Helpende Hand leer jou om digitaal ʼn toekoms te bou


app-imac

Leer hoe om jou eie app in Afrikaans te ontwikkel met Helpende Hand se APPfabriek. Foto: FirmBee/Pixabay.com

Wou jy nog altyd weet hoe om ʼn app te bou? Of ken jy die grondbeginsels, maar kort daai bietjie ekstra om jou app onontbeerlik vir die internetgebruiker te maak? Dan is Solidariteit Helpende Hand se nuwe APPfabriek-kompetisie net vir jou.

Volgens die Harvard Business Review kyk, soek, speel en snuffel die deursnee-persoon nagenoeg 150 keer per dag op sy of haar slimfoon of tablet. En nagenoeg 80% van die tyd wat mense op hulle selfone of tablette deurbring, is met behulp van ʼn app. Dus is die aanvraag vir nuwe, innoverende apps altyd groot en daarom wil Helpende Hand jou bystaan en leer hoe om jou eie app te bou.

Daar is twee kategorieë waarvoor jy kan inskryf: APPfabriek Beginner en APPfabriek Gevorderd. APPfabriek Beginner is ʼn eenvoudige, gebruikersvriendelike kursus wat vir jou al die toerusting vir die skep van jou eie apps sal gee. Dit is so maklik soos 1-2-3. APPfabriek Gevorderd bied jou baie meer opsies om jou app te ontwikkel presies soos jy hom wil hê, maar om hierdie platform te gebruik, moet jy kennis van rekenaarstudie of IT hê.

Volgens Margolé Riekert, projekorganiseerder by Helpende Hand, is die projek enig in sy soort. “Wat die projek veral spesiaal maak, is dat jy jou app in Afrikaans kan bou. Kompetisie vir apps is baie straf, maar as jy dit in jou moedertaal kan doen, is jou kanse op sukses soveel groter.”

Om in te skryf is ook baie maklik. Al wat jy hoef te doen is om ʼn kort video saam te stel waarin jy meer van jouself en jou beplande app vertel. Laai dit dan op Helpende Hand se webwerf. Die organisasie sal 19 finaliste uit die inskrywings kies wat elkeen die geleentheid sal kry om ʼn app te bou. Dit sluit ʼn tweedag-opleidingsessie in wat op 3 en 4 Oktober (Beginner) en 5 en 6 Oktober (Gevorderd) in Centurion sal plaasvind. Ná die opleiding sal die finaliste tot 17 Oktober tyd hê om hulle app te voltooi.

  • Besoek appfabriek.co.za vir meer inligting oor die kompetisie of om uit te vind hoe om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ouderdom ·

Dit is baie belangrik dat jongmense aangemoedig word om apps te kan ontwikkel, dankie daarvoor! Wonder nou net of ek al te oud is om in te skryf vir die gevorderde kategorie. Van sestien tot hoeveel jaar oud?

EBeste ·

As jy van die kaap is en word dalk gekies as finalis sal Solidariteit kan help om die persoon tot in Centurion te kry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.