Help, my kind se ontwikkeling sukkel ná inperking

(Foto: Aaron Burden/Unsplash.)

Ouers en onderwysers moenie skuldig voel as alles nie so vlot met skoolwerk in die afsonderingstyd verloop het nie.

Ruda Roux, ʼn arbeidsterapeut van die Meta-sentrum in Mountain View, Pretoria, sê as ʼn mens oor ontwikkelingsprobleme ná die afsonderingstydperk gesels, is dit bloot om ouers en onderwysers bewus te maak van kwessies wat nou uitdagings kan wees en hoe om dit op te los, en nie om hulle skuldig te laat voel nie.

“Dit was maar ʼn moeilike tyd vir ons almal gewees. Die belangrikste is altyd om ons kinders met liefde en dissipline te benader, terwyl ons besef dat daar by almal – groot en klein – steeds maar ʼn groot mate van onsekerheid en angstigheid is.

“Ons moet almal mekaar maar met liefde in hierdie tyd benader.”

Sy sê jonger skoolkinders wonder dikwels nog of hulle al die nuwe reëls by die skool sal kan onthou: Gaan ek my masker die hele tyd kan aanhou, gaan dit my pla, en gaan iemand met my raas as ek iets vergeet? Dit is van die vrae wat hulle pla.

Arbeidsterapie kan help as daar kommer is oor jou kind se ontwikkeling. Die staat van inperking het darem wel talle geleenthede gebied vir ʼn kind om te ontwikkel, veral met sosiale vaardighede binne die gesin en vrye spel.

“As ouers gewoonlik jaag om in die oggend klaar te maak, neem hulle sommer sekere selfversorgingstake by kinders oor. Hopelik was daar egter nou meer tyd vir kinders om gepaste take self te doen, soos om knope, skoenveters en ritssluiters self vas te maak.

“Ek glo ook daar was meer tyd vir vrye spel en dat ouers hulle kinders sover moontlik aangemoedig het om buite te speel.”

Ruda Roux, ‘n arbeidsterapeut van die Meta-sentrum, het met Maroela Media gesels oor kinders se ontwikkeling na die afsonderingstydperk. (Foto: Meta-sentrum)

Ongelukkig is daar uiteraard nie altyd ʼn streng roetine gevolg nie en Roux sê ná die afsondering kon terapeute sien kinders se spiere het lui geword.

“Kinders sukkel om te knip en hulle hande raak moeg van teken; selfs om vir ʼn lang tyd op ʼn stoel regop te sit, kan ʼn uitdaging wees. Kinders se oogspiere kan ook moeg raak as hulle van die bord af moet werk.”

In die eerste vyf weke van die afsonderingstyd het gesinne die geleentheid gehad om weer bande te bou in die tyd wat hulle saam deurgebring het.

“Die nadeel is egter dat daar nie soveel tyd en geleenthede was om met maatjies van ʼn kind se eie ouderdom te speel nie. Dinge soos om te deel en beurte te maak, kan dus weer ʼn uitdaging wees.”

Roux meen kinders gaan nou ook met meer sensoriese uitdagings by die skool te doen hê: meer geraas, visuele afleiding, vreemde reuke en maskers wat krap, kan ʼn uitdaging wees.

“Dit kan tot woedeuitbarstings by kinders lei en dit is waarom ouers en onderwysers bewus moet wees van hierdie uitdagings.”

Sy het egter ʼn paar wenke wat kinders, ouers en onderwysers kan help om meer sekerheid te skep:

  • ʼn Visuele plakkaat wat die daaglikse roetine en selfversorgingstake aandui, kan jou kind help om te weet wat om te verwag. Die plakkaat kan prentjies bevat van doendinge wat elke uur moet gebeur. Dit kan by die huis en selfs in die klaskamer gebruik word.
  • Moedig jou kinders soveel moontlik aan om buite te speel, te klim en hulle eie speletjies uit te dink. Rolspel en verbeeldingspel bly altyd belangrik.
  • Sosiale vaardighede in die klaskamer kan steeds ondersteun word deur besprekings te hou en beurte te maak om na mekaar te luister. Speel woordspeletjies soos Hangman, skryf ʼn storie saam of doen woordbou.
  • Probeer waar moontlik bewegings in die klas uitvoer voordat jy met die werk begin waar jy sit. “Klei speel of om soos diere te loop is ʼn goeie idee. Laat die kinders ook sommer ʼn paar opstote teen hulle tafels of stoele doen. Die bewegingsaktiwiteite kan ʼn kind help om weer te fokus.”
  • Ouers kan hulle kinders ook help deur die regte kos in hulle kosblikkies in te pak. “Krakerige kos, soos ʼn appel, biltong en neute, kan baie help. Kies ook ʼn koeldrankhouer of waterbottel met ʼn strooitjie wat moeiliker is om vloeistof te suig.”
  • Kinders wat tassensitief is, kan sukkel met ʼn masker of gesigskerm wat krap en pla. “As onderwysers dit waarneem, moet hulle die ouers daarvan sê sodat hulle saam met die kind op ʼn ander rekkie of soort skerm besluit wat nie ʼn kind se aandag nog verder aftrek nie.”

Enigiemand wat raad of hulp nodig het, kan die Meta-sentrum in Pretoria nader by 012 065 0118 of ’n e-pos stuur na [email protected] Die sentrum kan jong mense help met leerprobleme, arbeidsterapie, berading, spraakterapie, oudiologie en spelterapie, asook pastorale dienste.

  • Ruda Roux, ʼn arbeidsterapeut wat dienste aan die Meta-sentrum bied, het met Maroela Media gesels oor die soort ontwikkelingsprobleme wat kinders kon opdoen weens die staat van inperking, asook hoe om dit te hanteer. Luister na die volledige gesprek boaan die berig vir raad, en hoor sommer waarvoor daar nou meer tyd in die landwye afsondering was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae