Hou die kinders en troeteldiere gelukkig in afsondering

Gee jou kind meer verantwoordelikheid vir die versorging van julle troeteldiere, en hou almal gelukkig in afsodnering by die huis. (Foto: Verskaf deur Hill’s Pet Nutrition.)

Hoewel die afsonderingstydperk waar die hele gesin nou 24 uur, sewe dae per week, tuis bly allesbehalwe ideaal is, is dit in werklikheid tans die perfekte tyd om jou kinders meer verantwoordelikheid te gee as dit kom by die versorging van die troeteldiere in die huis.

“Die versorging van ʼn troeteldier is ʼn groot verantwoordelikheid en die take kan nie ligtelik opgeneem word nie. Jy as ouer sal steeds leiding moet verskaf om te verseker dat daar op die regte manier na die huis se diere omgesien word,” sê Carla Bath, bemarkingsbestuurder van Hill’s Pet Nutrition.

Bath sê dit is veral belangrik om ʼn kind se ouderdom in ag te neem wanneer die verantwoordelikhede uitgedeel word.

  • Kleuters en jonger kinders kan nou reeds leer hoe om ʼn troeteldier reg te hanteer en wat aanvaarbaar is vir die huisdiere. “Op hierdie ouderdom weet kinders nie altyd hoe hulle gedrag teenoor ʼn dier deur die troeteldier verstaan word nie, en daarom moet daar altyd toesig van ʼn volwassene wees,” sê Bath.
  • Jonger kinders van vier en vyf is ook nog te jonk om alleen verantwoordelikheid van ʼn troeteldier te aanvaar, maar Bath sê hulle kan beslis al help om die huisdiere kos te gee en hulle waterbakke vol te maak. Kinders van ses tot agt kan help om klein take self te doen soos kosgee, versorging (borsel, kam en bad) en bal gooi. “Help jou kinders om ʼn selfdoenprojek aan te pak waar hulle self tuisgemaakte speelgoed vir julle troeteldiere maak. Jy kan byvoorbeeld ʼn tou deur ʼn leë toiletrolletjie trek, wat vir kat se kind heelwat pret sal verskaf, maar doen dit steeds onder volwasse toesig,” voeg Bath by.
  • Kinders van 12 jaar en ouer kan meer verantwoordelikhede opneem wat gewoonlik met die ouerskap van ʼn viervoetige verbind word. Hulle kan nou reeds met die honde gaan stap en speel, hulle voed en versorg, en die opruimwerk daarna behartig, met minimale toesig van ʼn volwassene.

Bath sê wanneer ʼn kind geleer word om vir ʼn troeteldier te sorg, help dit om ʼn lewenslange band tussen kind en dier te skep.

Gedurende die afsonderingstydperk het kinders meer tyd as voorheen en troeteldiere, wat gewoond was aan ʼn daaglikse stappie, bring nou die grootste deel van hulle tyd binne die huis of ʼn erf deur. Albei benodig dus eintlik meer aandag en stimulering. “Dit is eintlik die perfekte oplossing as kinders en troeteldiere saam tyd kan deurbring.”

Ouer kinders kan die meeste verantwoordelikhede en versorging van troeteldiere oorneem. (Foto: Autri Taheri/Unsplash.)

Bath stel die volgende aktiwiteite voor om jou kinders en troeteldiere te help om te dink en te beweeg:

  • Stimuleer jou hond se brein met ʼn papierbeker-speletjie. Kry drie bekertjies, laat jou kind ʼn lekkerny onder een wegsteek en skuif die papierbekertjies dan rond. Kyk of jou hond steeds die lekkerny kan vind.
  • As jou hondjie nog jonk is, kan almal in die gesin help om die troeteldier eenvoudige opdragte te leer soos “sit” en “poot”. Dit stimuleer jou jong hondjie se brein en gee jou kind ʼn gevoel van prestasie.
  • Laat jou kind vir jou troeteldiere lees. “Dit is ʼn wen-wen-situasie. Dit gee jou tyd om aan te gaan met jou werk, jou kind lees en jou troeteldiere sal beslis die ekstra aandag geniet.”
  • Gooi ʼn klein springballetjie teen die muur vir jou kat sodat hy dit kan probeer vang. Dit sal die kat (en jou kind) ure lank vermaak.
  • Bou vir jou kat of hond ʼn hindernisbaan. “Dit stimuleer jou kind se verbeelding terwyl dit vir vermaak vir ʼn hond of kat sorg.

“Vir ʼn troeteldier gaan dit eintlik net daaroor om tyd deur te bring saam met die mense wat hulle liefhet. En vir die kinders help die take en pret nie net om hulle besig en weg van die skerm te hou nie, maar dit gee hulle ook ʼn gevoel van vervulling, verantwoordelikheid en ʼn ewige band met die mens se beste vriend,” voeg Bath by.

Besoek www.hillspet.co.za/shop-online om Hill’s Science Plan-troeteldierkos te bestel en by jou deur te laat aflewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.