Hoekom is mense so onseker oor hul moedertaal?

moedertaaldag

Argieffoto.

Deur Christien Neser

Hoekom is mense so onseker oor taal? Hoekom nog wonder of jou huistaal die regte taal is om jou baba in groot te maak? En later as skooltaal te kies?

My ervaring as terapeut is dat ouers doodbang is dat hulle die kind sal benadeel as hy in enigiets anders as Engels grootgemaak word. Die teenoorgestelde is egter waar. Jy ontneem die kind niks as jy hom in jou huistaal grootmaak nie. Inteendeel, jy gee hom of haar vyf unieke bonuspunte.

  1. Meertaligheid

Meertaligheid is die outomatiese bonus van ʼn moedertaalspreker in ons land, buiten as die kind Engelstalig grootgemaak word. Want dan is eentaligheid waarskynlik sy roete, omdat Engels die enigste taal is wat jy móét kan praat. Dit is vandag sekerlik die sterkste wêreldtaal, veral in die media, vermaak en besigheid. Die ouer wat egter sy huistaal kies, ʼn minderheidstaal, waarborg dat sy kind ten minste tweetalig gaan wees. Ons woon in Engelse wêreld, waarbinne kinders onwillekeurig Engels aanleer. Van sy helper in die crèche, tot die huishulp, die winkelassistente, televisie en skool, word hy oorspoel deur die taal. Ma en pa hoef dit hom nie aan te leer nie. Hy absorbeer dit. Language is caught, not taught.

Maar wat van taalverwarring? En wat as my kind laat begin praat omdat hy Afrikaans tuis hoor en Engels by die dagsorg? Die goeie nuus is dat babas en kinders se wonderlike elastiese breine neurologies bedraad is om meer as een taal aan te leer. Dit neem natuurlik langer, want prosessering van twee tale verg intense breingimnastiek. ʼn Meertalige breintjie werk baie harder as ʼn eentalige brein. Die toekomstige voordele is onberekenbaar.

Goue reël: Waar skool en huistaal verskil, of waar ʼn huishulp se taal nie Afrikaans is nie, of waar ouers self verskillende tale praat, is dit noodsaaklik dat die Opol-sisteem gevolg word – “One parent, one language”. ʼn Kind assosieer een gesig met een taal, al weet hy nie eens wat die taal se naam is nie. Daardie gesig moet by een taal hou.

En hoekom wil ons meertalige kinders hê? Want meertalige kinders gaan die lewe met meer selfvertroue binne. Hulle is sosiaal beter aangepas en kan makliker in die werksplek met ʼn verskeidenheid mense kommunikeer. Hulle het breine wat voortdurend bly vertaal, iets wat die brein fiks en skerp hou, selfs tot op hoë ouderdom. Wat ons by bonuspunt nommer 2 bring.

  1. Intelligensie

Intelligensie het baie definisies, waarvan een die optimale gebruik van die brein is. Hoe beter ʼn brein funksioneer, hoe intelligenter word ʼn persoon gereken. Meertaliges het dié voordeel dat hul breinkapasiteit vergroot, aangesien meer dele van die taalarea geaktiveer word. ʼn Eentalige brein is ʼn onderbenutte brein.

Dit is nou in talle studies bewys dat die meertalige brein langer jonk bly. Studies in Engeland (bronne word aan die einde van die artikel geplaas) dui daarop dat meertalige kinders beter in chaos funksioneer, sosiaal vaardiger is en beter kan fokus. Hulle leer ʼn nuwe taal ook makliker aan as eentaliges. Dieselfde word later in die werksplek ervaar.

  1. Innigheid

ʼn Baba reageer op sy ma se stem van voor geboorte af. Op twee maande kan babas tussen sy moedertaal en ʼn vreemde taal onderskei (hartklop verhoog). ʼn Ma is meer ontspanne en opreg in haar eie taal, iets wat ʼn baba aanvoel. Waar ʼn mamma nie haar eie taal met die baba praat nie, skep sy later ook afstand tussen die kind en sy grootouers. Oupas en oumas se voorreg om hulle huistaal met hul kleinkinders te praat, word hulle dan ontneem. Ouers wat dink dat hulle die kind bevoordeel deur Engels met hom te praat, maar dan Afrikaans met mekaar en met hulle familie praat, sluit die kind uit. Die band is dikwels dan minder innig, want die kinders het nie toegang tot hul ouers se geheime kode nie.

  1. Identiteit

Die groot sielkundige, Erik Erikson, het die mens se emosionele ontwikkeling van geboorte tot bejaardheid gekarteer. Die ouderdomsgroep tussen 11 en 16, ons tieners, fluktueer gedurig tussen twee pole: ʼn sterk identiteit versus identiteitsverwarring. Tieners se groot vraag is: Wie is ek en waar pas ek in? Dit is hierdie vraagstuk wat ouers ook in ag moet neem wanneer kinders hoërskool toe gaan. ʼn Engelse hoërskool gaan die kind se soeke na identiteit uitdaag en dit kan verwarring bring. Want hoekom is my taal nie goed genoeg nie? Is ék dan nie goed genoeg nie? Moedertaalonderrig tot op hoërskoolvlak kan bepalend vir ʼn sterk en gesonde identiteit wees.

ʼn Gesonde identiteit beteken dat ʼn kind weet wie hy is, sonder om arrogant of verskonend te wees. ʼn Gesonde identiteit kweek stille selfvertroue wat diversiteit in die lewe respekteer, ook wat ander tale en kulture betref.

“En sal die kind nie sukkel met al sy vakke in Engels op universiteit nie?” Nee. Want daardie brein is mos veeltalig en goed geoefen. Omdat konsepte beter in die moedertaal begryp word en op skool reeds vasgelê is, sukkel hierdie studente nie op tersiêre vlak nie. Universiteitshandboeke was buitendien nog altyd Engels!

  1. Sosiale vaardighede

Meertaliges het meer empatie met andertaliges. Dis ʼn waarborg vir groter begrip binne ons multikulturele samelewing. In ʼn eentalige bestel is daar dikwels irritasie en ongeduld teenoor diegene wat nie die lingua franca goed praat nie. Kyk maar na die VSA met hul eentalige president; of Noord-Korea met sy eentalige leier. Eentaligheid lei dikwels tot ʼn eng wêreldbeskouing. Meertaliges het ʼn wyer uitkyk, omdat hulle diversiteit verstaan. Wat mens dadelik aan die meertalige Franse president Macron herinner.

Dus: Gee jou kinders en jou kleinkinders die groot geskenk van hul moedertaal. Dit waarborg vyf vet bonusse met lewenslange voordele: Meertaligheid, intelligensie, innigheid, identiteit en sosiale vaardighede. Waarom nog ʼn oomblik huiwer? Soos moedersmelk, is moedertaal die beste.

  • Christien Neser is ʼn spraakterapeut en skrywer. Sy is ook een van die sprekers by Solidariteit Helpende Hand se Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT) se konferensie oor taalfiksie ouers. Die geleentheid vind op Donderdag 8 Februarie van 08:00 tot 12:00 by Doxa Deo Ouditorium in Lyttelton Manor in Centurion plaas. Stuur ʼn e-pos aan [email protected] vir meer inligting of om jou plek by die konferensie te bespreek.

Bronne:

“Bilingual Brains are smarter & faster” – Psychology Today, November 2015

“Speaking More Than One Language Could Sharpen Your Brain” – Alexandra Sifferlin, Time Magazine, November 2015

“Bilingual people are like brain body builders” – Live Science, www.livescience.com

“The benefits of a bilingual brain” – Mia Nacamulli, TED Talk, 23 June 2015

“The Bilingual Brain: Variety makes you mentally stronger” – The Economist, 17 October 2014

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Saartjie ·

Dankie, Christien, vir hierdie wonderlike artikel. Ek hoop dit word in al die landstale vertaal en die boodskap via sosiale media versprei sodat alle ouers die boodskap kan hoor. Dit verstom my steeds dat so baie ouers daardie elastiese breintjies onderskat en waardevolle jare verlore laat gaan …

Knap gedaan!

carl ·

Chriestien ook groot dankie vir jou artiekel. Meertaligheid is n groot bate en ek stem 100% saam met moedertaal en moedertaal opvoeding.

dejager ·

Uitstekende artikel Christien!
Ek stem saam dat moedertaalonderrig die beste is,maar die voorwaarde is dat jou moedertaal ontwikkeld is.
Ongelukkig is meeste afrikatale nooit ontwikkel nie.Fayiso Stevens
skryf in sy boek’The african philosophy of self-destruction’ dat daar in afrika tale geen woord bestaan vir begrippe soos:
Rasioneel,logika,paranoia,effektiwiteit,strategie,infrastruktuur,belegging,konsekwentheid,prioriteit,mededingendheid,innovering en etiek.
Die implikasie hiervan is dat die begrippe nie bestaan in hierdie kultuurgroepe nie.As dit nie bestaan nie is daar NOOIT ń gesprek daaroor in die taalgroep nie.Dit volg ook natuurlik dat mens nie vreeslik baie geld aan infrastruktuur gaan spandeer as die mense wat jou in regering geplaas het nie eers ń woord daarvoor het nie.
Die tragiese is dat ń mens nie in afrikatale enige tersïere vakkunsige bespreking kan hê nie.
Engels is vir die Afrikaan ń stel trappe na die moderne beskawing.
Ons kry met ons moedersmelk al slukkies wetenskap,wiskunde en moderniteit in.Ons afrikaanse taal is fiks en gesond al word hy van owerheid kant uitrangeer.
Afrikaans kan nog meer bemagtig as Engels maar is by die huidige politici ongewild.Afrikaans se klanke en spelling is baie nader aan bv.Zoeloe as engels s’n.
Swart kinders in afrikaanse laerskole sê dikwels vir my afrikaans is hul gunsteling vak.
As engels ń stel trappe is na westerse beskawing dan is afrikaans die hysbak.
Afrikaans bo!

JC ·

Sjoe, de jager, ek is sprakeloos gelaat deur jou pragtige eerbied teenoor die mooiste tongval wat bestaan, en die nastrewenswaardige trant daarvan-kolskoot!

Afrikaans bo!!

Jan Delport ·

Nie-Engelse ouers wat hul kinders Engels wil laat grootword, onderskat seker maar hul kinders se intelligensie.

Dalk omdat die ouers self nie juis die helderste liggies in die hawe is nie???

Marthinus Willemse ·

Ek stem nie saam met die evaluering van Kim Jong-oen nie. Leiers in Asië doen baie moeite om meertalig te wees. (Hulle praat dit miskien nie, maar verstaan dit wel.) Kim se oupa is in Rusland gebore, en was offisier in die Russiese leër. Kim Jong-oen het volgens sekere bronne in Switserland gebly en studeer. Of hy eentalig is, is ek nie so seker van nie.

Therese van Schalkwyk ·

‘n Uitmuntende artikel wat beslis genoeg stof tot nadenke bied aan al die kortsigtige voorstanders van Engels-Engels-Alles-Engels-Engels-Wat-Jy-Sien-En-Hoor …

In talle gesprekke met eentalig Engelssprekendes oraloor blyk hul bewondering, en selfs ‘n tikkie afguns, vir meertaliges baie duidelik. Dat Suid-Afrikaners en verál Afrikaanssprekendes ‘n pragtige, ten volle ontwikkelde akademiese taal so versmaai en verraai, gaan die verstand te bowe. Mense wat die voorreg gehad het om tweetalig groot te word, gun dit nie vir komende geslagte nie.

Hoe die huidige president van die VSA verskil van sy voorgangers wat betref eentaligheid is onbekend, maar dat hy ‘n gerieflike sondebok is in vele artikels, is nie altemit nie.
Terloops, Bill Gates betreur die feit dat hy net Engels magtig is, so alle Suid-Afrikaners is by verre sy meerdere op taalgebied!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.