Hoe help ons ʼn kind wat sukkel met wiskunde?

wiskunde-seun-tel-sy-vingers

Foto: Dreamstime.com

Hallo Susan,

Ten spyte van al die ekstra hulp wat ons seun in Graad 3 kry, sukkel hy met wiskunde, terwyl hy besonder goed doen in al sy ander vakke. Op sy onlangse rapport het hy ʼn 2 vir wiskunde gekry. Hy tel op sy vingers om eenvoudige somme soos 6 + 2 te doen. Ek kan nie verstaan hoe ʼn kind wat uitstekend kan lees, spel en skryf, so kan sukkel met wiskunde nie. As ouers is ons diep bekommerd oor sy toekoms.

Johanna

Dagsê Johanna,

Wanneer ons van leerprobleme praat, neem baie mense aan dat ons na leesprobleme verwys. Mens hoor dit gereeld: “n Leerprobleem is ʼn leesprobleem.” Dis natuurlik nie waar nie. Rekenkundige probleme kom net so algemeen voor soos leesprobleme by leerders wat sogenaamd leergestremd is. In die Journal of Learning Disabilities skryf McLeod en Crump dat so te sê die helfte van die leerders met leergestremdhede ook ekstra hulp in wiskunde moet kry. Julle is dus nie alleen in jul stryd nie.

Hoewel julle nie die enigste ouers is wat worstel met hierdie probleem nie, is dit te verstane dat julle bekommerd is oor jou seun se toekoms. Deesdae is wiskundige kennis, wiskundige redenering en wiskundige vaardighede net so belangrik soos die vermoë om te lees. Dit maak nie saak of ons besig is met die wetenskappe, ʼn sake-onderneming of die daaglikse lewe nie, ons gaan altyd met syfers werk. Elke beroep, van vuurpylwetenskaplike tot skaapwagter, verg die gebruik van wiskunde. Waar ons ons ookal bevind, of watter taal ons ookal praat, kennis van wiskunde is ʼn onvermydelike vereiste.

Maar hoe help ons ʼn kind wat sukkel met wiskunde? Die enigste manier is om vas te stel wat die oorsaak of oorsake van die probleem is.

Wiskunde word ondersteun deur drie aspekte:

  1. Basiese vaardighede

Navorsing het bewys dat visuele persepsie, werkende geheue en logiese denke (wat probleemoplossing moontlik maak) die belangrikste grondvaardighede vir wiskunde is.

Visuele persepsie verwys na die interpretasie en organisasie van visuele inligting. Hierdie vaardigheid word gewoonlik onderverdeel in sub-vaardighede soos visuele diskriminasie en visuele geheue. Visuele diskriminasie verwys na die vermoë om ʼn figuur of beeld se onderskeie kenmerke en detail soos vorm, oriëntasie, kleur en grootte te kan onderskei. Visuele geheue verwys na die vermoë om te onthou wat ons gesien het.

Meghan E. Geiger en medewerkers het ʼn studie gedoen waaraan 171 kinders met ʼn gemiddelde ouderdom van 10.08 jaar deelgeneem het. Hierdie studie is gedoen deur die Ohio State University College vir Optometrie en is ontwerp om vas te stel of visuele persepsie prestasie in wiskunde kan voorspel.

Geiger en medewerkers se gevolgtrekking was die volgende: “Daar is ʼn beduidende verband tussen swak visuele persepsie en swak wiskunde-prestasie. Visuele persepsievermoë en in besonder visuele geheue, is van die vaardighede wat beduidend verband hou met wiskundige prestasie.”

  1. Wiskundige vaardighede

In wiskunde is daar is baie goed wat die leerder moet leer om te doen, soos tel, optel, aftrek, vermenigvuldig en deel.

Die eerste stap is dus om seker te maak dat die kind vlot vooruit sowel as agteruit kan tel. Hierna behoort die kind te leer om syfers oor te slaan, soos om in twees te tel. Oorslaan-tel is belangrik vir berekeningsvaardighede, vir syferbegrip en as ʼn basis vir vermenigvuldiging en deling. Dis ook belangrik om leerders se probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel want hulle leer om byvoorbeeld onmiddellik 4 by 12 te tel om 16 te kry, eerder as om 12,13,14,15,16 te tel. Hierdie vermoë is een van die sleutelaspekte van ʼn suksesvolle skoolloopbaan.

  1. Kennis

Daar is baie dinge in wiskunde wat mens eenvoudig net moet weet, soos terme, definisies, simbole, stellings en/of grondbegrippe. ʼn Kind wat nie weet wat ʼn sfeer is nie, gaan moet raai wanneer hy gekonfronteer word met twaalf voorwerpe en die vraag moet antwoord, “Watter voorwerp het dieselfde vorm as ʼn sfeer?”

Leer is ʼn stap-vir-stap proses

Ons moet ook onthou dat leer ʼn stap-vir-stap proses is. Kinders moet eers sekere vaardighede aanleer, voordat dit vir hulle moontlik is om daaropvolgende, ingewikkelder vaardighede te bemeester.

Om rugby te speel, moet ʼn voornemende sportman eers die basiese vaardighede soos uitgee, skop en laagvat onder die knie kry. Dis dieselfde met wiskunde: kinders moet eers die basiese vaardighede soos visuele persepsie en logiese denke aanleer.

Die tweede stap is die aanleer van wiskundige vaardighede en dit moet gedoen word in logiese volgorde. Mens moet immers eers leer tel, voordat jy kan leer om op te tel en af te trek. Veronderstel ons probeer ʼn kind leer optel en aftrek voordat hy geleer het om te tel; dit sal onmoontlik wees, maak nie saak hoe hard ons probeer nie.

Hier is die stappe wat jy kan volg om jou kind te leer tel. Hy moet dit hardop doen en nie op sy vingers tel of enige hulpmiddels gebruik nie. Laat hom elke stap oor en oor doen totdat hy dit vlot en sonder aarseling kan doen. Eers wanneer hy heeltemal vlot van 1 tot 20 en terug kan tel, kan julle na die volgende stap oorgaan, naamlik om van 11-30 en terug te tel.

Kom ons tel in ene

Tel van 1 tot 20 en terug.

Tel van 11 tot 30 en terug.

Tel van 21 tot 40 en terug.

Tel van 31 tot 50 en terug.

Tel van 41 tot 60 en terug.

Tel van 51 tot 70 en terug.

Tel van 61 tot 80 en terug.

Tel van 71 tot 90 en terug.

Tel van 81 tot 100 en terug.

En nou in twees

Tel van 2 tot 40 en terug.

Tel van 12 tot 50 en terug.

Tel van 22 tot 60 en terug.

Tel van 32 tot 70 en terug.

Tel van 42 tot 80 en terug.

Tel van 52 tot 90 en terug.

Tel van 62 tot 100 en terug.

Tel van 1 tot 39 en terug.

Tel van 11 tot 49 en terug.

Tel van 21 tot 59 en terug.

Tel van 31 tot 69 en terug.

Tel van 41 tot 79 en terug.

Tel van 51 tot 89 en terug.

Tel van 61 tot 99 en terug.

Die derde stap sal dan wees om seker te maak die kind haal agterstallige kennis van wiskunde in.

Johanna, ek vertrou hierdie inligting gaan bydra tot jou seun se sukses.

Alles van die beste.

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar se praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 22 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek gerus die Edublox-webtuiste en word geïnspireer deur 450+ suksesverhale: www.edubloxsa.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

neelsie ·

Baie dankie Susan, n insiggewende wiskundeles.
Ouers, gee spesiale aandag aan wiskunde. Begin voorskool met eenvoudige opleiding, hoef nie duur te wees nie. Daar is baie hulpmiddels, maak daarvan gebruik, moenie wag tot hoerskool vir ekstra hulp nie. Dit is n manier hoe ons kinders sal kan uitstyg bokant die gemiddelde.
Vir n helderdenkende brein is wiskunde n uitdaging-gebruik die Godgegewe gawe.

Ansie ·

Kumon. My seun doen dit en is al twee jaar voor sy klas. By Kumon leer hulle om nie op hulle vingers te tel nie.

alet calitz ·

Ansie. wat kos kumon. en weet jy waar in pretoria ek kan gaan. my kind sukkel in gr 4 net so en tel op haar vingers. eks bekommerd oor haar. sy doen biolink maar eks steeds bekommerd

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.