Instagram sit voet neer oor gewigsverlies advertensies

Jameela Jamil (Foto: Instagram)

Instagram het pas aangekondig dat plasings wat gewigsverlies-produkte en kosmetiese prosedures adverteer, van nou af beperk sal word. Sekere plasings sal weggesteek word vir kinders jonger as 18, terwyl ander heeltemal van Instagram en Facebook af verwyder sal word.

Dít kom na aktrise en liggaamspositiwiteitsaktivis Jameela Jamil druk op die sosialemediaplatform begin plaas het met die stigting van die I Weigh-beweging. “I Weigh gaan oor radikale inklusiwiteit, sodat niemand alleen voel nie,” lui hul profielbeskrywing op Instagram. Dié platform plaas gereeld boodskappe van inklusiwiteit oor verskeie onderwerpe, onder andere gewig, ras, seksualiteit en voorkoms.

Jamil, wat self vroeër in haar lewe aan ʼn eetstoornis gely het, was ook op haar eie profiel al baie uitgesproke oor bekendes wat “dieet‑ en detoksprodukte” op Instagram adverteer.

“Moenie verdagte poeiers oor die internet koop nie. Dit gaan jou nie maer maak nie. Dit gaan eerder veroorsaak dat jy jou broek vuil maak. Dit is al. Sê net nee,” skryf sy in een plasing. Sy het veral druk geplaas op bekendes soos Kylie Jenner, Khloé Kardashian en Kim Kardashian West wat daarvoor bekend is om dié produkte te adverteer.

Khloé Kardashian (Foto: Instagram)

Instagram het gesê die nuwe beleid is ʼn direkte reaksie op beïnvloeders en bekendes wat dieet-tee, aanvullings en sekere kosmetiese prosedures op die platform adverteer. Hulle het gesê beïnvloeders het oor die jare meer gereeld gewigsverliesprodukte of-dienste aan ʼn jong, vatbare gehoor begin adverteer.

“Ons wil hê Instagram moet ʼn positiewe plek wees vir almal wat dit gebruik en hierdie beleid is deel van ons voortdurende poging om die druk wat mense van sosiale media af voel, te verlig,” het Instagram se beleidsbestuurder, Emma Collins, in ʼn verklaring gesê.

Plasings wat mense “aanmoedig om te koop of ʼn prys insluit” sal volgens ouderdom beperk word, terwyl plasings wat “wonderbaarlike beloftes oor sekere diëte of gewigsverliesprodukte” en wat ʼn afslagkode bied indien iemand dit wil koop, heeltemal verwyder sal word volgens die nuwe beleid.

Instagram het ook nuwe maniere bekendgestel oor hoe om plasings wat nie aan die nuwe beleid voldoen nie, te rapporteer. Gebruikers kan nou dié plasings rapporteer, wat dan deur ʼn span hersien sal word om vas te stel of die nuwe reëls oortree word.

https://www.instagram.com/p/Bl4G0hbgC78/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Unfollow ·

Ek het tot en met gister AL die Kardashians gevolg op Instagram… Ek het gisteraand toevallig voor ek gaan slaap het hulle ALMAL unfollow… Jongmense voel klaar so sleg oor hulle self… En dan moet mens nou nog aan dit ook vaskyk heeltyd

Michelle ·

‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. Maar beheptheid met gewig in my opinie is ongesond. Selfbehepteid, egoisme en die Kardashians se doen en late staan my glad nie aan nie. Well done Instagram.

Schalla ·

Ek persoonlik sien niks fout daarmee om jou beste te lyk nie. Mooi was nog altyd mooi. Soos met alles, probeer die denke-polisie mense se gedagtes polisieer. Volgende wat jy weet gaan hulle advertensies wat Rooibos en sy gesondheidsvoordele adverteer verbied want iemand gaan besluit dis taboe. Adverteer, verbruikers self kan besluit of hulle ‘n produk wil gebruik of nie. Dit bly nogsteeds tot enige mens se voordeel om fiks en gesond te wees, dit gaan nie net oor looks nie. 20 jaar van nou af wanneer alle kinders te dik is om uit die bed op te staan sal iemand dalk wakker skrik en besef dat 20 jaar terug toe ons maer-word en ander fiksheids-advertensies verban het, moes ons dalk twee keer gedink het voor ons vir ander mense probeer dink en besluit het wat mag en wat mag nie….

Naj ·

Dit gaan glad nie oor fiksheid-advertensies nie, maar oor meds, “shakes” en sulke produkte wat gewoonlik vol hormones en chemiese goed is. Die probleem is dat mense doen sulke goed wat nie gesond is nie, om soos n photoshop barbie te lyk. Dis dan sleg vir die liggaam en kop.

Stof ·

Soos wat ek hier sit en tik op my foon waar dit rus op my boereboggel, het ek al vrede gemaak met my komieklike figuurtjie. Minstens is dit gesond en stabiel waar dit is.
Soveel mense smag na idiliese fiksie-figure. Die oomblik as jy egter vrede maak met jou aardse dimensie ook, word jy sommer ook ‘n gelukkige mens, sonder dat jy hoef te disintegreer oor sosiale druk.

Bre Mercer ·

Dank die Vader!!! want een van die dae hardloop al wat n meisiekind is op stokkies rond. Hierdie verslankingsmiddels advertensies het vir my tot in die afgrond in geirreteer. Net so tussen hakkies… ek het nie n gewigsprobleem nie maar hierdie advertensies is misleidend.

Melis ·

Ek het rukkie terug n artikel gelees wat se gesonde n leefstyl bepaal wat jy in jou kombuis het.

Ek dink egter wat die tiepe advertensies misleidend maak is dat baie van die bekendes persoonlike afrigters ens het.Jy gaan dus nie net n plat maag kry van n sekere tee drink nie maar ook reg eet en oefen.*

:)

Praat uit ondervinding ·

GEEN maar GEEN “fat burner” of “shake” kan die werk vir jou doen nie. Dit gaan alles oor die regte eetgewoontes aan te leer en aktief te wees al gaan stap jy net met die hond, minder stysel en suiker en “viola”, daar verloor jy die ekstra vetjies en hou dit sommer af. Om goed te lyk is ‘n leefstyl en nie ‘n “quick fix” nie.
So bly hierdie nonsens gaan nou minder adverteer word. Almal wat dit doen is elkgeval “gephotoshop”

Vreetsaam ·

Kan dit nie asb ook op facbook verbied word. Liewe land almal weet shakes en pille is net geldmaak foefies. As jy wil sal jy gewig verloor deur net jou leefwyse en eetgewoontes drasties te verander nie met pille en en allerhande gemors nie man. Dis net ‘n tydelike oplossing en ja, ek weet waarvan ek praat deur duuuuur lesse wat ek in my jongdae self geleer het tot ek die regte ding gedoen het.

Pippa ·

Dit klink uitstekend. Ek wonder nou net wanneer instagram die half naak foto’s wat sommige mense paas… ook gaan beperk…en nee ek is nie uit die oude toet nie…party van daai foto’s laat net veel te wense oor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.