Hofuitspraak hou ernstige gevolge vir gehalte-onderrig in

Onderwys__2

Foto: www.stockvault.net

Die onlangse uitspraak in die Konstitusionele hof, wat die Gautengse onderwysdepartement die mag gee om oor skooltoelating te besluit, hou ernstige gevolge vir gehalte-onderrig in openbare skole in.

As Panyaza Lesufi, omstrede LUR vir onderwys in die provinsie, sy mag gaan misbruik en die uitspraak onoordeelkundig aanwend, sal dit tot growwe skendings van leerlinge se regte lei en die standaard van Suid-Afrikaanse onderwys beslis verder negatief beïnvloed.

Lesufi is algemeen bekend vir sy transformasie-gedrewe uitsprake teen Afrikaans en Afrikaanse enkelmediumskole. Hy het verlede jaar gedreig om 24 000 Engelssprekende leerders by Afrikaanse skole in te skryf, vir wie daar glo nie plek in ander skole was nie. Die hofuitspraak maak dit nou inderdaad makliker vir hom om dié dreigement uit te voer.

Ouers, beheerliggaamorganisasies en vakbonde is inderdaad bekommerd oor hoe Lesufi en sy amptenare uitvoering aan die uitspraak gaan gee. Veral ook in die lig van sy onlangse aanval op Afrikaanse skole wat glo nie hul hulpbronne en geriewe met arm skole wil deel nie en hulself “isoleer”.

Hy het in ʼn openbare debat met Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, uitgevaar teen Afrikaanse skole wat “daarop uit is om hul terrein te beskerm”.

Hoewel hy in die openbaar gesê het hy wil nie wraak teen Afrikaans wil neem of dit uit skole verwyder nie, beskou hy die taal egter steeds as ʼn struikelblok om “alle leerlinge toegang tot alle skole en gehalte-onderrig te gee”.

Indien Lesufi en die departement sou voortgaan om Afrikaanse skole te teiken en in die toekoms wil voorskryf hoe die skole hul toelatingsbeleid moet toepas, kan dit tot ʼn onhoudbare onderrigsituasie met verreikende gevolge lei.

As presterende skole wat goeie gehalte-onderrig verskaf, skielik oorstroom en gedwing gaan word om tot 50 leerlinge in ʼn klaskamer te akkommodeer, gaan dit tot ʼn uittog van die beste onderwysers, ander personeel en leerlinge lei.

Duisende onderwysers het reeds ʼn negatiewe belewing van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel en tot 15 000 van hulle verlaat die beroep jaarliks. Dit lei tot jaarlikse tekorte wat deur sommige instellings op tot 30 000 geraam word omdat universiteite ook nie naastenby genoeg nuwe onderwysers oplei nie. As die departement in die toekoms nog verder by skole en onderrig wil inmeng, kan nog meer dalk na groener weivelde gaan soek.

Ouergemeenskappe van dié skole wat baie hoë skoolgelde betaal om ekstra onderwysers in diens te neem om kleiner klasse te verseker en om moderne toerusting en leermateriaal te voorsien, sal hul bydraes en hul betrokkenheid onttrek. Diegene wat dit kan bekostig, sal hul heil in private of selfs tuisonderrig gaan soek.

Die finansiële impak op die skole sal enorm wees as betalende ouers hul kinders op strepe begin onttrek. Min mense besef dat die meeste voormalige model C-skole, wat minder as 5% van die sowat 24 000 openbare skole in die land uitmaak, 80% of meer van hul begroting self genereer. Die regering gee graag hoog op oor hoeveel geen-skoolgeld-skole daar in  die land is, maar swyg gerieflikheidshalwe oor dié voormalige model C-skole waarvan sommige minder as 2% van hul jaarlikse begroting van die staat kry.

Ouers betaal dus ʼn baie, baie duur prys om gehalte-onderrig te verseker en om oor kwessies soos taal-, godsdiens- en toelatingsbeleid te mag besluit wat in die beste belang van al die kinders van ʼn betrokke skool is. As dié regte nie meer erken word nie en ondeurdagte besluite namens ouers geneem word wat nie in die beste belang van hul kinders is nie, sal hulle onttrek.

Skole waar ouergemeenskappe onbetrokke is, sukkel om die mas op alle vlakke op te kom. Waar daar nie ʼn vennootskap tussen ouers, leerlinge, die skool en die onderwysdepartement is nie, gedy gehalte-onderrig nie.

Dit is ook ʼn uitgemaakte saak dat moedertaalonderrig in Afrikaans se dae getel sal wees as Afrikaanse skole deur Engelssprekende leerlinge oorstroom word. Navorsing het reeds oor en oor bewys dit neem maar net enkele jare vir ʼn skool om van parallelmedium na dubbelmedium en uiteindelik net Engels te verander.

Benewens die feit dat kinders se basiese reg tot moedertaalonderrig geskend word, word duisende leerlinge gedwing om in ʼn taal (Engels) te leer wat pedagogies nie in hul beste belang is nie. Die ANC-regering is meesterlik hiermee, aangesien daar geen politieke of ander wil is om ander inheemse tale op te hef of te bevorder sodat kinders in hul moedertaal onderrig kan word nie.

Daar is ook ander redes waarom onderwys- en regskenners met reg bekommerd is oor die moontlike impak van die hofuitspraak.  Dit hou verband met die ideologiese agendas van die ANC-regering en hoe amptenare dit op verskeie vlakke uitvoer.

As Lesufi voortaan besluit Afrikaanse skole moet demografies verteenwoordigend van die land wees, is dit noodgedwonge die einde van daardie skole se bepaalde etos, kultuur en dissipline. En soos wat reeds in verskeie skole gesien is, is die uiteinde eenvoudig dat uitnemende onderrig vir middelmatigheid en swak onderwys en prestasies plek maak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ouer ·

Ek stem saam met die skrywer. Lesufi behoort liewer te fokus op die massas wanfunksionele skole. Wat my ook baie bekommer is wat gaan word van onderwysers se pensioene en mediese voordele na aftrede. Met die regering se wanbesteding en swak finansiële keuses wonder mens of enige onderwyser kan rustig slaap oor sy of haar aftede.

Leendert van Oostrum ·

Alet Rademeyer verduidelik hoe ouers hemelhoë fooie moet betaal om die fasiliteite te verskaf in die “goeie skole”.

Sy voorspel dat leerlinge en onderwysers in groot getalle uit die Afrikaanse skole sal stroom wanneer nie-betalende leerlinge dit beset.

Hierdie voorspelling is reeds in die Onderwyswitskrif No 2 in Feberuarie 1996 gemaak deur internasionale kundiges in die befondsing van openbare skole. Die kundiges is spesiaal deur die regering aangestel om hulle te adviseer.

Volgens die verslag in die oewerheid se eie witskrif lei dit tot die verval van die hele openbare skoolstelsel.

Maar miskien dit in die langtermyn die beste vir Afrikaans en Afrikaners as ons (na verloop van 110 jaar se toenemende afhanklikheid) kan ophou om uit die regering se krip te vreet.

tamboti ·

Die skrif is aan die muur vir Afrikaans, skole en Universiteite sal almal verEngels word. Maak maar reg vir privaat Afr. skole en Universiteite wat die regering dan steeds op elke moontlike manier sal verhinder. Afrikaans moet val in hul stryd teen apartheid en wit rassisme.

Koos ·

Afriforum/solidariteit sal voorsien as elke Afrikaanse persoon ‘n finansiële bydrae maak kan private Afrikaanse skole gebou word wat heeltemal onafhanklik sal wees van die regeerders se swak kurikilem en elke Afrikaanse kind ‘n kans gee vir ‘n beter toekoms

Leonard van der Dussen ·

Dit is waar dat een van die gevolge van die aksies teen Afrikaanse skole gehalte-onderrig gaan benadeel. Enige politieke inmenging in onderwys wat nie werklik met akademiese doelwitte te doen het nie, veroorsaak sulke skade.

Die stryd vir gehalte-onderwys strek egter oor die Afrikaans/Engels-grens heen en is inteendeel ‘n gesamentlike stryd van beskawing en gesonde verstand teenoor Afrika-laagste gemene deler en ideologies hebsug (en kommunisme).

Dis nie ‘n onderwerp wat in ‘n kommentaarblokkie behandel kan word nie, maar daar moet strategies onderskei word tussen die Afrikaans/Engels-verhouding en die sosio-politiese en magstryde.

Daar is baie Engelssprekende Christene wat met hulle hande net soos Afrikaners in die hare sit oor waarheen om met hulle kinders vir gesonde skoolopleiding te gaan. Daar is bondgenote daar met wie daar gemeenskaplike optrede kan wees vir vrye onderwys en akademiese gehalte.

Dit alles gesê, is moedertaalonderrig en Afrikaans natuurlik werd om voor te stry. Die Afrikaans/Engelse-verhouding en die strategiese voordele wat daaruit verkry kan word moet net nie verlore gaan in ‘n Afrikaans-is-alles denkraamwerk wat onbedoeld ‘n politieke doelwit op onderwys toepas in die poging om die politieke skade aan gehalte-onderwys te wil bestry. Die skole moet arke wees waar die volgende geslag opgelei word, terwyl die oorlog elders gevoer word.

Theresa ·

Kry nou sommer verder toegang tot dit wat nog nie afgebrand, geplunder, besteel word, nog nie swak disipline beoefen nie, skoolgeld en versorgde geboue omdat daar mense is wat wel weet wat dit beteken om iets te versorg.
Dis werklik jammer dat dit so besluit is.

Theresa ·

Gaan daar darem ‘n afsny-ouderdom wees per graad? Bv. niemand op ouderdom 15 in graad 2 nie? Nogal ‘n belangrike punt om te onthou.

Theuns ·

Dit is nie Engelsprekende Wit kinders wat na Afrikaanse Wit kinders se skole gaan maar swart kinders. Wat ek nou net gese het is nie rassisties nie maar n feit. Afrikaans Skole moet verwyn. Die uiteindelike doel is dat Afrikaners moet verdwyn, dan Witmense!

Basson ·

Korrek, dis die groter prentjie getrou aan die Afrika diktatorskap/magsbeheptheid tradisie wat alles vernietig wat nie volgens MY reëls speel, maw my knegte is nie.

Johann Marx ·

Hierdie is alles presies in ooreenstemming met die ANC se vryheidsmanifes…..terwyl ons fokus op die konstitusie.

Pieter Joubert ·

Dit is ‘n nagmerrie. Ek dink eerlikwaar die regspan het nie goeie werk gedoen in die Hof nie: Die regter se uitspraak getuig van onkunde oor die praktiese implikasies en huidige beskikbare resultate van die aanlynstelsel – die stelsel doen GLAD nie wat die regter in sy uitspraak na verwys, naamlik om aan alle kinders toegang te gee nie. Die stelsel WEERHOU toegang omdat arm ouers en minderbevoorregte skole nie die internetstelsel en papier-vereistes kan bemeester nie. Die aanlyn-stelsel bevat onvoldoende rekenaarkontroles om die volle populasie van kinders akkuraat te identifiseer en kan derhalwe nie verseker dat almal geplaas word nie. Voorts het die stelsel reeds duisende kinders geplaas BUITE die A,B en C area waarvan die Regter praat, sonder dat hulle vervoer het. Die stelsel plaas ook broers en susters ver van mekaar in verskillende skole, wat die reg op assosiasie in die grondwet oortree. Die instansie wat die meeste verantwoordelikheid gehad het om die hofsaak beter te doen en die Regter te oortuig, was die vereniging van beheerliggame, wat dus die ouers gefaal het.

Louise ·

So dis Afrianers se SKULD dat die ander skole van slegte gehalte is en afgebrand word en dat daar net mooi geen disipline is nie.
Kan die mense/regering maar nie net hulle eie GOED begin opbou eerder as GRUIP nie, Die afrikaanse skole het nie uit die LUG geval nie. Maar was sonder HULP van ons regering opgebou met harde werk en baie disipline. Gaan ons skole ook nou afgebrand word as daar skool geld betaal moet word, vra maar net. Hoekom word die kinders nie eerder van kleins af reg groot gemaak nie. WERK, discipline en so aan. Mens werk vir wat mens soek, hoe gaan die kinders OOIT leer as alles verniet gekry word…… Nie net help dit hulle nie maar ook in die toekoms ons hele land en sy ekonomie.

Alda ·

Die blanke en die afrikaner in besonder is vir hulle ‘n konstante herinnering aan hulle totale “incompetence”! Solank ons in dieselfde kirrikulum, ekonomiese klimaat en gesondheidsdiens dit regkry om te funksioneer, goeie punte te kry en ons instellings te laat werk maak dit hulle attent op hulle gevaalde regeringspraktyk en dat die fout dalk net nie by apartheid gewees het nie maar by hulle self as nasie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.