Help! My kind begin die skooljaar aanlyn

Talle gr. 1-leerders sal vanjaar hulle eerste amptelike skooljaar aanlyn afskop. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Deur Mariesa Candiotes en Charlotte Fourie

Haar skooltas was al in Desember gepak en dit het haar rug kromgetrek soos sy in die sitkamer met haar nuwe skoolrokke (ouma het die some al weke terug korter gemaak) modeparade gehou het – mamma en pappa het video’s geneem en kleinsus was tog te jaloers omdat sy nog twee jaar moet wag vir die “grootskool”.

Op 15 Januarie sak my moed vir die soveelste keer in my skoene toe ek besef dat ons graad 1-parabeen die begin van haar skoolloopbaan waarskynlik aanlyn en in afsondering gaan moet aandurf. ’n Mamma-hart is mos ’n snaakse ding: dit pyn wanneer jou kinders deur ’n moeilik tyd gaan, dit krimp wanneer hulle seer het en dit voel of jou hart buite jou liggaam begin loop elke keer wat hulle die nes verlaat.

Die onderwyser binne my preek gereeld dat ouers se reaksies op terugslae, teleurstellings en ander moeilike omstandighede direk op hul kinders projekteer.

Nie lank ná die departement van basiese onderwys se aankondiging nie, ontvang ons ’n lywige e-pos van die skool af: “Alle graad 1-maatjies begin met aanlyn onderrig”. My maag draai, my palms slaan in ’n koue sweet uit en ek is seker ek het my hart in my keel voel klop. Dis toe dat die onderwyser die mamma oor die vingers tik: Ouers se reaksies op terugslae, teleurstellings en ander moeilike omstandighede, projekteer direk op hul kinders.

Ek het ‘n oomblik gevat en hulp van Bo gesmeek. Ons Afrikaners is mos veerkragtig (sê ek oor en oor in my kop). Ons stof vinnig die ou skootrekenaar in die kas af en stel hom op met al die nodige programmatuur. Dankie tog ons het ons kinders van kleins af gemaklik gemaak met ‘n rekenaar!

Meteens ’n bietjie meer opgewonde, maar steeds met ’n traan in my hart, verduidelik ek aan ons graad 1’tjie dat sy nou met aanlynskool gaan begin.

Matrieks van 2032

Die eerste dag van “skool” het skaars begin en my gebede was verhoor: hoe bevoorreg is ek en my kind tog nie!

Dis ’n voorreg dat ek op haar eerste dag van skool, langs haar kon sit en die opgewondenheid in haar stem eerstehands kon beleef soos sy met haar juffrou en maatjies oor Zoom praat. Dis ’n voorreg dat ek werklik deel kon wees van haar eerste dag in die “grootskool”. Dis ‘n voorreg dat ek langs haar in die klas kon sit en kon deel in haar ervarings. Hierdie kosbare oomblikke sou ek nooit kon beleef het as ek haar by die skool moes gaan aflaai nie.

Dis dalk nie die ideaal as jy lief is vir tradisie nie, maar vir ’n sewejarige om blootgestel te word aan tegnologie en aanlyn leerplatforms, is beslis ’n voorreg. Ons kind het nou die geleentheid om verantwoordelikheid vir haar eie onderrig te aanvaar en selfgerig te kan leer – vaardighede wat meeste 18-jariges eers op universiteit moet opskerp.

Lê jou kind se aanlynonderrig soos ’n berg voor jou? Hier is ’n paar wenke uit eie ervaring:

  • Onderhou ‘n normale oggendroetine. Eet ’n gesonde ontbyt, borsel tande, kam hare en trek “skoolklere” aan.
  • Druk die klasrooster vooraf uit. Soos die periodes klaar is, laat jou kind dit op die rooster afmerk. Sodoende weet hulle hoeveel klasse nog oor is. Tyd is nog nie ’n konsep wat jonger kinders werklik goed begryp nie, maar op hierdie manier word die dag in dele opgebreek wat hulle wel kan verstaan.
  • Wees voorbereid: kry alle boeke en skryfbehoeftes die aand voor die tyd reg, sodat daar nie geskarrel word tussen klasse of selfs tydens klasse nie.
  • Skep ‘n netjiese ruimte in jou huis waar die aanlyn onderrig altyd kan plaasvind, weg van afleidings soos die televisie en speletjies.
  • Laat jou kind gebruikmaak van oorfone tydens klasse, dit help om hul aandag op die juffrou te fokus en verhoed onnodige afleidings en onderbrekings.
  • Verduidelik aan jou kind dat dit net soos ’n kontak-onderrigklas is en dat hulle vrae moet vra indien hulle nie seker is oor iets nie.
  • Speel voor die tyd met die programme wat gebruik word en wys jou kind hoe dit werk. Hou ‘n paar oefenlopies as dit moet. Vertel jou kind ook van aanlynonderrigetiket soos om die klank te demp (mute) as jy nie hoef te praat nie en dan weer aan te skakel as jy moet praat (hierdie les kan gerus ook vir ‘n paar volwassenes geleer word!).
  • Moenie saam met jou kind die klasse bywoon nie, maar wees naby genoeg sodat jy kan inspring en help as daar ’n tegniese probleem opduik. Hou in gedagte dat jy nie saam met hulle in die normale klas sou wees nie. Selfstandigheid en verantwoordelikheid is twee belangrike vaardighede wat hier aangeleer kan word. Mamma, moenie hul prentjies inkleur of uitknip nie!
  • Verduidelik ook dat hulle nie sonder die juffrou se toestemming sommer mag opstaan gedurende ‘n klas nie.
  • Laat hulle buite speel, ietsie eet en water drink tydens pouses.
  • As jou kind sukkel om te fokus, bind ’n kousband om die stoel se pote. Dit sal hul bene besig hou en konsentrasie verbeter.
  • Wees geduldig met jou kind en die juffrou – hierdie is ’n deurlopende leerproses vir beide van hulle.
  • Sê ná die tyd vir die juffrou dankie – daar gaan baie tyd en voorbereiding in aanlynonderrig in!

Hierdie kind is toekomsgereed

Nuwe ouers hou hul babas se ontwikkelingsmylpale met ‘n pynlike fyn oog dop, maar ons almal weet dat kinders teen hul eie tempo ontwikkel. Is dit dan nie dieselfde vir kinders se akademiese ontwikkeling nie?

Aanlyn onderrig behoort meer ouerbetrokkenheid tot gevolg te hê en studies toon dat daar ‘n verband is tussen ouerbetrokkenheid en akademiese prestasie, asook tussen ouerbetrokkenheid en die sosiale afronding van ‘n kind.

Die jaar 2021 is dalk nie wat ons gehoop het dit gaan wees nie, maar in 2021 gaan my kind wys hoe om selfgerig te leer – 2021 gaan my kind selfstandig, verantwoordelik en toekomsgereed maak.

Waardevolle skooltyd hoef nie verlore te gaan waar skole nie aanlyn klas kan gee nie, want die juffrou op Die Wolkskool het reeds baie hard gewerk om videolesse te skep wat leerders op hul eie tyd kan voltooi. Die Slimboekreeks vir graad 1 tot 3 bevat ‘n werkboek vir elke kwartaal met bypassende video’s wat leerders saam met hul ouers solank kan deurwerk. Besoek www.wolkskool.co.za vir meer inligting.

  • Mariesa Candiotes en Charlotte Fourie is Wolkskooldosente by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Dis die begin van die toekoms. Laat die ouers en kinders nou al regmaak daarvoor!

Eend Bessinger ·

Die toekoms van aanlyn-onderrig is hier! Laat die ouers hul kinders help om die nuwe tegnologie gewoond te raak.

JJB ·

Ek is diep bekommerd oor die situasie. Nie alle ouers het die tyd, vermoë of kapasiteit om as onderwysers vir hul kinders op te tree nie. Voorts kort kinders die sosiale interaksie wat skole bied om hul emosionele ontwikkeling te bevorder. Sonder dit is allerlei vorme van sosiale wan-aanpassing ons voorland. Skole moet OOP.

Fluisterwind ·

Ek is ook ‘n bekommerde ouer aangesien, my dogter geensins blootgestel was aan aanlyn onderrig tydens haar hele skool loopbaan. Sy het ook glad nie rekenaar studie gehad in haar skool loopbaan en skielik sit sy ook nou groot oog voor haar eerstejaar studente aanlyn portaal. Maar ook ‘n voorreg om langs haar te kan sit en raad gee. Ek is ook oneindig dankbaar teenoor AROS se aanlyn aanslag en professionaliteit. Dankbaar dat ons elke geleentheid ontvang deur ons Hemelse Vader met albei hande aangegryp het en die beste vir ons kind kan gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.