Is daar ʼn titel wat groter verantwoordelikheid inhou as “ouer”?

Foto: Shlomaster/Pixabay.com

Deur René Basson, Bemarkingsdirekteur: Intiem-tydskrif

Om lewe te gee, bly ʼn wonderwerk. Dit verander ook jou persepsie van liefde en sorg – vir altyd. ’n Mens wonder dikwels of so baie kinders verwek sou word indien ouers werklik die verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan vooraf sou besef.

Die meeste regdenkende volwassenes wil die beste ouers vir hul kinders wees, of so reken ons. Tog het die nuus die afgelope maande gereeld berig oor die mishandeling en verwaarlosing van weerlose kinders, onwelvoeglike blootstelling en selfs die “weggooi” en ontvoering van ʼn eie baba.

Die feit is egter dat dit gebeur in gemeenskappe waarin goeie, regdenkende mense woon. Dis haas ondenkbaar dat enige vrou haar dag oue suigeling soos ʼn lappop op ʼn ashoop weggooi! Of dat ʼn man wat moet beskerm juis aanrand, verniel, verwoes. Dit laat mens stom van magtelose ontsteltenis.

Hierdie uiterste gevalle is ongelukkig nuuswaardig vanweë die brutaliteit, die onmenslikheid en die feit dat dit sosiaal onaanvaarbaar is. In geen gemeenskap mag sulke optrede ooit verskoon word nie, ongeag die rede of verweer.

Maar helaas is daar in die meeste gesonde gemeenskappe sogenaamde “normale” ouerhuise waar kinders op minder sigbare maniere ly. ʼn Kind wat voortdurend blootgestel word aan ouers wat nie in liefde en vrede kan saamleef nie, ʼn kind wat voorwaardelik, op grond van prestasie of gedrag, liefde bewys word; ʼn kind wat net materiële liefde ken omdat ouers emosioneel en/of fisiek afwesig is. Wat is dit anders as mishandeling? Selfs ʼn gebrek aan reëls, dissipline en opvoeding met grense ontneem ʼn kind die sekuriteit van ʼn veilige omgewing.

Kinders wat binne die raamwerk van reëls, respek en dissipline grootword, ken die veiligheid binne daardie grense. Kinders is geen ouer se besitting nie – hulle word net vir ons geleen. Geen kind mag ooit ʼn pion wees in ʼn magstryd tussen ouers nie.

Is jy ʼn ouer? Hoe lyk die vrug van jou opvoeding? Die grootste vreugde van ouerskap is om met jou volwasse kinders ʼn vriendskap te deel, gebou op jare lange respek, vertroue, liefde, aanvaarding en herinneringe om ʼn leeftyd te hou. Indien enige aanpassings gemaak moet word om hierdie vreugde te ken, is daar geen beter tyd as NOU, want ouerskap is ʼn voorreg en vreugde, nie ʼn reg en straf nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Naam ·

Ja, n goeie stiefma/pa, een wat iemand anders se kind groot maak en liefhet soos sy/haar eie. Stief Ouer

Griet ·

Opstkrif sê ‘groter’ verantwoordelikheid… Skryf jy hier as Stief Ouer of Stief Kind? Indien jy skryf as Stief Kind dan is dit wonderlik dat jy soveel liefde en agting vir jou Stief Ouer het. Indien jy skryf as Stief Ouer dan ag jy jouself dalk hoër as wat jy behoort te doen. Nederigheid was nog altyd ‘n goeie eienskap. Maar dis steeds wonderlik dat jy as Stief Ouer nog steeds besef dat jy ‘n groot verantwoordelikheid het teenoor jou Stief Kind.

Ekke ·

Pragtig gestel. Ek bly my kinders se pa en nie hul pel nie. Alles net reg leef en genade gan Bo.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.