Is dit regtig só moeilik om die regte besluit op ’n Sondag te maak?

Foto ter illustrasie. Argieffoto.

Gestel jou kind het die geleentheid gehad om provinsiale kleure, of selfs nasionale kleure of ʼn Olimpiese medalje te kry vir ʼn spesifieke item waarvoor hy of sy geen uitsonderlike sporttalent nodig sou hê nie. Die enigste vereiste om hiervoor te kwalifiseer is passie en liefde en ongeveer twee tot drie ure per week se aktiewe “oefening” van hierdie passie en liefde. Sou jy belangstel?

My 13-jarige seuntjie vra nou die dag vir my: “Mamma, hoekom is die regte besluit so moeilik?” In sy besonderse insig, verwys hy na die feit dat sy aksiekrieketspan die Sondag in die finaal van die klubkampioenskap speel, maar ongelukkig is die wedstryd geskeduleer in dieselfde tyd wat hy graag kerk en katkisasie wil bywoon. Hy wil speel vir sy medalje, maar belangriker nog, hy wil nie sy span in die steek laat nie, want dis wat hy gaan doen as hy nie vir die betrokke wedstryd opdaag nie. Maar hý besluit dat kerk eerste kom. Die Gauteng-Noord-proewe vir dieselfde sport vind ook op ʼn Sondag plaas. My seun lig sy skouers in ʼn ongeërgde wyse en sê: “Dan is dit nie belangrik nie.”

Die hartseer hiervan is dat ons as ouers soms self die sondebokke is wat aktiwiteite bo kerk en godsdiens plaas. Ons hou partytjies en ontbyte op Sondagoggende want Saterdae is net vir almal te besig. Ons doen nie meer huisgodsdiens nie, want die program op TV is interessanter, of ons is net te moeg. Wanneer rus jy? Wanneer dwing jy jouself om tot verhaal te kom? Dit beteken nie dat jy jouself en jou kinders Sondae na kerk in die huis moet toesluit omdat jy niks mag doen nie. Sondae is “recharge”-dae. Dae wat ons rustig mag wees. Dae wat ons tyd met ons mense en aan onsself moet spandeer. Dis vir ons gegee as rusdag. Rus ons regtig meer as ons van een aktiwiteit na die volgende langs die sportveld jaag? Rus ons as ons Sondae worstel met huiswerk waarvoor ons nie Saterdag tyd gehad het nie? Rus ons as ons kruideniersware gaan koop en in lang rye by die winkel staan? Wanneer rus ons kinders? Familie en kerk is my rustyd.

My seun se afrigter vra geïrriteerd vir hom: “Wil jou ma jou nie maar eerder Sondagaand kerk toe vat nie?” Is dit reg? Is spesiale kleure of ʼn medalje in verganklike wêreldse aktiwiteite belangriker as die ewige kleure van ons kinders se siele? Ons kritiseer die kerk se inmenging in ons persoonlike lewens, maar kritiseer ons die kerkgebou, of die “oumense” wat nie besef hoe besig ons skedules is nie, of die dominee… of kritiseer ons God se inmenging in ons lewens? Ons leef ons sterkpunte en talente uit (waar kom hierdie talente vandaan?) en geniet die lewe want dis so kort. Ja, dit ís kort.

Dit is hartseer dat ons kinders moet “kies” tussen reg en verkeerd en die mense wat hulle in hierdie posisie plaas is ons, die ouers. Ons probeer vir ons kinders net die beste gee, maar wat is die beste? Ek onthou, nie te lank terug nie, het ʼn sekere Springbok-rugbyspan geweier om op ʼn Sondag ʼn wedstryd te speel. Daar was ʼn geweldige bohaai en vandag is dit nie meer die geval nie. In ʼn land waar ons glo in godsdiensvryheid, is dit interessant dat juis GODsdiens die duurste prys moet betaal. En ons betaal dit met ʼn glimlag op ons gesigte. Want dit is die prys wat ons bereid is om vir ons kinders se siele te betaal.

Meer oor die skrywer: Marisa Engelbrecht

Marisa Engelbrecht se liefde vir skryf het op skool reeds posgevat. Sy skryf graag oor dit wat haar na aan die hart lê en vind inspirasie in die alledaagse doen en late van haar hartsmense. Sy het bykans 20 jaar ondervinding in kommunikasie, skakelwese, bemarking en joernalistiek.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

christa ·

Die Woord se duidelik dat een dag ‘n week moet jy aan jou Here afstaan. Ses ander dae is joune om daarmee te maak wat jy wil. Sondae is daarvoor geskeduleer om ‘n eenheid te vorm. Sondae is my dag van aanbidding saam met ander gelowiges. Ek ry elke Sondag 60km kerk toe en nog nooit het ek daarteen opgesien nie. Hoeveel onverdiende seeninge ontvang ons elke oomblik van die dag, kan ons regtig nie een daggie aan Hom afstaan nie. Ek weet nie hoekom daar hoegenaamd sport op Sondae beoeffen word nie.

Wollie ·

Die Kerk!!!!! Lol, mense sit die pot mis!!!! die Kerk kom nie eerste nie, YAHWEH kom eerste. Wane gaan die mense besef die “kerk” gaan hulle nog mislei. Keer trug na YAHWEH en los die wereld se dinge!

Michelle ·

Ek dink die punt van die skrywe word gemis.
Die skrywer is reg, en dit is hartseer dat ons so maklik inval en die dinge aanvaar as korrek in die naam van gemak/politieke korrektheid/ sogenaamde modernisme. Hoe maklik is dit nie om ook gou by die winkels in te val Sondag na kerk nie, kar te was, werk en huiswerk te doen.

Dawid ·

Dit is altyd so intresant om die goed te lees. dit is altyd kerk en godsdiens. maar waar is GOD. Jy kan n afgod maak van kerk en godsdiens en jy sal God nie daar vind nie. Die kerk(Rooms) het gesê: Die Sabbat SAL sondag wees soos meeste van ons geleer het. Maar strook dit met GOD se will? God se Sabbat SAL altyd op n Saterdag wees. maak nie saak wat die kerk of mense dink nie. God het dit so ingestel en ons as mense het nie die reg om vir God te se, Ons sal n dag kies. Daar is te Veel EK en MY in ons christelike verloof.

Boerboel ·

Hoe weet ons dis op n Saterdag, omdat die Joode so se? Hoe is hulle so seker. Dit maak in elk geval nie saak nie solank ons ses dae werk en op die sewende dag die Sabbat heilig.

RB ·

Ek stem saam oor Sondae! maar wil net noem dat Krieket (enige soort) nie ‘n maklike sport is nie, en 2-3 ure per week gaan mens nie outomaties uitstekend maak nie. Dit klink of jy sê dat jou seun nie talent het nie. Dit is natuurlik nie die hele storie nie, maar wees versigtig wat jy sê.

Want ·

Ek dink jy verstaan die skrywer verkeerd. Die inleiding verwys nie na krieket nie. Dit verwys na die tyd wat jy jou kind toelaat om kerk by te woon. Dus het dit niks met die kind se talent te doen nie.

thelsa ·

Waar kom die gebruik vandaan dat Sondag die rusdag is ? Enige dag van die week kan mos die rusdag wees. Enige dag van die week kan gebruik word vir die beoefening van godsdiensaktiwiteite. Daar is nêrens in die Skrif enige verwysing na ‘n Sondag waar daar kerkbywoning of iets dergelyks moet wees nie. Katkisasie is ook geen voorvereiste om hemel toe te gaan nie. Dis ‘n kerklike instelling. Ek vind niks fout met katkisasie nie maar . . kom ons dink weer asb.

Louis ·

Is seker so. Is jou rusdag dan Saterdag?
Ek vind dit vreemd dat jy teen katkisasie is? Wil jy nie dat jou kind so veel moontlik van die Here leer nie?

Elaine ·

My dogter het ook met die redenasie gekom dat jy enige dat kan rus! Toe vra ek haar maar water dag in haar week het sy gerus… en die week voor dit en die week voor dit? Ek wag jou nog vir n antwoord!!

Chris Ws ·

Die Sabbat is SATERDAG en nie Sondag nie!Ek is 100% saam met jou Wollie!Die kerke mislei mense net.Keer terug na YaHWeH!

Louis ·

Jy gebruik die Here se naam ydel. Kyk maar na die Onse Vader. Daar word die Here se naam nie een keer nie. Hierdie nuwe gebruik om die Here sommer familiêr aan te spreek is ‘n onding.jy

Anoniem ·

Ek wens alle winkels was toe op ‘n Sondag, sodat die winkels se werknemers darem een dag van die week by hul gesinne kan spandeer. Hopelik kan dit die vlak van moraliteit in die sameleweing lig.

Huisvrou ·

Marisa,
Dankie dat jy dit verwoord. Dit is presies hoe dit is. Ons kinders het al nee gesê vir swem, vir baie perdry en perdspringkompetisies. Genadiglik was al hul gimnastiekkompetisies nog op weeksdae.

Ek is ongemaklik met skole wat ons kinders se vrye tyd ook as onder húl beheer sien. Hoe vakansies en naweke, Sondae by name, opgeslurp word in skoolaktiwiteite. En ek beaam wat boeta sê: Hoekom is dit so moeilik?

Nee, nee vir enige iets wat my kosbare ontmoeting met my Skepper in die gemeenskap van heiliges bedreig.

Louis ·

Wollie. Jy gebruik die Here se naam ydel. Kyk maar gerus na die Onse Vader se woorde. Nerens word die Here se naam gebruik nie. Jy gaan met die Here se naam op ‘n familiêre manier om.
Die kerk is juis nie werelds nie , dit is die Here se eiendom. Oppas dat jy nie die Here se kinders bespot nie.
Verder. Waaroor gaan die sport op ‘n Sondag werklik? Dit is om iets in die plek van God te stel. Pleks om die Here te dien (op watter weeksdag ookal volgens jou geloof) gaan die mense eerder sport toe.

Cato ·

Baie dankie anoniem waardeer dit. Ek gaan nou beslis bietjie meer daaroor lees.

Hannes Jordaan ·

Almal wat dink dat die kerk mense gaan verlei, ek wil verskil. Dit is n veralgemening. Indien jy dink dat die kerk n dwaalleer is, gaan meet dit aan die 3 eienskappe van n ware kerk, soos opgeteken in die Heidelbergse Kategismus: Suiwer woordverkondiging
Bediening van die formuliere
Toepassing van die tug.

Indien jy nog steeds dink dat die “kerk” jou gaan mislei, maak ‘n draai by die AP kerk. Ons het n ouderlingraad wat moet verseker dat die dominee nie dwaallere verkondig nie.

BR ·

Om die naam JAHWEH as verhewe te beskou sal jou nie in hemel bring nie.

Ania ·

Dankie vir jou skrywe.

Nadat ek die kommentaar gelees het kan ek nie help om aan pêrels en varke te dink nie…

Piet ·

Ons Vader is rigied. As Hy sê die sewende dag dan bedoel Hy letterlik die sewende dag en beslis nie enige dag van die week nie. Sondae is die eerste dag van die week reg van die begin af. Op die sabbat mag daar absoluut niks gedoen word nie, nie eers kerk toe gaan nie! Daar is egter bitter min van ons wat dit kan nakom, so feitlik almal van ons verbreek hierdie gebod weekliks. Net so ook van die ander 10 gebooie. Indien ons een gebod van die wet verbreek, het ons die hele wet verbreek. Jesus se woorde.

Frans ·

Daar is net een dag wat die Here heilig verklaar het en dit is die Sabbat. God het dit met Sy vinger op die kliptafels geskrywe wat beteken dat dit vir ewig is. Lees Jes 66:23 wat sê dat die Sabbat tot in die nuwe hemel en aarde sal voortgaan. Ons kan nie enige dag kies nie want net een dag is geheilig. Ja, ons moet God elke dag dien maar die Sabbat is verskillend van die ander dae waarop jy nie jou gewone gang gaan deur te werk en geld te spandeer nie. Sien Jes 58:13-14 In Mat 5:18 sê Jesus dat nie een jota of titteltjie van die wet ooit sal verbygaan todat alles gebeur het nie. Lees Heb 4 wat sê dat daar nie van ń ander dag gepraat word nie. Dit is huidiglik die grootste misleiding vir die christene omdat die saterdag na sondag geskuif is deur die roomse kerk. Openbaring 22:14 sê in die 33/53 vertaling: Hier is hulle wat die gebooie onderhou en die getuienis van Jesus Christus het. Dus is die gebooie uiters belangrik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.