Is graad R belangrik?

child-865116_640.jpg

Foto: pixabay.com

Danielle Barfoot

Gaan jou kleuter vir nog ’n jaar in die kleuterskool of tuis bly, of moet jy hom ter voorbereiding vir die “groot” skool vir graad R inskryf?

In Suid-Afrika is graad R nie verpligtend nie*, en navorsers aan die Universiteit Stellenbosch het ook bevind dat dit nie noodwendig vir kinders so ’n groot akademiese voorsprong bied soos voorheen geglo is nie. Tog meen kenners dat graad R ’n noodsaaklike grondslag vir die res van ’n kind se skoolloopbaan vorm.

Graad R dien as voorbereidingsjaar vir graad 1 (kinders raak gewoond aan die skoolomgewing, -roetine en -verwagtinge) en onderrig word in kinders se huistaal, wiskunde en lewensvaardighede gebied. Dit is egter minder formeel as graad 1, en die klem word gelê op leer deur spel – taalvaardighede word ontwikkel deur rympies op te sê, liedjies te sing en stories te vertel, wiskundige konsepte word met behulp van blokkies aangeleer, en legkaartbou moedig probleemoplossing aan.

Dié graad berei egter kleingoed ook op verskeie ander vlakke voor, en help speel-speel met die ontwikkeling van ’n reeks noodsaaklike vaardighede, insluitend:

  • Selfhelpvaardighede: Kinders leer om selfstandig te wees, bv. om self hul skoene aan te trek of op hul eie badkamer toe te gaan.
  • Sosiale vaardighede: Kinders leer hoe om in ’n groter groep te funksioneer, asook watter gedrag aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. Hulle leer ook van leierskap, verdraagsaamheid en beurtspel.
  • Emosionele vaardighede: Selfvertroue word ontwikkel en kinders leer hoe om hul emosies te beheer.
  • Luistervaardighede: Kinders leer om na ander te luister sonder om te onderbreek, asook om korrek op opdragte te reageer.
  • Fyn motoriese vaardighede: Verf, knip, ryg en krabbel help om kinders se vaardighede te ontwikkel.
  • Groot motoriese vaardighede: Om ’n bal te skop, in die sandput te speel of op die klimraam te klouter dra alles by tot liggaamlike ontwikkeling en bewustheid.
  • Konsentrasievaardighede: Kinders leer stelselmatig om vir langer tydperke te konsentreer.

Elke kind is uniek, en dit bly ouers se prerogatief om hul kind vir graad R in te skryf (al dan nie). Kenners meen egter dat ouers die groter prentjie in ag moet neem voordat hulle daarteen besluit, want graad R berei kleuters nie net voor vir graad 1 nie, dit rus hulle ook toe met die boublokke vir lewenslange leer.

* ’n Beleidsdokument om graad R verpligtend te maak is in 2013 aanvaar. Na verwagting sal dit teen 2019 in werking tree.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.