Hoop op die rand van die afgrond

eksamen 4 matriek toets uitslag

Argieffoto.

Vandag is die kinders wat eksamen skryf in my gedagtes en ek wil daarom fokus op hulle, maar ook alle kinders daarby insluit. Hoe gee ons hulle hoop? Hoe verseker ons ’n kind dat hy kan bly staan, kan aanhang, kan opstaan as hy val en ’n toekoms kan hê?

Hoe doen ons dit met ’n kind wat op die randjie van ’n afgrond staan? Dis eintlik eenvoudig: moenie jou kind afstamp nie! Watter ouer sou tog ooit sy kind doelbewus afstamp? Tog doen ons dit onnadenkend! Ons doen dit met aanvallende woorde soos: Wat is fout met jou? Wat het jy gedink toe jy so opgetree het? Hoeveel keer wil jy nog jou kop stamp voor jy gaan leer?”

Jim Hancock verduidelik hoe ons kinders hiermee oor die afgrond stoot: “Om beskuldig te word as ek wel iets verkeerd gedoen het, laat my ’n verdiende bloos bloos en sê: ‘Ek het iets verkeerds gedoen en ek moet dit regstel’, maar om verneder te word, laat my ’n dieper bloos bloos en sê: ‘Ek is iets verkeerds en niks wat ek doen kan dit regstel nie…’.”

Ons stoot hulle weg deur chronies hulle toekoms dood te praat: “Jy’s wit, daar is niks vir jou in hierdie land nie, jy’s nie slim genoeg, vinnig genoeg, fluks genoeg, sterk genoeg, nie. Jy gaan dit nie maak nie…”

Hopelik is nie ek of jy stoters en stampers nie, hopelik pak ons graag valskerms vir ons kinders in omdat ons aan hulle kant is. Vertel jy jou kind hoe graag jy hom wou hê, hoe gelukkig sy opwagting julle gesin gemaak het, hoe jy haar geniet het as baba, kleuter en in elke fase daarna? Vertel jy jou kind wat hy nou vir jou beteken, hoeveel sy nou vir jou werd is?

Laastens beveel ek aan (aan myself ook) dat ons byderhand is wanneer ons kinders val sodat ons hulle kan ophelp. Wanneer hulle ore na die harde landing ophou sing, moet ons stem die eerste wees wat hulle hoor en ons vriendelike gesig die eerste ding wees wat hulle sien as hulle uit die disnismis opkom.

As kinders val is ons natuurlike reaksie eerder: “Kan jy nie kyk waar jy loop nie? Ek het jou mos gesê dit gaan gebeur!” Dis soos om van bó by die afgrond af te loer en boonop die reuse-rots daar bó ook oor die rand te stoot sodat dit die gevallene verder kan verpletter.

Wat is ons alternatief? Soms is dit om net langs jou hartseer kind te sit en niks te sê nie, soms om eerste te wees om vergifnis en onvoorwaardelike liefde te gee. Kinders val in die geheim, party spring af in die geheim, breek in die geheim en kry in die geheim dit nie reg om hulle lewens te hervat nie. As jy as ouer vir hulle dáár wil wees as hulle val, word ’n veilige persoon deur eerste jou geheime te vertel en jou geheime stryd te deel.

Gebruik die littekens van die valle uit jou eie verlede en vertel jou stories. Die storie van jou heelwording ná ’n val kan jou kind se kaart word om weer sy stukke aanmekaar te sit. Ernest Hemingway het gesê: “The world breaks everyone and afterwards many are stronger at the broken places.”

Laat toe dat die krag wat uit jou eie krake kom, jou kind dra.

Meer oor die skrywer: Hettie Brittz

Hettie Brittz is ’n voormalige spraakterapeut en die outeur van twee ouerskapboeke en die Immergroen Ouerskapkursus. Sy bied landwyd en oorsee praatjies, kursusse en spanbousessies met ’n temperamentfokus aan. Besoek www.immergroenouerskap.co.za waar jy meer wenke oor ouerskap sal kry, asook nog inligting oor Hettie se boeke en kursusse.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.