Hoe werk keuring by universiteite?

bcom graad studeer akademia

Argieffoto.

Marli Naidoo

Twaalf jaar se harde werk is amper verby, en jy is opgewonde om by die universiteit en in die veld van jou keuse te begin studeer. Daar is egter eers ‘n groot berg om oor te kom: die aansoek.

Studente in graad 12 moet hul finale graad 11-jaarpunt (promosiepunt) gebruik om mee aansoek te doen. Geen graad 12-punte word vir voorwaardelike toelating oorweeg nie. Leerders in graad 12 kry voorlopige toelating op grond van die finale graad 11-jaarpunt (promosiepunt). Let egter daarop dat die finale graad 12-uitslae deurslaggewend vir toelating is. Let ook daarop dat voldoening aan die minimum vereistes nie noodwendig toelating tot enige program of studieveld waarborg nie.

Indien jy egter reeds matriek het, sal jy jou Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) vir jou aansoek moet gebruik. ´n Graad 12-sertifikaat met matriekvrystelling word vereis indien graad 12 voor 2008 geslaag is.

Addisionele keuringskriteria is van toepassing op aansoeke vir keuringsprogramme. Gaan bestudeer die universiteit se brosjure om seker te maak van hierdie kriteria vir jou gekose studierigting.

By die meeste universiteite word die NSS-uitslae gekombineer in ’n toelatingspunttelling (TPT). Die TPT word egter verskillend deur die verskillende universiteite bereken. Sommige universiteite gebruik die gemiddelde van vier vakke op jou Nasionale Senior Sertifikaat, terwyl ander die gemiddelde van ses vakke gebruik.  Lewensoriëntering word uitgesluit uit die berekening van die TPT.

Studente wat nie ‘n Nasionale Senior Sertifikaat het nie, moet ‘n toelatingspunttelling-omskakelingstabel gebruik.

Elke voornemende student moet ook nasionale maatstaftoetse aflê. Dit is ‘n stel toetse wat jou akademiese gereedheid vir universiteit toets. Hulle assesseer die kennis wat jy deur jou hele skoolloopbaan bymekaargemaak het.

Jou kulturele en sportsprestasies word ook in ag geneem wanneer jy by ‘n spesifieke instansie aansoek doen.

Indien jy nie aan ‘n bepaalde studierigting se vereistes voldoen nie, kan jy ‘n verlengde program in die bepaalde studierigting volg. In so ‘n geval word die eerste jaar van jou graadkursus in twee jaar verdeel. Sekere vereistes geld steeds. Jy kan ook ‘n diploma of sertifikaat in sekere studierigtings verwerf wat deur verskeie universiteite aangebied word.

Dié video is deel van ‘n reeks om matrikulante aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android– en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

Bronne:
Hoërskool Randburg
Helpmekaar
Loopbaan
Educonnect

Hierdie artikel is ook te sien op Solidariteit Jeug

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Thinus ·

Die 2016 en 2017 matrieks het nog nie hul matriek sertifikate ontvang nie, net vakverklarings. Daar is na bewering fout met die watermerk op die papier wat hiervoor gebruik moes word. Wanneer universiteite hulle toelaat, word daar verwag dat die matriek sertifikaat nog in dieselfde jaar uitgereik moet word. Wanneer hulle afstudeer, kan hulle nie graad sertifikate ontvang as daar nog geen matriek sertifikaat ontvang is nie, net vakverklarings. Wanneer hulle begin werk, kan wergewers weier om die salaris op die vlak van’ n gegradueerde te betaal totdat die nodige sertifikate ontvang is.

Pietman ·

Kan dalk ook noem dat aansoeke vir medies, veartsenykunde ens heelwat vroeêr as ander aansoeke ingedien moet word, Sal ook loon om ‘n alternatiewe kursus te identifiseer sou die eerste keuse nie suksesvol wees nie.

Andrea ·

Dis waar Pietman, maar dit gebeur ongelukkig tydens die keuringsproses van baie departemente dat slegs die eerste keuse wat op die aansoek aangedui is, oorweeg word. Dit laat die aansoeker met nie veel van n keuse nie, ongelukkig.

Oupa F ·

Is daar enige rasse-kwotas vir sekere studierigtings wat in gedagte gehou moet word?

Verseker ·

Ongelukkig, Oupa F, beslis vir die keuringskursusse. Baie beslis by die medies en mediesverwante rigtings. ‘n Skreiende skande wat ‘n klomp eposse aan Solidariteit en Afriforum van baie mense af tot gevolg gehad het. Met geen respons nie. Ekself wag nou nog om te hoor hoekom ek hulle so baie betaal per maand as hulle nie my dogter met uitstekende punte sal bystaan as sy heel moontlik ook op die verpletterde drome lys is nie. Ek sal maar aanhou wag…en dan my betalings sekerlik staak. Hulle veg ten duurste vir ander sake, maar ons smeke om ons kinders se toekoms te help beskerm teen omgekeerde rassisme, val op dowe ore? Terloops, dis nie hoorsê nie…Kwotas is aan die orde van die dag, maak nie saak of die ander party nie naby aan jou wit kind se TPT kom nie. Ek weet…want ek werk self daarmee by ‘n tersiêre instelling.

Dosent ·

Kom ek probeer jou eerlik en opreg antwoord uit die feite van my werksomgewing, Oupa F. Daar IS verseker onregverdige kwotas. Jou kind met die 90 gemiddeld sal nie gekeur word vir medies nie; maar haar swart eweknie met ‘n heelwat laer TPT telling wel. Selfs by die medies-verwante rigtings waar ekself werksaam is, gebeur dit dat ons baie swakker akademiese studente moet keur solank daar net swart kandidate in die stoele sit.
Vra ons al lank as getroue bydraers vir Solidariteit en Afriforum om in te gryp en ons kinders se toekoms in die land te verseker? Beslis. Het ek al ‘n antwoord gekry? Net dawerende stilte. Ek begin wonder wat die ware prioriteite is. Dit blyk nie ons eie volk se jeug te wees nie…So ek is jammer om die slegte nuus jou mee te deel. My eie dogter leef daagliks as toppresteerder met die wete dat sy hoogs waarskynlik nie haar (wit) hart sal kan nastreef nie. En haar eie mense lyk net gretig om ons geld vir ander redes te ontvang maandeliks…

Ouer ·

Kan Solidariteit en/of Afriforum dalk reageer op die kommentare van Verseker en Dosent?
Julle moet tog besef dat personeel wat betrokke is by die keuringsprosesse nie openlik oor hierdie onregverdige praktyke kan praat nie. Neem asb kennis van die uiters onregverdige praktyke wat sekerlik orals by tersiêre instellings in SA aangaan en staan asb op vir ons wit kinders wat gemarginaliseer word.

Henk Maree ·

Dosent en Verseker sal julle asseblief so gaaf wees om vir my n e-pos te stuur sodat ons julle sake kan bespreek. My e-pos is [email protected]

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.