Hongersnood onder kinders in Suid-Afrika

(Foto: Helpende Hand)

Deur Sophia Herman

’n Koerantartikel, “’n Tiende van SA se kinders ly honger, wat in die Rapport van 5 Januarie 2020 verskyn het, laat ’n mens dink wat is hongersnood regtig?

Honger kan beskryf word as ’n “gebrek aan lewensmiddele” of ’n “ongemaklike sensasie veroorsaak deur die (konstante) gebrek aan kos wat noodsaaklik is vir die liggaamsfunksies”. Hongersnood kan ook beskryf word as ’n “volslae, langdurige voedselgebrek in ’n groot gebied.”

’n Verslag getiteld The South African Child Gauge 2019, saamgestel na aanleiding van bevindings deur die Universiteit van Kaapstad (UK) se Kinderinstituut, die VN se Kinderfonds (Unicef) Suid-Afrika, die Centre for Excellence in Human Development (CoE-HUMAN) van die Universiteit van die Witwatersrand, die Tutu-stigting en Tutuwa-gemeenskapstigting (Standard Bank), het bevind daar is groot nood. Daar is bevind dat 2,1 miljoen kinders se huishoudings nie genoeg kos het nie. ’n Tiende van alle kinders gaan honger slaap; meer as ’n derde daarvan in Natal en nog ’n vyfde in Gauteng. Dit is ’n effense verbetering op vorige syfer soos in 2002 toe dit 30% van huishoudings was, of in 2016, 26%. Steeds het ons ’n hongerkrisis. Ons is nommer 55 op die Global Hunger Index (GHI).

Volgens statistieke kom 65% van kinders wat onder die broodlyn (minder as R1 183 per maand) leef, uit swart gesinne, 31% uit bruin gesinne en 3% uit wit gesinne. Lori Lake van die Kinderinstituut sê alhoewel armoede onder kinders die afgelope dekade verminder het, leef daar steeds 60% onder die broodlyn, 30% het nie water in die huis nie en 20% bly in oorvol huishoudings.

Oorsake van hongersnood in Suid-Afrika

  • Armoede;
  • Werkloosheid (30%), onsekerheid van werk of afleggings;
  • Geen broodwinner nie as gevolg van dievigsepidemie – kinders is wees gelaat, kwesbaar en getraumatiseerd. Vele moet self sorg;
  • Swak voedingswaarde van kos (hidden hunger). Gesondheid berus op spesifieke voedingstowwe,veral in die eerste 1 000 dae (swangerskap tot 2 jaar) van ’n kind se lewe. Statistiek SA berig dat tydens vroeë kinderontwikkeling in Suid-Afrika, ’n derde van die kinders in Natal en die Vrystaat groeibelemmering toon as gevolg van ’n tekort aan veral proteïene, wat lei tot kroniese siektes, swak skoolprestasie en uiteindelik tot swak inkomste. Ook het Suid-Afrika die hoogste voorkoms van lae geboortegewig. Soveel as 35% swanger vroue erken dat hulle vyf dae voor ondersoeke nie kos kon koop nie;
  • Te min kos/vermorsing. Suid-Afrika het die kos, maar tot 10 miljoen ton (vrugte, groente, graan, vleis) word jaarliks weggegooi – ’n vermorsing van R71,4 biljoen;
  • Toegang tot kos is vir vele nie beskore nie; en
  • Sommige moet hulhuise soggens so vroeg verlaat vir skool dat daar nie tyd is vir eet nie.

Voedselsekerheid

Die Wêreldvoedselprogram (WFP) sê voedselsekerheid berus daarop dat kinders ten alle tye toegang moet hê tot genoeg veilige, voedsame kos om ’n gesonde, aktiewe lewe te lei. Die SA National Health and Nutrition Examination Survey het bevind dat 28% van gesinne in stedelike gebiede op die randjie van honger leef en dat 26% honger ly. Op die platteland is dit erger met die persentasies van 32% en 36% onderskeidelik. Die leemte in voedselsekerheid hang egter nie net af van kos op die tafel nie, maar ook van wanvoeding wat lei tot obesiteit, “honger seisoene”, asook ’n dieet met geen verskeidenheid nie.

Andy du Plessis, besturende direkteur van Food Forward SA, ’n organisasie wat ten doel het om hongersnood te laat afneem, probeer voedselgehalte verseker wat hulle aan behoeftiges beskikbaar stel. Nolwazi Serero, uitvoerende hoof van The Farmer’s Harvest, verklaar dat geen subsidies in Suid-Afrika beskikbaar gestel word om kos goedkoper te verskaf nie, ook geen aansporingsinisiatiewe vir boere nie.

“Ons dok op met hoë pryse as gevolg van Suid-Afrika wat invoer eerder as uitvoer. Dit bring oorsese kompetisie mee.”

Serero wys verder daarop dat verstedeliking en globalisering tot druk op die voedselverskaffer lei. Min mense op die platteland boer op klein skaal. Baie min hét grond. In die stede moet jy betaal vir wat jy kry en die geweldig hoë werkloosheid lei tot voedselonsekerheid.

Armoede hou mense/kinders in sy greep van honger en min geleenthede. Wanvoeding en honger veroorsaak dat kinders sukkel om vaardighede aan te leer wat hulle sou kon help om “weg te breek” om ’n beter toekoms te verseker. Vir baie lei dit tot beperkte toegang tot onderwys. In 2018 was 232 000 van die 11,6 miljoen skoolpligtiges (7-17 jaar) gereeld afwesig. Vele is swak presteerders. In 2015 kon slegs 51% ’n matrieksertifikaat behaal.

Voedselhulp

Daar is talle voedingskemas in Suid-Afrika. Afgesien van die talle plaaslike sopkombuise en voedingskemas deur byvoorbeeld kerke, is daar ook ’n aantal groter nasionale voedingskemas.

Wat kan ek doen?

Kan ons as Die Dameskring hierdie ellende help verlig? Hongersnood, veral onder kinders, is ’n werklikheid wat ons elke dag om ons sien. Bespreek die volgende punte en maak ’n plan om betrokke te raak

  1. Is jy bewus van ’n voedingskema in jou dorp? Naam?
  2. Wie ontvang kos?
  3. Wat behels die kos?
  4. Wie is in beheer daarvan?
  5. Sou jul tak dalk betrokke kon raak? Hoe?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

En solank anc niks omgee vir die armes nie, gaan niks verander nie. Privaat mense kan net soveel doen, veral as hul oorbelas word en die belastinggeld dan nog vermors word.

Miskruier ·

Loer in by die armes in jou dorp, voorsien kospakkies, geen geld donasie.

Piet ·

En dit terwyl die rystes van die ryk rekords gebreek het tydens COVID. As ons nie kan bekostig om arm kinders te voer nie, kan ons nie biljoenêre bekostig nie. So eenvoudig soos dit

annie ·

Wit armoede moet by name genoem en aangespreek word. Emily Hobhouse, ‘n Engelse vrou moes destyds die voortou neem toe die Boere op hul knieè was. Na die Depressie was duisende huisgesinne in erge verknorsing. Nou moet ons aan ons eie mense dink, want niemand anders doen dit nie. Kinders het ook mediese hulp en materièle bystand nodig. Baie kinders ly aan kwale maar die ouers weet nie waarheen nie sonder mediese fondse. Skole word met ‘n valksoog dopgehou en staatshospitale…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.