Hoe geestesgesondheid die kontinent kan help

Argieffoto.

Alhoewel ’n toenemende aantal kinders in Afrika hulle vormingsjare oorleef, begin hulle hul lewens met ’n enorme agterstand as gevolg van die teëspoed en gebrek aan ondersteuning wat hulle van ’n baie vroeë ouderdom ondervind, sê dr Anusha Lachman, Suid-Afrika se verteenwoordiger by die Afrika Verenging vir Geestesgesondheid vir Kinders en Jongmense.

Tydens die derde Afrika Diaspora Wêreldgeestesgesondheidskonferensie wat die week in Kaapstad plaasvind, het sy verduidelik dat na raming sowat 250 miljoen kinders jonger as vyf jaar nie hul potensiaal bereik nie.

“’n Armoedige begin, wat gewoonlik met verwaarlosing gepaard gaan, kan lei tot ’n verlies van ongeveer ’n kwart van die gemiddelde inkomste wat dié kinders potensieel as volwassenes per jaar sou verdien.”

Meer as 45% van Afrika se bevolking bestaan uit babas, kinders en jong volwassenes en teen 2030 gaan die kontinent na raming die grootste getal kinders onder die ouderdom van 18 jaar in die wêreld hê.

“Alles dui daarop dat ons gesinne moet bereik vanaf – of selfs voor – die begin van die swangerskap, en dat ondersteuning noodsaaklik is tydens die eerste 1 000 dae van ’n kind se lewe. Jong kinders het die beste kans om hul potensiaal te bereik as hulle goed gevoed en versorg word, vanaf geboorte aan opvoedkundige geleenthede blootgestel word, en verder teen siektes, geweld en spanning beskerm word.”

Lachman het gesê dat vroeë kinderjare ’n kritieke tyd is, omdat die voordele van vroeë intervensies versterk word en die negatiewe gevolge van risiko verminder kan word. “Die mees vormende ervarings van jong kinders kom uit die versorging van ouers, ander familielede, versorgers en gemeenskapsgebaseerde dienste.”

Sy het ook gesê dat gesinne ondersteun moet word om voldoende sorg te voorsien. “Hulle benodig materiële en finansiële hulpbronne, sowel as die kennis, tyd, en vaardige hulp indien nodig. Gesinne kan ondersteun word deur die implementering van nasionale beleide, bekostigbare kindersorg en die voorsiening van bevolkingsgebaseerde dienste. Ons moet die belangrikheid van politieke prioritisering, wetgewing, beleid en die gebruik van bestaande stelsels en finansiering beklemtoon om die ondersteuning wat aan gesinne gebied word uit te brei, en om gesondheidsdienste vir die moeder en kind te verbeter.”

Prof. Bonga Chiliza, direkteur van die African Global Mental Health Institute (AGMHI), sê dat daar 1,4 werkers in die veld van geestesgesondheid per 100 000 mense in die Afrika-streek is, in vergelyking met die 16,2 per 100 000 mense in die streke van die Amerikas en 43,5 per 100 000 mense in die Europese streek.

“Die tekort aan professionele mense plaas enorme druk op die gesondheidstelsel, ten koste van diegene wat aan geestesversteurings ly. Saam met die behoefte aan psigiatriese opvoedkundeprogramme, het baie Afrika-lande beperkte geestesgesondheidsdienste beskikbaar. Swak werwing, tekorte, hoë kliniese ladings en beperkte netwerkgeleenthede daag landelike gesondheidsdienste uit. ’n Algemene gebrek aan vervoerdienste en beperkte mediese fasiliteite veroorsaak vir individue probleme met betrekking tot toegang tot geestesgesondheidsdienste. Die unieke uitdagings van ander gesondheidskwessies soos MIV, taalhindernisse en stigmatisering van Westerse behandelingsmetodes belemmer alle toegang tot psigiatriese sorg.

“Die AGMHI werk egter aktief daaraan om doelgerigte oplossings te identifiseer om die huidige uitdagings in die vier domeine van geestesgesondheid, naamlik navorsing, opleiding en opvoedkunde, kliniese sorg en beleid, te oorkom,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.