Hoe om met kinders te reis

Foto: Parenting Journals

Moenie met kinders reis nie… Nee, dis net ʼn grappie.

Ek en my man is mal oor reis en dus wil ons hê ons kinders moet van jongs af gewoond raak daaraan. Terwyl ons tweetjies nog klein is, reis ons alleen as ons buiteland toe gaan, en hou die binnelandse reise vir saam met die kinders.

Dis altyd ʼn groot uitdaging om kinders besig te hou as mens op reis is, of dit nou in die motor, op ʼn vliegtuig of per trein is. Goeie beplanning is beslis nodig.

Indien julle vakansie ʼn vlug insluit, moet mens ook daaraan dink om kinders nie net in die vliegtuig besig te hou nie maar ook voor die tyd op die lughawe. Ons het onlangs ʼn misverstand gehad met een van die lugrederye en ons kinders was nie op die stelsel geregistreer nie. Dit was te naby aan vlugtyd om nuwe kaartjies vir hulle uit te reik en ons moes wag vir die volgende vlug, wat drie en ʼn half ure later was … Daar is niks waarna mens meer opsien as om met ʼn tweejarige en ʼn agt weke oue babatjie op ʼn lughawe gestrand te wees nie.

Dankie tog ons het twee kinders wat al reeds baie van reis hou en hulle vind alles rondom hulle op ʼn lughawe baie interessant. Alhoewel my tweejarige later uit pure moegheid op die vloer gaan lê het. Slaap wil hy nie slaap nie, want hy is bang hy mis iets. Nodeloos om te sê, het ons toe geen probleem gehad om hom op die vlug te laat slaap nie.

Terwyl vlieg dikwels korter en dus dalk makliker is, is dit nie noodwendig altyd moontlik as mens die Von Trap-gesin is met sewe kinders op sleeptou nie. Dan moet mens die langpad per motor aandurf!

Toe ek onlangs vir my vriendin voorstel dat hulle só (goedkoper) vir ons in die Kaap kan kom kuier met hulle drie kinders, was haar antwoord grappenderwys: “I choose life!” Hulle sal maar wag vir ʼn spesiale aanbod op vliegkaartjies.

Selfs om net tot by die Krugerwildtuin te kom vanaf Pretoria, kan soms ʼn lang rit raak.

Hier is ʼn paar wenke hoe jy die vreugde in reis kan behou, selfs met kinders.

Foto: Information NNG

Per motor

  1. Beplan die pad baie goed vooruit. Soek plekke wat verkieslik nie langer as ongeveer twee ure uit mekaar is nie om seker te maak mens kan kort-kort stilhou: dit kan ʼn parkie wees waar hulle van hulle energie ontslae kan raak of ietsie interessant om te besigtig. Eet middagete iewers waar hulle bene kan rek en hulle magies kan volmaak.
  2. Maak ʼn padkaart van julle reis en wys vir die kinders waar julle daarop trek. Dit beantwoord die vraag: “Hoe ver is dit nog?”
  3. Neem genoeg peuselhappies saam. Nie net vul dit hulle magies om te keer dat hulle hangry word soos my kinders nie, dit gee hulle ook iets om te doen indien dit klein items is soos byvoorbeeld Otees, gedroogde vrugte, pretzels, neute, rosyntjies, Marie-beskuitjies, piesangs en Squeezies. Vrugtesap en water moet ook verkieslik in verseëlbare bekertjies ingepak word. Berei jouself voor dat dit maklik ʼn gemors kan raak. Maak dus seker die motorsitplekke is bestand teen enigiets wat mors, of selfs die onafwendbare kosoorlog. Trek ʼn seil oor die sitplek of gebruik sommer die swemhanddoeke wat in elk geval ingepak moet word.
  4. Neem genoeg speelgoed saam om hulle in die motor mee besig te hou. Besoek vooraf ʼn Chinese mark en koop goedkoop maar interessante speelgoed, wat jy net uithaal as hulle begin moeilik raak. Dit is dan ʼn nuutjie en kan hulle lank besig hou. Plakker-, teken-en leesboeke is ook goeie opsies.
  5. Kry idees vir kreatiewe speletjies voor julle die langpad aandurf. Outydse speletjies soos “Ek sien met my klein ogies…”, maak woorde op van nommerplate of “20 vrae” is altyd ʼn goeie idee. Dié webwerf bied nog talle soortgelyke idees.
  6. Ons verkies om ons kinders nog so min as moontlik aan tegnologie bloot te stel, maar soms is dit ʼn groot hulp as hulle vir lang tye moet stilsit. Dit is gewoonlik ons laaste uitweg nadat ons alles anders probeer het. Daar is baie oulike toepassings vir kinders op selfone en draagbare DVD-masjiene vir hulle gunsteling-DVD’s. Onthou om oorfone saam te vat sodat pa en ma ook bietjie die stilte kan geniet!
  7. Maak seker jou kinders sien uit na die langpad deur voor die tyd al met hulle te begin praat daaroor en hulle opgewonde te maak. Hulle kan selfs hulle eie “reissakkie” pak vir die pad met hulle gunstelingspeletjies of -boeke. Jy kan jou “Chinese” aankope hou as ʼn verrassing vir hulle.
  8. Neem hulle gunstelingmusiek saam wat lekker is om mee saam te sing. Dit kan hulle maklik besig hou vir een van die vele ure op die langpad.
  9. Indien moontlik, slaap êrens oor – dit maak die rit bietjie meer draaglik. Probeer in hulle slaaptye ry of selfs deur die nag as julle daarvoor kans sien.
  10. Laat pa en ma beurte maak om te bestuur en kinders onder beheer te hou. Indien daar plek is, gaan sit elke nou en dan agter by die kinders om enige trane of bakleiery te voorkom.

Foto: Holiday Extras

Per vliegtuig

  1. Indien jy ʼn baie besige babatjie het, help dit om hulle so uur of wat voor julle opstyg ʼn klein bietjie Panado in te gee, indien jy sou verkies. Dit maak hulle net effens rustiger en mag dalk selfs help dat hulle ʼn gedeelte van die vlug slaap. Moenie vir hulle iets gee wat jy nie reeds vantevore vir hulle gegee het nie, om seker te maak daar is nie ʼn newe-effek wat tot erge gevolge kan lei nie.
  2. Maak seker jy bespreek die regte sitplekke. Vir binnelandse vlugte is die sitplekke heel agter in die vliegtuig die beste opsie. Só is jy naby die badkamer, die personeel kan jou maklik bystaan en jou kinders sal die minste ander passasiers kan pla. Probeer egter so gou as wat die hekke oopmaak, op die vliegtuig te klim. Dan hoef jy nie verby ander passasiers te skuur of te soek vir bagasieplek nie.
    Met internasionale vlugte kan jy die “bulkhead”-sitplek versoek. Dis die sitplekke reg agter die badkamer of kombuis. Jy sal jou baba in ʼn mandjie kan laat slaap en dit gee vir jou ook lekker beenspasie of plek om op te staan as jy hom/haar moet sus. Skakel die lugredery voor die vertrekdatum en bespreek die slaapmandjie. Sommige van die lugrederye het net een of twee per vlug beskikbaar.
    Wag vir al die passasiers om eers die vliegtuig te verlaat voor julle afklim. Só kan die personeel jou waarskynlik help en teen die tyd wat julle by die bagasieterminaal kom, sal jou tasse reeds daar wees.
  3. Neem genoeg goed vir kleuters saam om hulle mee besig te hou voor en tydens die vlug. Besoek ʼn Chinese mark en koop goedkoop maar interessante speelgoed, wat jy net uithaal as hulle begin moeilik raak. Dit is dan ʼn nuutjie en kan hulle lank besig hou. Plakker-, teken-en leesboeke is ook goeie opsies.
  4. Soos reeds genoem in bogenoemde “per motor”, neem genoeg peuselhappies en drinkgoed saam. (Sien nommer 3.)
  5. Laat jou kinders kruip, loop en hardloop (hang af wat die hoogste spoed is waartoe hulle in daardie stadium in staat is) voor julle op die vliegtuig klim. Dit sal maak dat hulle van die ekstra energie ontslae raak sodat dit vir hulle makliker is om te moet stilsit op die vliegtuig. Laat almal die badkamer gebruik voor julle op die vliegtuig klim. Ruil ʼn doek, selfs al is dit nie baie vuil nie. Die geriewe op ʼn vliegtuig is bitter beperk en klein, dus is dit beter om te probeer voorkom dat jy dit op die vliegtuig moet aanpak.
  6. Soos reeds genoem by “per motor” (nommer 6), is tegnologie tog ook ʼn groot hulp op vlugte. Op internasionale vlugte is daar tekenprente beskikbaar op die kanale wat hulle aanbied. Onthou om oorfone in te pak sodat die geluide nie ander passasiers pla indien jy van selfone of DVD-masjiene gebruik maak nie.
  7. Tydens opstyging en landing help dit om jou baba te kan bors- of bottelvoed, of ʼn fopspeen te gee om te suig. As gevolg van die lugdrukverandering kan enigiemand se ore maklik toeslaan en die gereelde sluk-aksie help om dit oop te hou. Indien jy borsvoed, help dit om die venstersitplek te bespreek, of neem ʼn breast feeder (ʼn spesiaal ontwerpte doek wat mens oor jou en baba kan gooi vir privaatheid) saam. Vir ouer kinders maak seker hulle het iets om te suig om of iets om te eet, wat lank genoeg sal hou vir die gewoonlik 20 minute wat dit neem om te land of op te styg.
  8. Indien moontlik, bespreek vlugte wat met jou kinders se daaglikse slaaptye ooreenstem. Op dié manier sal hulle moeg genoeg wees om te wil slaap wanneer julle op die vliegtuig klim en dit sal vir almal die vlug makliker en korter maak.
  9. Ons het ʼn gewoonte om meestal net die basiese tyd wat toegelaat word om voor ʼn vlug op die lughawe te wees, daar te wees. Met kinders moes ons dit aanpas. Laat jouself meer as genoeg tyd toe. Mens weet nooit hoeveel doeke geruil moet word, of hoeveel “tantrums” hanteer moet word nie.
  10. Vra vir hulp wanneer jy inboek. Alhoewel ons al baie gereis het, is dit ʼn ander saak om met kinders te reis. Alles vat langer en kan soms moeiliker wees omdat jy hierdie keer nie net jou oog op klein mensies moet hou wat besluit hulle vat die pad nie, maar jy het dikwels ook ʼn stootwaentjie wat jy moet rondstoot of selfs moet dra. Dit help as jy jou baba aan jouself kan vasmaak, maar ek hou daarvan om die stootwaentjie soms saam te vat om my rug ʼn ruskans te kan gee. Ongelukkig is nie al die lughawens só ingerig dat hulle dit vir jou maklik maak in daardie opsig nie. Jy sal byvoorbeeld iemand moet vra om jou te help om die stootwaentjie in die bus te tel wat jou na ʼn vliegtuig neem wat nie direk toeganklik is van die lughawegebou nie. Die stootwaentjie moet daarna ingegee word. As iemand van die lugredery jou help, kan dit jou lewe aansienlik makliker maak. Voel vry om van enige geriewe wat vir mense met gestremdhede bedoel is, gebruik te maak, indien nodig.
  11. Neem altyd ʼn ekstra stel klere saam vir al die kinders. Ook genoeg natlappies.

Deel gerus nog raad indien jy het.
Geniet die reis!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

wielie ·

Ja nee ons is ook riesigers wat gereeld kamp, of rondrits en ons twee het groot geword in n kar oppi pad ……… ons het gesing, wiele getel musiek geluister kar krieket gespeel !! padkaart beurt gehad ……….. vandag rits hulle met hulle kids

LJL ·

As jy vlieg met jou kinders, leer hulle maniere vooraf, as daar nog een kind my stoel van agter moet skop, trip ek jou in die gang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.