In afsondering met kleuters: Dag een …

Argieffoto (Foto: PublicDomainArchive/Pixabay)

Dis algehele afsondering (“lockdown”) in Suid-Afrika. Die koronavirus het ons gekry. En dis dag een.

Ek is alleen met my twee seuntjies, wat minder as twee jaar verskil van mekaar, by die huis. My man is een van die gelukkige mense wat nog kan werk. Afgesien van die persoonlike risiko, is hy nie vir 21 dae permanent in ʼn huis vasgekeer saam met twee seuntjies met onmenslik baie energie, wat hulle meestal op mekaar uithaal nie.

My dag begin met die klank van twee gillende kinders wat baklei oor of die een ʼn superhero is of nie, in my ore. Nog voor ek my oë oopmaak bid ek sommer die gebed waarvan my ouma my lank gelede grappenderwys vertel het: “Here, gee my asseblief vandag genade en vrede. Nie krag nie, anders slaan ek hulle vandag dood.”

Ek is self nie heeltemal seker of ek dit as humoristies sien vandag of nie … Dit voel of God darem my humorsin verstaan het, want die dag verloop met vrede in my hart ten spyte van die oorloë wat elke nou en dan om my uitbreek.

Ek het my dag al gisteraand beplan soos so baie mense voorgestel het op Facebook. Ek het so 10 aktiwiteite uitgewerk en selfs ʼn skedule wanneer wat moet gebeur. Ons het ook meeste van ons voorafaankope spandeer op versnaperings vir die kinders, so ek voel rustig oor die dag wat voorlê. Teen 10-uur is ons reeds klaar met sewe van die tien aktiwiteite en heel moontlik ʼn derde van die versnaperings. Hierdie dag gaan nie verloop soos ek dit beplan het nie. Ek verstaan nou die grappie wat op Facebook versprei is: ʼn mooi uitgewerkte skedule wat dan doodgekrap is.

Uiteindelik doen ek wat enige desperate ma doen, maar wat ek gewoonlik teen enige koste probeer vermy, en sit my oudste voor die goedkoopste “kinderoppasser” neer – ʼn elektroniese skerm. Ek moet die jongste laat slaap en al hoe ek dit kan regkry is as oudste besig is met iets wat sy aandag vir langer as vyf minute sal hou. Moenie my oordeel nie, maar ek sukkel sonder my nanny.

Uiteindelik het ek ʼn paar minute vir myself en ek probeer alles moontlik indruk wat ek moontlik kan. Skottelgoed was, eet en wasgoed opvou. Ek is seker ek moet in ag geneem word vir die Guinness-rekordboeke.

Ek moet egter dringend aan nog ʼn paar idees dink vir die middag. Gelukkig het ek ook baie kreatiewe vriendinne wat kan help. Tussen middagete eet, karretjies speel, en ons trampolien, verloop die middag darem vinnig en hulle speel eintlik wonder bo wonder so lekker saam. Ek is amper seker ek het die Hallelujakoor gehoor, tot die begin van die 39ste gesinsoorlog deur boetie wat nie die speletjie wil speel wat Ouboet voorstel op die trampolien nie.

Vuiste word geswaai en hierdie keer word selfs bene ingespan. Ek trek albei uit die trampolien en laat hulle op stoele sit. Hoe het die vrede en lekker saamspeel van ʼn paar minute gelede tot hier gekom, wil ek weet. Oudste erken openhartig dat hulle nie eintlik meer wil saamspeel nie.

Ek aanvaar dit en stel voor dat elkeen van hulle nou in hulle eie kamers gaan speel of boeke deurblaai. Dit hou vyf minute voordat ek hulle weer saam vind.

My amper-vierjarige het twee lepels vir hulle elk uit die laai gehaal en saam marsjeer hulle deur die huis terwyl hulle op hulle lepeldromme speel en my oudste die opgemaakte lirieke voorsing: “Boetie, I don’t like you and I don’t want to play with you…” Tweejarige Boetie speel na hartelus saam op hulle lepelorkes, geen idee wat sy boetie eintlik insinueer nie. Maar vir een of ander duistere rede bring die ongewone lied hulle weer saam en word die eenheid weer hernu.

Die lied kom tot ʼn einde. Ek prys hulle vir die goeie gedrag, dat almal nou weer gelukkig is en of hulle nog gaan musiek maak vir my? Instemmend word daar geknik en ek vra of dit hierdie keer gaan gaan oor hoe lief hulle vir mekaar is? Dit was seker bietjie te veel gevra. Nee. Oudste se nuwe lirieke gaan al hoe meer suid… “Ek wil nie met Boetie speel nie, en hy wil nie met my speel nie. En Pappa wil nie met Mamma speel nie en Mamma wil nie met Pappa speel nie.”

Die vrede van ʼn paar oomblikke gelede het ʼn stille dood gesterf en die 40ste gesinsoorlog vir die dag begin om 15:48. Kleinboet is aan die kant van die ouers, en sy argument sluit in dat Pappa en Mamma wel met mekaar wil speel, en Ouboet voel duidelik nie so positief oor sy ouers se verhouding nie.

Maar ná ʼn bietjie alleentyd van mekaar in verskillende kamers – hulle gesigsuitdrukkings laat my voel of ek hulle in konsentrasiekampe gesit het – is die hoeveelste vredesooreenkoms gesluit.

Die res van die middag verloop gelukkig sonder enige bloederige voorvalle. Ek is egter uitgeput ge-“skeidsregter” teen die tyd wat Pappa uiteindelik by die huis kom, en ek val hom dankbaar om die hals. Ek voel of ek ʼn marathon gehardloop het. Môre begin ons weer van voor…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Colani

Wag tot dat jy met 4 meisiekinders sit en ñ man wat nie geduld het nie dis dag 4 om tedink ek moet nog 17dae uit hou ek gaan malhuis toe gaan glo my.