Het jy gehoor?

 gehoor_kind_luister.jpg

Foto: brandpointcontent.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Vir ’n kind is gehoor en spraak noodsaaklike elemente vir leer, speel en die ontwikkeling van sosiale vaardighede. ’n Kind met gehoorverlies wat nie gediagnoseer is en behandel word nie, kan tot ’n groot mate onbewus wees van wat om hom aangaan. Dít kan weer lei tot laat taalontwikkeling, sosiale probleme en swak akademiese prestasie.

Aangesien laasgenoemde dikwels met onoplettendheid en swak gedrag gepaard gaan, kan ’n kind met ’n gehoorprobleem dikwels verkeerdelik as een met ’n leerprobleem geïdentifiseer word. ’n Gehoorgestremde kind mag baie van dieselfde tekens toon – hy vaar swak in die klas (hy het nie die verbale veranderinge aan die taak gehoor nie); hy is onoplettend (die onderwyser se rug was na die klas gedraai en hy kon dus nie hoor wat gevra is nie); hy is rebels (verbeel jou sy frustrasie met ’n onderwyser wat te vinnig praat).

Buiten dat hy akademies sukkel, kan ’n kind met gehoorverlies ook met sosiale probleme spook. Kommunikasie is noodsaaklik vir sosiale interaksie en gesonde portuurverhoudinge. Die onvermoë om doeltreffend te kommunikeer, kan ’n kind geïsoleerd en ongelukkig laat voel. Hy kan homself selfs sosiaal onttrek om verleentheid te voorkom.

Gehoorverlies kan aangebore (kongenitaal) of verworwe wees. Laasgenoemde kan deur onder meer gereelde oorinfeksie, ’n kopbesering of blootstelling aan baie harde geluide veroorsaak word en kan enige tyd voorkom. Terwyl erge gevalle ooglopend is omdat ’n kind nie op klank sal reageer nie, mag matiger gevalle – insluitend gehoorverlies in slegs een oor – nie onmiddellik opvallend wees nie.

Tekens wat op gehoorverlies by kinders kan dui, sluit in:

  • Laat ontwikkeling van spraak en taal
  • Sukkel om aandag te gee en gepas op te tree
  • Swak akademiese prestasie
  • Ongepaste, laat of selfs geen reaksie op klanke of gesproke taal nie
  • Hou sprekers se gesigte aandagtig dop
  • Sukkel om taal te verstaan as daar agtergrondgeluide is
  • Sit te na aan die televisie, selfs al is die klank hard genoeg vir ander om te hoor
  • Reageer nie op stemme oor die telefoon nie
  • Skrik nie vir skielike, harde geluide nie
  • Kan nie bepaal waar klanke vandaan kom nie

As jy bekommerd is oor jou kind se gehoor, maak ’n afspraak met ’n oudioloog wat ’n gehoortoets sal doen om jou kind se gehoorvermoë te bepaal. Onthou, vroeë ingryping is belangrik want gehoor speel ’n noodsaaklike rol in jou kind se sosiale, emosionele en intellektuele ontwikkeling.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.