soms lyk dit sommer of die leergierigheid omswaai en ouer kinders ʼn weersin daarin ontwikkel. Die goeie nuus is egter hierdie weersin is eintlik net aangeleerde gedrag.

“In werklikheid is dit net ʼn verdedigingsmeganisme wat ons kinders mettertyd ontwikkel om hulself teen negatiewe leerervarings te beskerm,” sê Glass.

Sy sê kinders ontwikkel ʼn vrees om foute te maak oor die negatiewe reaksies en terugvoer wat hulle op hulle pogings kry om nuwe vaardighede en konsepte te bemeester.

“Kinders kry so ʼn negatiewe selfbeeld en glo hulle is nie in staat om op hulle eie enige sukses te behaal nie.”

Kan ʼn mens hierdie aangeleerde gedrag afleer? Glass het ses wenke vir hoe ouers hulle kinders kan ondersteun om selfstandige leerders te word:

  1. Die kuns om effektiewe foute te maak. Perfeksie bestaan nie op hierdie planeet nie. Foute is bloot ʼn geleentheid om te leer en weer te probeer. Kinders wat nie bang is om te leer nie, is meer geneig om hulself te vertrou as hulle nuwe idees aanpak.
  2. Wees buigsaam. Leer jou kind die kuns van veerkragtigheid, wat die vermoë is om vinnig te herstel van uitdagings en struikelblokke.
  3. Ontwikkel ʼn groei-ingesteldheid. Brein en talent is bloot net die beginpunt. Hierdie ingesteldheid sal jou kinders help om te glo dat hulle basiese vermoëns met toewyding en harde werk ontwikkel kan word. Leer is harde werk en daar is geen kortpaaie nie.
  4. Moedig jou kinders aan en prys hulle. Vier elke sukses in die proses van onafhanklike leer, ongeag hoe klein dit ook al mag lyk. Klein suksesse wat erken word, sal die weg baan na groter suksesse.
  5. Ouderdomtoepaslike verwagtinge: ʼn Gr. 1-leerder sal meer ondersteuning benodig as ʼn ouer leerder. Moet nooit van ʼn jong leerder verwag om take, wat oorweldigend is, alleen aan te pak nie. Breek ʼn taak in kleiner stappe af. Dit sal ʼn kind se vertroue mettertyd opbou en tot groter spronge in die toekoms lei.
  6. Aanvaar hulp wanneer dit nodig is. Moenie skroom om hulp- leerondersteuningsdienste te soek as jy as ouer besef jou kind het ekstra hulp nodig nie. As jou kind dié vaardighede kan bemeester, kan dit hom of haar help om ʼn onafhanklike leerder te word.

“Dit is belangrik dat ons ons kinders ondersteun sodat hulle onafhanklike leerders word wat weer sal help om hulle te motiveer en hulle selfvertroue te verhoog. Kinders wat onafhanklik leer voel ʼn groter gevoel van prestasie en is meer geneig om uitdagende onderwerpe met selfvertroue aan te pak.

“Onafhanklike leer berei uiteindelik ons kinders voor op die wêreld ná skool. Hulle ontwikkel kritiese denke en emosionele intelligensievaardighede wat noodsaaklik is vir sukses in die lewe,” sê Glass.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.