Hoe gemaak met anonieme kuberafknouery?

leandie-brasler

Leandie Bräsler is AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling. Foto: Verskaf.

Deur Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling

Anonieme kuberafknouery is wanneer ’n persoon ander afknou deur van tegnologie of elektroniese toestelle gebruikmaak om sy/haar identiteit te verbloem. Dit kan oor selfone of oor die internet of aanlyn gebeur.

Raad om hierdie situasie te hanteer:

  1. Laat jou stem hoor Maak seker dat jy vir iemand vertel wat besig is om aan te gaan. Dit kan ’n vriend wees of ’n volwasse persoon wat jy vertrou. Dit is bitter belangrik dat jy nie alleen en in stilte moet ly nie.
  2. Moenie terugantwoord nie Persone wat ander mense anoniem afknou, wil gewoonlik ’n reaksie uitlok, maar deur nie op die boodskappe te reageer nie, verseker jy dat die boelie nie enige vorm van bevrediging beleef nie.
  3. Bewaar die bewyse – Dit is baie belangrik vir ingeval die afknouery erger raak. ’n Foto of skermgreep is ’n doeltreffende en vinnige manier om bewyse te stoor.
  4. Rapporteer – Die meeste sosiale netwerke het ’n manier om negatiewe inhoud op hul platform te rapporteer. Maak seker dat jy weet waar dit is en moenie bang wees om dit te gebruik nie. Dit is vinnig en effektief om enige aanstootlike boodskappe of foto’s af te haal. As jy afgeknou word waar selfone gebruik word, kan jy ook met jou selfoonnetwerk skakel, wat jou verder sal lei in hierdie verband.
  5. Blokkeer – Die meeste sosiale netwerke het ’n blokkeer-opsie wat jou toelaat om interaksies met ander gebruikers te stop. Inligting oor hoe dit gedoen kan word, verskyn gewoonlik in die platform se veiligheidsentrum. Op selfone kan dit gewoonlik onder “settings” gedoen word.
  6. Privaatheidstellings – Met die meeste sosiale netwerke kan jy jou privaatheidstellings so verander dat jy nie interaksie met mense kan hê met wie jy nie wil kommunikeer nie.
  7. Polisie – Wanneer jy dink dat ’n voorval ernstig genoeg is om as ’n strafbare oortreding beskou te word, kan jy jou plaaslike polisiekantoor kontak en die saak rapporteer. Skakel die Polisie by 10111 of Childline South Africa by 08000 55 555.

Hoe kan ek as onderwyser my leerders ondersteun wat slagoffers van anonieme kuberafknouery is?

Wanneer een van jou leerders na jou toe kom en sê hy/sy is ’n slagoffer van anonieme kuberafknouery, kan dit moeilik wees om te weet wat om te doen. Die feit dat “anoniem” betrokke is, kan beteken dat jy sekere van die skool se gewone metodes moet aanpas oor hoe om afknouery te hanteer. Dit beteken ook dat jy jou skool se beleid oor afknouery deeglik moet volg.

Dit is ook baie belangrik om vir die leerder gereeld terugvoering te gee oor wat aangaan. Om anoniem afgeknou te word, kan groot skade aan kinders se selfvertroue en gevoel van beheer aanrig. Deur dié wat afgeknou word, betrokke te kry en om te kyk of hulle tevrede is met wat jy doen, kan jy hulle help om aan hul selfvertroue te begin herbou.

Gebruik die raad hierbo sodat jy vir die jong leerders die regte rigting kan aandui met die praktiese stappe wat hulle moet doen. Maak ook seker dat die leerders weet waar hulle ondersteuning kan kry en waar hulle hulp kan vra as hulle dit nodig het, hetsy by jou as onderwyser, ander kollegas of die skoolsielkundige.

Hoe kan ek as ouer/voog die slagoffer ondersteun?

Die vinnige verandering en ontwikkeling van tegnologie beteken dat dit toenemend moeiliker word vir ouers en voogde om te verstaan hoe hulle hul kinders op die beste manier kan ondersteun wanneer hul kinders die slagoffer van kuberafknouery is. Wanneer jou kind die slagoffer van anonieme kuberafknouery is, kan dit moeiliker wees om te weet wat om te doen. Die raad hieronder moet met die bogenoemde praktiese advies gekombineer word sodat kinders sal weet wat om in hierdie tipe situasies te doen.

  1. Stel jou kind gerus – Stel jou kind gerus dat hy/sy die regte ding gedoen het deur sy stem te laat hoor. Kinders se verbeelding is geneig om op hol te gaan en dan vorm hulle hul eie duidelike ergste geval-scenario’s, wat kan veroorsaak dat hulle te bang is om daaroor te praat. Die feit dat hulle na jou toe kom en met jou daaroor gesels, is klaar ’n groot stap vir hulle.
  2. Luister – Luister na wat jou kind te sê het sonder om enige oordeel te vel. Dit is belangrik dat hy/sy gemaklik voel met jou optrede en dat hy/sy ’n sekere gevoel van mag en beheer het oor die situasie.
  3. Laat jou kind steeds toe om aanlyn te verkeer, selfs al vind afknouery oor die internet plaas – Kinders en jongmense maak op ’n daaglikse basis van tegnologie gebruik, soos wanneer hulle met vriende kommunikeer en om te leer en dinge uit te vind. As jy jou kind verbied om aanlyn te verkeer, kan dit hom/haar ontmoedig en sal hy/sy nie weer sommer in die toekoms daaroor praat nie, en dit sal ook veroorsaak dat hy/sy enige eksterne ondersteuning vermy. Moedig hom/haar liewer aan om na jou toe te kom as hy/sy iets sien waarmee hy/sy ongemaklik voel, dan kan jy saam met jou kind daardeur gaan.

Afknouery kan veroorsaak dat jou kind skaam en bang voel en hy/sy sal ook meestal bekommerd wees oor hoe jy as ouer daarop sal reageer wanneer hy/sy jou daarvan vertel. Probeer om kalm te bly, stel jou kind gerus en stel vrae oor hoe jou kind wil hê jy hom/haar moet help.

Skakel met jou kind se skool om seker te maak dat hulle van die voorval bewus is. Gaan saam met jou kind deur die bostaande inligting en vra hom/haar wat hy graag sal wil hê jy moet doen.

  • As jou kind se skool by AfriForum se teenboelieveldtog betrokke wil raak, stuur ‘n e-pos na [email protected].
  • Die AfriForum Teenboeliegids kan ook hier afgelaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andrew ·

Die Wet op Voorkoming van Teistering is ‘n handige instrument. Jy kan ‘n beskermingsbevel bekom. As die persoon onbekend is, reik die hof ‘n bevel uit aan die polisie om die verdagte op te spoor.

As die oortreder ‘n kind is word die beskermingsbevel op die ouers gedien.

SAnik(s) ·

Ek neem aan jy is n volwassene. Wat se verweer het n kind? Natuurlik sal n kind aanstoot neem. Daardie “gesegde” moes deur n boelie ontwikkel gewees het.

John ·

Kry ‘n ander selfoonnommer en bly weg van gemorspos en -stasies. Ellelange verduidelikings van hoe is onnodig. Wat skryf jy dat ander so reageer en hou op velief wees op die foto van jouself. Die spieel se megs is gratis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.